Die nou reeds holruggeryde kommentaar oor Prof Jansen se uitlatings ten opsigte van Engels as moedertaalonderrig laat my wonder oor die mens se beskouing van ons doel op aarde. Is ons hier om ? oorlog te veg ter bevordering en beskerming van slegs die kultuurgroep waaraan ons behoort of het ons straks ook ? hoër doel naamlik om ? bydrae te lewer tot die ontwikkeling van die menslike spesie. Dit is tog al bewys – hoe hoër ? samelewing se vlak van ontwikkeling hoe meer vooruitstrewend is die gemeenskap wat weer ekonomiese voordele inhou vir die land.
My hart stem saam met navorsing wat toon dat moedertaalonderrig die beste is vir veral die opleiding van ons jong leerders in Gr R tot 3, maar in my beroep word ek daagliks gekonfronteer met die onderrig wat in ons skole gegee word (of eerder gepleeg word!). Die gedagte aan nog ? verlore generasie as gevolg van die beperkte kennis en onderrigvermoëns van Grondslagfase-onderwysers – selfs na voltooiing van ? basiese kwalifikasie – laat my snags wakker lê. Hierdie onderwysers is meestal werksaam in skole waar die armstes van die armes se grondslag gelê moet word vir ? beter toekoms – onderwysers wat dikwels nie eens die verskil tussen vermenigvuldiging en deling verstaan nie en dus hierdie basiese kennis nie in Engels óf die moedertaal sal kan oordra nie.
My verstand stem dus saam met Prof JJ – gebruik Engels vir onderrig maar op ? manier wat werklik die nodige verskil in ons kinders en ons land se toekoms sal maak – sonder korrupsie en met slimmer besteding. Deur die miljoene rande wat jaarliks spandeer word om al die amptelike landstale in skole te akkommodeer (vertaling en druk van onderrig-leermateriaal, kurrikulum, beleidsdokumente in 11 tale), eerder in die vroeë kinderontwikkelingsfase te belê, sal elke kind optimaal gereed wees om hul formele kwaliteit skoolloopbaan in Engels te begin. Hans Pienaar (Beeld, 9 Oktober) vra seker nou: Wie gaan die Engelse onderrig verskaf? Gebruik fondse vanaf die privaatsektor sowel as vermorste belastinggeld om ? interaktiewe witbord in elke klaskamer te installeer. Ekspert onderwysers word geselekteer om kurrikuluminhoud via die witborde aan te bied wat na die verskeie grade uitgesaai word. Klasonderwysers moet ook verplig word om teenwoordig te wees gedurende hierdie sessies. Kameras wat in samehang met die witborde gebruik word sal sommer verseker dat onderwysers se teenwoordigheid in die klaskamer gemonitor word en ? nasionale rooster sal vereis dat volle skoolure benut word. So ? stelsel sal sommer ook terselfdertyd aan ongekwalifiseerde of swak onderwysers indiens-opleiding verskaf wat weer duisende rande sal spaar wat elke jaar aan nuttelose onderwys-werkswinkels bestee word.
Onderwysers word opgelei om ná die aanbieding op te tree as fasiliteerders wat leerders bystaan in die toepassing van die nuwe leerinhoud. Leerdertake moet vooraf deur onderwyskundiges uitgewerk word en ook gedurende die witbordsessies verduidelik word om seker ta maak alle leerders kry blootstelling aan presies dieselfde leerervarings. ? Rekenaargebaseerde differensiasieplan, wat aansluit by die kurrikulum, kan verder ontwikkel word om aan sterker leerders meer uitdagende aktiwiteite en sukkelende leerders meer ondersteunende aktiwiteit deur middel van rekenaarprogramme te bied. Rekenaars kan verder aangewend word vir formatiewe assessering waar leerders meermale ? elektroniese vraestel kan ‘skryf’ totdat die uitkomste bereik is. Summatiewe assessering (formele eksamens) sal dan slegs dien as verifiëring van die formatiewe punt wat deur die rekenaar vir elke leerder bereken word. Waar “etieslose” onderwysers dan wel nog toegelaat sou word om te staak, kan tydelike fasiliteerders maklik instaan om kontinuïteit vir leerders te verseker.
Interaktiewe witborde word reeds met toenemende sukses gebruik vir onderrig in skole deur Mpumalanga se Departement van Onderwys asook deur die NWU se Eenheid vir Afstandsleer vir die opleiding van onderwysers. Indien so ? stelsel uitgebrei word na alle skole sal ons twee vlieë met een ‘klas’ doodslaan en kan alle leerders ten minste dieselfde geleentheid tot kwaliteit onderrig gegun word.
Bekommerde onderwyser (Potchefstroom)


Kommentaar
Baie dankie vir hierdie brief en die insig wat dit bied - dit was baie waardevol.