Soos gewoonte dit het elke langnaweek in maande sonder ’n r in die naam is Jors en Mammie by die water. Hy aan die hengel. En sy baai in die glorie van haar voormalige damduikerdae toe sy nog met een plons die hele waterliggaam ’n aks kon versit. Maar deesdae is dinge treurig daar. Mammie het ’n ruk terug haar nommer veertien Croc geplant voor al Jors se vryasies en summier sy aspirasie tot die heldeakker gepootjie. Hoër op met die waters is die kleinspan se plekke ook weerbarstig kaal. Die gesels pluk-pluk soos ’n skraal windjie aan die lyn.
Gewoonte bly egter gewoonte. Sodra die ryp bleek begin lê ryg Mammie se oond weer die karringmelkbeskuitjies uit. Of hulle nou wil rys of nie. En Jors prop die kuikens wat onder groter kloeks se trap teen ’n kromming styfgeskop het ’n Coleman vol. Met handlyn en hoek iewers en die tweemantent soos ’n verlepte pannekoek op die dakrak sleep hulle die alombekende in.
Elke oggend ontdooi hy eers sy valstande op die rooster. Mammie se baksels wat hy nie deurgewerk kry met die koffie nie beland suutjies eenkant as sinkers en die eersteling se booties wat deur die nag sy voete moes warm hou word verruil vir waterstewels. Elke aand word paella opgedis met die wal se oorskot varswatergarnale wat nie ’n geelvis uit bedreiging kon lok nie. Daarna rol Jors die vloerseiltjie oop, wag tot Mammie haar lê kry, trek die tent bo-oor en pak vas met vier beskuitjies. En dan kruip Jors weer tandeloos onder die tjor in.
So gaan dit jaa’ in en uit langs die water, wagtend op ’n byt van daardie twee voet guppie, twee voet tussen die oë.
Adriaan


Kommentaar
Jors jy sal by my moet kom leer: Net die FOTO van my vis het meer geweeg as die ou se vis wat tweede prys gekry het.