Ten spyte van die belese kommentare en resensies wat Leon van Nierop elke Vrydag smôrens vroeg op die draadloos doen, kry ons gesin dit steeds reg om net twee of drie keer per jaar te gaan fliek. En dan ook nie so gereeld in die winter nie.
Die herlewing en amperse nuutgevonde waarde van Suid-Afrikaanse rolprente het moontlik ook iets hiermee te make. Die laaste klompie bioskoopbesoeke was juis aan die lekkerkyk Afrikaanse rolprente te danke; flieks met ’n resep wat herhaalbaar is sonder om hul unieke smaak te verloor.
Verlede Vrydagaand was dit weer sulke tyd. ’n Gedeeltelike Afrikaanse rolprent met ’n eenvoudige, maar bindende intrige en mooi mense wat die doek versier was op ons flieklys.
Die bonkige opsomming en storielyn is: ’n Man en ’n meisie gaan trou en die beste vriend van die bruidegom reël die troue. Die prag wynplaas is die verhoog en die gaste die inkleding. Alles wat ’n dikwielfiets se speke kan laat breek of die ergste verlorenheid wat ’n dramaturg kan opdiep, gebeur egter wel; die troue-onthaal kantel van die dra-rak af en val in die stofpad. Die bruid twyfel en trippel op die rug van ’n perd weg, die bruidegom verkul haar met die onthaalsanger en die beste vriend, wat meer as genoeg skade nalaat en pad vat, eindig met die bruid en ons elkeen stap met ’n warm hart en temlose glimlag by die teater uit. Ek hou van sulke goedvoel-flieke.
Wat egter meer opvallend en steurend was as die hier-en-daar swak kamera-skote en taalgebruik, is ons fliekgangers se irriterende en genadeloos verskillende aanvoeling vir wat werklik snaaks is. In sekere sketse in die rolprent lag die meeste mense vir ’n beeld wat eintlik hartseer behoort te wees. Onwillekeurig het my aandag die afleiding na ’n wonder-vraag geneem: Kan die uitkyk wat my ervaringsveld se invloed meegebring het, dan soveel meer tragies as die meeste ander s’n wees? Of, raak ons mensies dalk so verwesters dat iemand ’n opdragkaart moet flits om die lag-, sug- en giggel-oomblikke toe te lug?
Dit herinner my aan ons destydse laerskool-onderwyser, Mnr Andre Barnard. Hierdie gebore-om-om-te-gee leerkrag het heel waarskynlik die grootste invloed op my voor-tienerjare se beredeneringsvermoë en -denke gehad. (Alhoewel ek dit eers in jare later se nadenking behoorlik sou verstaan.)Sonder om hierdie skrywe in ’n lofsang vir ’n ander te laat verander, sou my dag sout smaak indien die erkenning agterweë moes bly.
In 1980 het ek vir die eerste keer ’n werklike teater besoek. Die destydse Nico Malan in Kaapstad. Ons standerd vyf klas het die Barbier van Sevilla op die planke gaan kyk. Mensig, ek onthou daai melodieë soms vandag nog. Amper soos die woorde van ons musiekblyspel daardie jaar, Joseph. Al was ek die skaamsste van die Josef-broers en het ek eintlik net die verhoog help volmaak, is die herinnering van om daar te kon wees meer werd as sommige van my later jare se salaristjeks. 1980 was vir baie van ons ’n kulturele waterskeiding. Ons het ook met ’n klas-uitstappie na die eerste vertoning van The Gods must be Crazy in die bioskoop gaan kyk. Die intense invloed van ’n glasbottel en die tonele waarin ’n liefdevolle Boesmangesin se dae daardeur befoeter word, was vir ons as kinders en omtrent al die volwassenes in die bioskoop baie snaaks. Tot ons later saam in die bus terug skool toe gery het en Mnr. Barnard die hartseer invloed van hierdie vreemde indringer op die vredevolle mense kon uitlug. Meer nog, hoe jammerlik dit was dat so min mense die tragedie in die fliek ter wille van komiese vermaak wou raaksien. Dít was stof tot denke.
Terug by die hede en ná die Vrydagaandfliek spook die herinnering by my dat die fliekvlooie geskater het toe die gelyktydige skurk en held van die fliek al hoe dronker en dronker op die onthaalverhoog sy seremoniemeestertoespraak probeer lewer het. Hoe almal gekrul het van die lag toe hy, ’n selferkende alkoholis en spanningsdrinker, hulpeloos oor sy woorde gestruikel en pateties sy ewewig verloor het. Hoe hy die volgende oggend vuil en bedremmeld in ’n wingerd wakker geword het. Hoe jonk en oud gedink het dat dit snaaks is!
Genade tog, is die grysgebiedewet in ’n misvormde nuwe gedaante weer terug? Het ons die onderskeidingvermoë tussen wat moreel kwetsend en wat opbouend komies is dan só laat ondertrou dat daar net een grys dik massa van alles-aanvaarding daaruit gebore kon word?
Die stroping van ’n ander mens se waardigheid, al is dit die vrug van sy eie late en al word dit deur die oog van ’n kamera gebeeldsend, moet tog onmiskenbaar bly wat dit is; hartroerend!
Erger nog en in siniese terugblik is ek doodseker dat die rolprentregisseur en -skrywer nie ’n slaplagding met hierdie tonele in gedagte gehad het nie. Die toneelspelende gaste het nie gelag of gegiggel of met mede-dronkenskap ondersteunend rondgetrippel nie. Nee, selfs die tonele wat hierdie sketse hierbo voorafgaan en dié daarna, is myns insiens ernstige tonele. Dit is tonele en grepe wat baie goed vertolk is, sonder die platvloerse sirkusnar-slingerstreke; tonele en grepe wat gevoelig aan sommige van ons se lewensklagstaat herinner.
Maar tog, wou ons fliekgangergeeste daaroor lag!
So na ’n lang stilte oppad huis toe, het ons dertienjarige seun net die een opmerking gehad: “Ek sal dit nie weer wil sien nie.”


Kommentaar
Hello,