Soos professor Jonathan Jansen sê, swart ouers verkies dat hulle kinders in Engels onderrig word. Sy hele betoog sou nie gebeur het as Afrikaanse ouers dieselfde ingesteldheid gehad het nie. Met ander woorde, dit is 'n feit dat Afrikaanse ouers (behalwe nou die meelopers) verkies dat hulle kinders in Afrikaans onderrig word.
Prof Jansen verwag Afrikaanse studente en leerlinge moet dus die opoffering maak om in Engels onderrig te word. Om wie te akkommodeer? Hoekom moet Afrikaanse kinders onderrig in 'n vreemde taal ontvang omdat swart ouers verkies dat húlle kinders in 'n vreemde taal onderrig word?
Prof Jansen reken dat, as 'n Zoeloe of 'n Tswana hulle tale kan opgee om in Engels onderrig te word, kan die Afrikaanssprekende dit ook doen. Weer eens, ter wille van wie; elkeen kan mos opoffer soos hy verkies, dan nie? Buitendien, die Zoeloe of die Tswana offer niks op nie; Zoeloe- of Tswanataal, weens hulle sprekers se beheptheid met Engels, was nog nooit bevorder tot die vlak tot waar Afrikaans deur sy sprekers, met bloed en sweet, gebring is nie.
Die status van Zoeloe en Tswana is nog presies waar dit was voor ’94, eintlik nêrens, maar Afrikaans word aktief deur mense soos prof Jansen afgeskaal 'om die speelveld gelyk te maak'. Afrikaanssprekendes offer dus op maar Zoeloe- en Tswanasprekers gaan nog aan soos al die jare nog. Dat die swarttaalsprekers dus enigiets opoffer deur onderrig in Engels te verkies is 'n drogredenasie; hulle het dit nog al die jare so verkies.
Prof Jansen beweer dat "eksklusief wit Afrikaanse skole hou 'n ernstige gevaar in vir rasseverhoudinge in Suid-Afrika." Kan nie wees nie; geen Afrikaanse skool (die paar wat nog oor is) sal 'n Afrikaanssprekende, maak nie saak wat sy kleur is nie, weier nie. Trouens, hy hoef nie eers Afrikaanssprekend te wees nie, hy wil dalk net in Afrikaans onderrig word. Ek glo nie daar ís sulke skole in Suid-Afrika nie maar sou daar wees, hoekom sou dit nou 'n gevaar inhou vir rasseverhoudinge?
Die storie dat Engels as onderrigtaal beter sou wees omdat die sakewêreld nou hoofsaaklik Engels sou wees is net so 'n twak storie; alle Afrikaanse skole het Engels as vak tot matriek (wat geslaag moet word voordat 'n matrieksertifikaat uitgereik word). Buitendien, hoekom sou die sakewêreld nou Engels wees? Dis kunsmatig, mens kan handeldryf in enige taal.
Prof Jansen sê Engels kan, móét, die taal van versoening wees. Deur middel van watter meganisme? Kommunikasie? Die Ierse Katolieke en Protestante is nie versoen nie ten spyte van die feit dat hulle almal Engels praat. En waarom is 'versoening' hoegenaamd ter sprake, as gevolg waarvan, en tussen wie en wie, is die onmin? As gevolg van 'apartheid' en tussen wit en swart? Kan tog nie wees nie want apartheid kom van die Engelse af, prof Jansen praat juis van hul gewaande meerderwaardigheid.
Maar laat ons realisties wees; as daar van versoening gepraat word is die wit Afrikaanssprekende die vark in die verhaal. So eintlik word daar spesifiek van die wit Afrikaanssprekende verwag om te 'versoen', om sy kinders, onder andere, te laat onderrig in Engels en sy taal prys te gee – hy kan nie meer Afrikaans praat by die aanklag- of belastingkantoor nie, hy moet verlief neem dat Afrikaanse name verdwyn, hy moet op alle gebiede Engels omhels en sy eie prysgee.
Ek praat heeltyd van 'Afrikaanssprekendes' want die bruines (meeste) se moedertaal is tog ook Afrikaans. Hoe kan prof Jansen dan praat van 'die taal van die onderdrukker', sy ma was dan ook Afrikaanssprekend, hoe sou hy haar nou as 'n onderdrukker kon sien? Dit moet ook dan die taal wees wat hy as kind gepraat het want, soos hy self sê, sy eerste bewuswording van Engels was in die Indiër se winkel toe hy so 6 of 7 was.
In die lig van als hierbo lyk dit vir my of prof Jansen bloot anti-Afrikaner is en sy 'pragmatisme' (Engels as onderrigtaal vir álmal) moet wees uit hoofde van 'n soort wraakgierigheid want nie een van sy argumente hou water nie.
Jan Rap


Kommentaar
Dis nou die man wat uitfreak as jy met hom Afrikaans praat? Maar hy maak graag geld uit ons. Hy kom woon in Bloemfontein en Stellenbosch en raak histeries om te ontdek dat Engelse/Amerikaanse onnoselikheid nog nie seevier nie.