Kinders en groenboontjies

  • 0

Ek was laerskool en hoërskool in die koshuis en toe vir 'n wyle by SAW en Seuns.  Toe, as student, in losieshuise met etes ingesluit gebly.  Daarna 'n ruk vir 'n konstruksiefirma (wat paaie en treinspore gebou het) gewerk waar ons in tente gebly het en die kok was ene Samuel Mahlangu wat in verskillende, en die heerlikste, papvariasies spesialiseer het. Oral waar ek gebly en gewerk het was die kos vir my lekker, ek kon nie wag vir etenstye nie.

So, ek eet alles  ...  alles behalwe oreganum.  Ek weet nie hoekom daardie smaak my so walg nie, dit smaak vir my soos 'n Columbus-stofsuiersak ruik as jy hom uitskud.  En tog, my kinders is gek daarna; hulle het dikwels vir hulself pizzatjies gemaak en die goedjies vol oreganum gestrooi.

My een suster kyk net vir seekos dan swel haar tong dat sy nie kan asem kry nie en my een seun kan nie piesangs eet nie; dit brand sy mond rooi asof hy rissies geëet het.  'n Medestudent was erg allergies vir komkommer, selfs al word die komkommer uit sy slaai gehaal na dit gemaak is word hy nog siek en 'n kollega van my is eendag hospitaal toe na hy etenstyd avokadopeer geëet het.

Daar is mense wat nie olywe eet nie (was dit Charleen Surtees-Richards wat gesê het dit smaak soos druiwe wat in pis ingelê is?) want dit is nie lekker vir hulle nie.  My een broer wil opgooi as hy kool ruik en my vrou haat rosyntjies. 

Dit moet dan wees dat rosyntjies wat vir my 'n bonus in rys en roomys is, 'n onaangename smaak het vir my vrou.  Kool moet vir my broer anders smaak as vir my so dit moet dan wees dat kool iets bevat wat nie met hom akkordeer nie; sy liggaam het dit nie nodig nie.  Met sekere kosse is dit so dat, nie alleen het jou liggaam dit nie nodig nie, dit is sommer giftig vir jou.

Op die manier dan dink ek dit is verkeerd om kinders te verplig om hulle groente te eet; hulle lyfies het dit nog nie nodig nie.  As 'n ouer besef watter wroeging dit is vir 'n kind om sy groenboontjies in te wurg anders kry hy nie nagereg nie, sal hy hom nooit dwing om dit nie doen nie.

Gee die kind lekker vleis en aartappels en lekker soet vrugte en laat hy homself dik eet aan nagereg met baie vla en tuisgebakte brood met rooi konfyt; dis goed vir hom.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top