Sy naam issie Jakob nie, maar ons noem hom maar so anners is die hele strand vol mense.
Want sien, Jakob is 'n ou visserman. Nie visserman van beroep nie. Hy het 'n anner werk. Hy vang maar vis vir ontspanning, veral as sy span verloor het die vorige Saterdag. Hy is gewoond om self sy skuit te water te laat. Destyds sommer so van die strand af. Op sy manier. Want Jakob hou nie van nat klere nie. Ook nie van klere wat in soutwater nat geword het nie. Die goed is mos maar altoos, so met die droogword stywerig en hard, en harde broeke werk nie as jy nie onnerbroek dra nie.
Jakob is lankal afgetree. Massiewe man met stompe vir arms en 'n borskas soos 'n granietrots. Sagte man met harde hanne en dik hare op die voorarms. Bekend dat hy sag praat maar as hy die dag stem verhef beweeg mense want niemand wil deur hom mis geklap word nie. Hulle sê as hy jou misklap is jy morsdood. Rou Engelsman. Ou geld soort Engelsman. Ek weet nie hoe hard hy kan drink nie want ek is lank voor hy slim gedrink het helemaal te onkapabel om enigsins op te let, maar die manne wat kon staande bly sê hy kan sy skotse water vat.
Jakob het maar altyd sy skuit te water gelaat met basies net sy naskeermiddel aan. Klere saamgebondel in 'n hopie voor die tyd voorin die skuit netjies weggesit weg van die Blou Dam se soutigheid. En eers op die water en die warm son se baai is 'n man mossie lus om klere aan te trek nie want jy is mos in elk geval alleen en ver van land en mens af. En visse issie soos mense nie so hulle gaan nie skaamkry nie. Jakob is dus bekend dat hy in sy naskeermiddel visvang.
Tot die vis die dag byt. As die vis die dag byt dan weet almal binne 'n dag daarvan. Dan is die dokters baie besig met sieknotas want almal wil see toe om die natlyf uit te haal. En al wat 'n skipper is sit met te veel crewmanne alte gewillig.
Jakob is die dag see toe met twee manne. En soos die lyne sak is dit vas. Aanhoudend tot die skuit later behoorlik vol is. Ek was nie daar nie maar die man wat was vertel dit vir die heilige waarheid:
Jakob het blykbaar soos 'n griekse god in die skuit gestaan, visstok innie hand. Poedelnakend soos die dag wat hy gebore is met net 'n paar spuite Old Spice of iets dergliks aan. Piet beduie dat hy nog lyn innie hand gesit het toe Jakob begin spook met iets groot. Al om die skuit later en toe moes almal lyne op want die ding onderaan is doenig om die skuit en mens willie lyne later ontkoek nie. Piet beduie dat Jakob behoorlik met die monster onder die water gespook het en later om hulp gegil het.
"I need help here, you, mother ... !" Skarrel die manne oor die skuit om te help met die stok en Piet beduie dat hy gaff innie hand gereed gestaan het want dis mos altoos met die moegwordslag wat 'n ou grote skelm ontsnap. Jakob is oud bekend dat hy selfs in die vuilste haaiwaters induik agter 'n vis aan en Jakob is nog nooit onkant gevang nie en het al honderde visse self uitgeduik wat losgekom het en Piet beduie dat hy nie weer gaan sit en wag tot Jakob opkom nie. Hy het dus die gaff gereed.
Vis is egter nog ver en Jakob se gesig bloedrooi.
"What are you waiting for, you ... (ek vermoed jy weet wat Jakob bedoel het)."
"I am ready, can’t you see?" (Piet is maar afrikaans)
"I don’t need help with the rod, you bastard! I need to piss!"
Piet beduie dat dit die heel eerste en heel laaste keer in sy lewe was wat hy 'n groot man se mmmmm, jy weet ... moes vashou sodat die man nie innie boot moes pis nie.
Ek vra hom oor die vis en Piet beduie dat hy regtig nie kan onthou watse vis Jakob daar uitgebring het nie. Hy was te besig om hanne te was aan die annerkant om op te let.
oester


Kommentaar
Dankie vir nog 'n lekker lag Oester!!!!