Klip in my skoen

  • 3

Sal ek daarvan beskuldig word dat ek ’n cliché gebruik as ek sê dat daar ’n klip in my skoen is? So what? Voordat ek Riana Scheepers, Madri Victor en al die ander taalkundiges die harnas injaag met my clichés en taalvermenging – kom ek val sommer met die deur in die huis. Nog een, nè? Om nie eers te praat van die sinsbou nie.

Deon Meyer en ander, waarskynlik in navolging van sy voorbeeld, gebruik deesdae die f-woord erg kwistig. Ek is egter daarvan oortuig dat hulle die woord verkeerd spel. Dit moet nie ’n f-woord wees nie – dit moet ’n v-woord wees. Sit die woord in jou gedagtes en verskuif dit sommer lekker hardop na jou tong – sê sommer hardop – die woord. Proe daaraan, pure “v”! ’n “f” proe moes nie so nie, of hoe?

Eendag, wanneer ek ’n roman of kortverhaal skryf, gaan ek die woord met ’n “v” spel, nie met ’n “f” nie. Dis nou te sê as ek die woord enigsins benodig.

Hannes Nel

  • 3

Kommentaar

  • Hannes hopelik sal jy sonder die woord kan klaarkom. As jy sowaar daarin slaag om 'n boek sonder 'n enkele f- woord te skryf (of v- as jy wil) sal jy bewys dat jy anders as die res is. Dit sal nie oral werk nie, maar mag miskien die rede wees waarom daar wel van jou kennis geneem word.

    Ek weet van 'n "dame" wat nie alleen met ritse van hierdie woorde boeke skryf nie, maar nog 'n klomp variasies ook gebruik met tussenin die Engelse f-woord, weereens met variasies. As 'n mens se woordkeuse in jou moedertaal so beperk is hoe de f- kry jy dit reg om 'n klomp pryse te wen?

  • Nee Hannes, dit moet 'n 'f' wees, soos in Nederlands.  Ek is seker die Engelse woord kom ook van die Nederlands af soos 'fokseil' wat 'fo'castle', of so iets, geword het, en 'jacht' wat 'yacht' geword het en so aan. Die Engelse gebruik net die woord heel anders as die 'teel' waarvoor dit in Nederlands gebruik word.  Die Hollandse ekwivalent van wat die Engelse met 'fuck' bedoel is, min of meer, 'neuk' wat ons ook gebruik maar nie in dieselfde sin as die Hollanders nie (alhoewel 'moerneuker' is nog steeds lelik alhoewel daar Afrikaanssprekendes is wat dink dis 'n oulike outydse woord; besef glad nie dis die ekwivalent van die Engelse 'motherfucker' wat veral die Afro-Amerikaners so lief is om te gebruik nie).  Ons gebruik die woord 'fok' soos wat die Engelse hom gebruik, so dis eintlik 'n Anglisisme.
    Wat my dan by taalvermenging bring.  Taalvermenging is onvermydelik maar wanneer dit te erg word is dit irriterend.  By ons is die gebruik van Engelse woorde meer 'n manifestasie van ons verslane status, 'n soort van 'n variasie op die Stockholmsindroom terwyl by die Engelse, waar hulle Afrikaanse woorde gebruik, kom dit neer op 'n soort van 'n speelsheid.  So gebruik hulle byvoorbeeld die woord 'kak' in 'n ander sin as hulle eie woord 'shit'.  Ek het dit al baie ondervind, veral in rolbal.
    So, as jy 'n houthakkerstatus wil bewerkstellig, gaan voort met jou taalvermenging.
    Jan Rap

  • Ja, ons houthakkers moet eerder stilbly, want die taalkundiges is ernstige mense. My opmerkings oor die 'f' woord is maar net as 'n grappie bedoel, alhoewel ek regtig glo dat dit 'n 'v' woord moet wees. En, glo my, as dit by kruietaal kom is ek die kundige. Kom sit net saam met my en rugby kyk, dan sal jy hoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top