Kersfees 2013: Alles is rustig en kalm ...

  • 0

Lank, lank gelede ...

Byna 'n honderd jaar gelede, 1914, was die hele wêreld in 'n wrede oorlog gewikkel ...

Dit was egter 'n jaar om te onthou. Die sogenaamde Tampico Aangeleentheid was een van die eerste oorlog maneuvers daardie jaar. Amerika se bote stoom in 'n "misverstand" na Meksiko wat op daardie stadium in 'n bloedige burgeroorlog gewikkel was. Dit sou later 'n verkeerde kaart  in Duitsland se hand word.

Sondag 28 Junie 1914, ongeveer 10:45, word Franz Ferdinand en sy vrou in Sarajevo deur 'n lid van die "Swart Hand" vermoor. 'n Ketting van gebeure daarna lei uiteindelik na die Eerste Wêreldoorlog.

Eers kondig die Duitse Keiser aan dat hy nie die aartshertog Franz Ferdinand se begrafnis sal bywoon nie. In Julie word daar raad tussen die leiers van in Oostenryk-Hongarye en Duitsland gehou en die moontlikheid van oorlog teen Serwië, Rusland en Frankryk word bespreek. Oostenryk-Hongarye reik 'n onvoorwaardelike ultimatum aan Serwië. Oorlog word verklaar en Oostenryk-Hongarye bombardeer Belgrado. Tsaar Nikolaas II van Rusland hou nie daarvan nie en mobiliseer teen Oostenryk-Hongarye. Die Duitsers verklaar oorlog teen Rusland. Die Franse mobiliseer teen die Duitsers. New York se aandelebeurs sluit. Duitsland beset Luxemburg. Turkye word neutraal verklaar.  Duitsland reik 'n 12uur ultimatum aan België vir deurgang na Frankryk. Die Belge weier. Duitsland trap op die Belge en Ingeland spring in. Die Amerikaners skrik hulself in neutrale rat. Die Koninkryk van Montenegro verklaar oorlog teen Oostenryk-Hongarye. Oostenryk-Hongarye verklaar oorlog teen Rusland. Intussen woed die Meksikaanse revolusie voort. Slag van Haelen: Belgiese troepe verdryf die Duitsers. 15-24 Augustus 1914. Slag van Cer: Serwiese troepe verslaan die Oostenryk-Hongaarse leër in die eerste Entente oorwinning van die Eerste Wêreldoorlog. Die Duitsers beset Brussels ... en so woed die een slag en terugslag aan alle kante na die ander ...

Intussen skaar Jannie Smuts by die Ingelse. September 13 - Suid-Afrikaanse troepe begin hul oorlog in Duits Suidwes-Afrika met 'n aanslag op die Ramansdrift polisiekantoor. Die ou Boeregeneraals het onmiddellik die geleentheid gesien om hulle eie Republieke te herwin en weer onafhanklik te raak van Brittanje. Ten einde die gevoelens van die manskappe te toets, het Generaal Kemp op 15 September drie van vier regimente op 'n parade toegespreek. Hy het gevra hoeveel van hulle gewillig was om aan die ekspedisie teen Duits Suid Wes Afrika deel te neem. Van die byna duisend man het slegs 130 hulle gewilligheid te kenne gegee, terwyl 800 geweier het. Van die stem van hul manskappe verseker, kon die offisiere die koms van Generaal De la Rey afwag. Generaal De la Rey het reeds sedert sy vertrek uit Kaapstad bemerk dat hy deur speurders agtervolg word. Na groot sieleworsteling het Generaal Beyers besluit om sy betrekking as Kommandant-Generaal neer te lê, aangesien hy hom met die besluit om Duits Suidwes Afrika aan te val nie kon vereenselwig nie. Generaal Beyers het sy bedanking as 'n protes teen die besluit van die Parlement gesien. Generaal Beyers het hom laat oorhaal om per motorkar met Generaal De la Rey na Potchefstroom te gaan. Die twee manne het egter nooit in Potchefstroom aangekom nie, want in Johannesburg is op die motor waarin die twee manne gereis het gevuur deur die polisie en Generaal De la Rey is gedood.

Toe Generaal De la Rey op 20 September in Lichtenburg begrawe is, het die toestand vir die regering daar nie so alte rooskleurig uitgesien nie. 'n Paar duisend mense het op Lichtenburg saamgekom. Onder die aanwesiges was ook Generaal Botha en Smuts, De Wet, Beyers en Kemp. Eersgenoemde twee se ontvangs was nie van die aangenaamste nie. Rebellie het uitgebreek. Oral het klein kommando's gevorm, meestal onafhanklik van mekaar. Naby Pretoria het Generaal JJ Pienaar en Kommandant Josef (Jopie) Fourie die regeringstroepe 'n paar keer 'n nederlaag besorg. Later is Generaal Pienaar gevang. Eindelik is Jopie Fourie met sy manne ook gevang. Hy is na Pretoria geneem waar hy deur 'n Krygsraad ter dood veroordeel is. Nadat Dr DF Malan, Ds CA Neethling en ander Afrikaners tevergeefs by Generaal Smuts probeer het om die vonnis verander te kry, is Jopie Fourie op Sondagmôre 20 Desember 1914 in die Pretoriase tronk gefusilleer.

Oktobermaand, en selfs Kanada spring in ... 19 Desember - Die Slag van Kolubara eindig in 'n beslissende oorwinning deur Serwië oor Oostenryk-Hongarye. Almal hoop die oorlog sal teen Kersfees verby wees. Dit gebeur nie ...

