Baie noem hom so. Ek noem hom maar Tikkop. Want of mens dit wil weet of nie is dit 'n realiteit hier en nou. Ons dans die gewone woordedans as ek hom Tikkop noem want hy ontken dit alte heftig en ek beduie na sy six-pack dat tik jou metabolisme versnel sodanig dat jou hiper alles en hy seg dan dat hy klaar is met die tronk en dat hy die kak gelos het. Net vanaand beduie hy my dat hy nie net moes bandiet nie maar dat die tik hom vrou en kinders en alles gekos het.
Want annerdag nog het hy met rolle note by die huis gekom en net die Maandag was alles weg. En nou slaap 'n ander man in die kooi wat hy gekoop het. Ek vra hom oor die klogoete en hy beduie dis drie meisiekinners want al kan hy goed swys het hy nie reg geswys "by my eks" nie so dis alles gate wat ek gebrand het.
"Jy weet mos van nie reg swys nie, Oester?"
"Ja, mens brand gou gate as jy nie oplet nie ... wanneer laas was jy by jou klogoete?"
"Paar maande terug, net voor die Boere my kom toesluit het ... Dit was nice om almal weer te sien. Sy het weer 'n buttonkop gevat en toe lê ek en sy innie bed wat hy gekoop het. Sy het gesê as ek die goed los kan ons weer ..."
"Maar sy is dan getroud?"
"Daai ring beteken fokall, dit gee net beter kompressie...."
Ek laai sy hout en hy kyk ver in die heuwels van Oesterland in en ek vra waarom hy so staar, en hy beduie my na die saag se lem wat gebreek het en hy wetie hoe hy more daai hout gaan afkry nie. "Want die bome is dik en jy kan sien die lem is moer toe." Want die jonge man saag hout soos die mense jare terug gesaag het. Nie omdat hy 'n tradisie wil voortsit nie, slegs omdat hy niks anders het om mee te saag nie.
"Hoeveel?"
""R250."
"Dis reg. Ek kan 'n brood en van daai koeldrank op special koop en ek kan darem iets oorhê. Gaan jy die stoeltjie wat ek hier annerkant die brug opgetel het koop? Dis goeie staal. Kyk, hier’s niks roes aan hom nie."
"Ja, sure, haal net allie hout af, daar’s dalk so drie of vier kilogram staal." (teen R1.50 per kilogram is daai weggegooide stoel nie eens 'n paar snye polony werd nie maar mens piepie nie op arm mense se batterye nie het Ra Mavenster destyds beduie). Veral nie as jyself kort duskant die brood en polony lyn leef nie.
"So dis R250 vir die hout en darem bietjie ekstra vir die stoeltjie. En sal jy my 'n nuwe lem gee tot more toe? Ek gaan more daai groot bome doer bo teen die kop afsaag dan maak jy sommer baie geld want dis goeie hout daai."
"Ja, maar jy moet die buttons en die ander kak los. Daai goed maak jou mal en dit gaan jou breins opvreet. Jy sien hoe lyk die mense wat die goed rook."
"Ek sê jou mos ek het klaar gebandiet vir daai kak, ek’s skoon, Oester."
Ek tel vir die man van Ventersdorp (van alle plekke en hy is bekend met 'n bekende vermoorde politikus beduie hy my eendag) die paar bloues uit en hy vra vir Thys vir 'n geleentheid dorp se koers en Thys beduie vir my dat Kleinkoppie net wou Kwa toe. Maar Thys het verseg want almal ken vir Kleinkoppie en as die Boere eers een keer gesien het Kleinkoppie word deur jou afgelaai daar innie ses deur jou voertuig gaan hulle jou voertuig elke dag skud en niemand is lus om elke dag deur die Boere geskud te word nie.
Toe vat Kleinkoppie maar die Taxi al die pad van Voorbaai af tot daar waar die handelaars van genot is.
Mense beduie my dat die goed aangemeld moet worre maar ek sit en dink aan die vele skemerpartytjies met bekendes waar ek as toeskouer self gestaan en slinger het en ek moes sekerlik dit al my hele lewe lank gedoen het?
Ironies genoeg moes einste Kleinkoppie nou die dag nog bandiet omdat hy iewers by Santos strand 'n paar 9mm rondtes opgetel het en gedink het dis heel cool hy gaan dit eendag nodig kry as hy die dag sy hanne op 'n onwettige wapen kan lê.
En toe vang die Boere hom en kry hy outomaties straf (en drie jaar opgeskort) vir die vier rondtes wat in sy besit gevind is. Ek beduie hom dat die Boere hom nooit sou skud as dit nie was dat hulle gedurig aan’t oplet is vir hom nie.
Hy beduie dat hy weet dat hy nou 'n groot teiken voor sy kop het en sal moet oppas wat hy saamdra.
"Maar weet jy wat, Oester? As hulle die pille wat ek weggegooi het op my gekry het sou ek nou nog binne gesit het. Daai honne van hulle se koppe het ek sommer deurmekaar gesmokkel met die katpis op die sakkie pille."
oester