Intussen het die Boerheldin Emily Hobhouse,  die bekende "Ope Kersfees Brief" onder hoofde "To the Women of Germany and Austria - On Earth Peace, Goodwill towards Men"  opgestel. Dis deur verskeie Ingelse vroue onderteken. 'n Kort frase daaruit lees:  Is it not our mission to preserve life? Do not humanity and common sense alike prompt us to join hands with the women of neutral countries, and urge our rulers to stay further bloodshed? ... Even through the clash of arms, we treasure our poet's vision, and already seem to hear   "A hundred nations swear that there shall be  Pity and Peace and Love among the good and free." May Christmas hasten that day ...

24 Desember 1914 - Britse en Duitse soldate onderbreek die Eerste Wêreldoorlog om Kersfees te vier, die begin van die Kersfees wapenstilstand van 1914!

Die cappella-koor Cantus bied 'n radiodrama tipe herskepping van die wonderbaarlike 'Kersfees Wapenstilstand van 1914'. Ek deel graag hierdie gedeelte uit vele meer daaruit:

 

In vele opsig is 2013 seker nie veel anders nie.

Desember 2013, sal nog geslagte lank in die geskiedenis geleer word. Met die meeste lofbetuigings oor Tata Madiba Nelson Rolihlahla Mandela se persoon en versoeningsrol kan gemaklik saamgestem word. Hy was inderdaad ‘n besondere mens. Een van die grootste in die geskiedenis.

Nelson Mandela, het egter nes enige ander sondaar foute gemaak. Hy was die president toe wette op die wetboek geplaas is wat swartmense se ekonomiese posisie drasties moes verbeter, maar wat negentien jaar later ‘n handjievol obseen ryk swart elite opgelewer het terwyl die arm massas roep om brood. Hy was ook die president toe die beleid van “kader-ontplooiing” beslag gekry het. Vandag erken selfs senior ANC-ministers dat hierdie beleid, wat meebring dat (swart) ANC-lede op tipies kommunistiese wyse in elke denkbare openbare pos aangestel is, katastrofaal was. Die ideologiese blindheid van die ANC onder Mandela en sy opvolgers het ook ‘n kultuur van korrupsie bevorder wat Suid-Afrika verrot. Ons het vergeefs gewag vir Mandela om kragdadig hierteen op te tree of sy morele stem sterker daarteen verhef toe hy as “vader van die nasie” alles van die kant gade geslaan het. Nog ‘n klad op Mandela se nalatenskap is dat hy nie duidelike leiding gegee het terwyl honderdduisende aan Vigs-verwante siektes gesterf het nie. Die toekenning van eerbewyse aan bedenklike figure soos Ghaddafi, steun aan mense soos Mugabe van Zimbabwe en noue bande met lande waar die Christelike kerk lank onderdruk is, is die gevolg van ‘n anti-Westerse ideologiese keuse wat die ANC onder Mandela begin en deur sy opvolgers voortgesit is. Hierdie en ander politieke foute is nie uitgewis deur Mandela se warm persoonlikheid nie. Dit dui wel op ‘n ander kant van sy persoonlikheid en ideologie. Hy kon koud en onverbiddelik wees. Hy was ‘n politikus wat in ‘n links-revolusionêre dampkring beweeg en gefloreer het.

Tog is daar tydens die samekoms by Nelson Mandela se begrafnis vele gebare van sy sterwe na vreedsame naasbestaan gemerk. Amerika se Barak Obama het selfs hand geskud met Fidel Castro se seun, Raul Castro. Die skare het die Boer FW de Klerk toegejuig wyl die ANC se "100% Zulu boy" Jacob Zuma uitgejou is.

Dat Nelson Mandela en FW de Kerk formidabele leiers is, kan daar nie teen gestry word nie. Dat 2014 nog baie gaan oplewer in terme van stryd en pyn nie net in die wêreld nie, maar veral hier aan Mzansi as deel van hul nalatenskap, is ook net so 'n gegewe.

Suid-Afrika nodig vandag weer 'n POLITIEKE leier soos Doktor Hendrik Frensch Verwoerd om ons vryheid in menswaardigheid vir almal te omskep.

Dis Kersfees.

Nes die Duisers en Ingelse uit hul loopgrawe kon klim en hand skud, net so deel ek heelhartig hierdie ode aan die ontslape Nelson Mandela en waarin ek in 'n baie groot mate ooreenstemming het:

 

Persoonlik ag ek hierdie aanhaling mees besonder: "Religion is one of the most important forces in the world. Whether you are a Christian, a Muslim, a Buddhist, a Jew, or a Hindu, religion is a great force, and it can help one have command of one's own morality, one's own behavior, and one's own attitude." - Nelson Mandela. Vandag vier elke gemeenskap; Jode, Moslems, Hindoe, Rooms, Anglikaan, Protestant, Charismata, Boeddhis, Ateïs, ... hierdie mens Nelson Mandela se lewe ...

Mag Jesus Christus onse Nkosi, ons almal hierdie Kersfees seën en mag God, Tata Madiba Nelson Rolihlahla Mandela se siel genadig wees.

Mag Jesus Christus, die Opperste van alle wesens, ons gou weer in sy ruimteskip genaamd die Ster van Bethlehem kom haal - hier aan die donkerkant van die maan ...

Namaste!

Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke, Boere en Afrikaliefde,

Cornelius Henn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top