Jack Flam: Matisse and Picasso

  • 3

Wanneer met 'n internasionale of Europese perspektief na die vorige eeu se skilderkuns gekyk word, is daar twee Franse en twee Spaanse skilders wat myns insiens die toneel oorheers: die Franse Henri Matisse (1869-1954) en Georges Braque (1882-1963) en die Spanjaarde Pablo Picasso (1881-1973) en Joan Miró (1893-1983). Braque het egter aanvanklik in te groot mate in die skaduwee van Picasso gewees, hoewel sy latere werk sy eie stempel van integriteit dra. Miró het met sy dikwels speelse aanslag sterk kompetisie van die vindingryke Switser Paul Klee (1879-1940) ondervind omdat Klee se werk meer geestelike diepte het. Sowel Matisse as Picasso het waardering vir Klee se skilderye gehad.

Daar is nie 'n einde aan die mate waarin die werk van Miró en Klee my fassineer nie. Maar Matisse en Picasso word algemeen as die twee groot meesters erken. Om te besluit watter een van hierdie twee werklik die grootste kunstenaar was, is eintlik 'n onbegonne taak. Ek volstaan deur te erken dat ek meer aangetrokke tot Matisse se werk voel. Om hierdie rede neig my teks wat hier volg om meer Matisse-georiënteerd te wees. Wat hier oor die twee skilders geskryf is, is uiteraard sterk op veralgemening gebaseer. Ek beperk die aandag tot skilderye en laat dus hulle beeldhouwerk buite rekening.

In vergelyking met Picasso het Matisse se skilderye groter eenvoud en is hulle makliker verstaanbaar. Ek onthou hoe die naïewe eenvoud van Matisse se "Pink Onions" (1907) my beïndruk het toe ek dit die eerste keer gesien het. (Afbeeldings van hierdie skildery kan maklik op die internet opgespoor word, maar party weergawes is glad nie so goed soos die kleurafdruk in die eerste boekdeel van Spurling se biografie nie.) Matisse het hom in hierdie geval ietwat van sy eie skepping gedistansieer deur te sê dat die posman dit geskilder het. Sarah Stein (1870-1953) het egter aangetrokke tot die skildery gevoel en dit dadelik gekoop.

Die beste manier om Matisse as mens te leer ken, is om Hilary Spurling se biografie te lees. Dit het oorspronklik in twee dele, 1869-1908 (1998) en 1909-1954 (2005), verskyn. Daarna is 'n verkorte weergawe in een band (2009) gepubliseer. Spurling noem dat Matisse se voorouers van albei kante af Vlaminge was. Veral in sy jeug sou hy dus moontlik Afrikaans kon verstaan het. Interessant is ook dat die kenmerkende dekoratiewe element in sy kuns na sy ma, wat op keramiek geskilder het, teruggevoer kan word.

Die mededinging van Matisse en Picasso is algemeen bekend. In 1998 is Yve-Alain Bois se boek, Matisse and Picasso: A Gentle Rivalry, gepubliseer. Die onderwerp het egter eers werklik tot sy reg gekom in Jack Flam se boek, Matisse and Picasso: The Story of Their Rivalry and Friendship (New York: Westview Press, 2003, 296p). Flam het toe reeds drie boeke oor Matisse gepubliseer. Wat opval, is die wedersydse hulp wat die outeurs Spurling en Flam aan mekaar verleen het. Hulle huiwer ook nie om mekaar te kritiseer nie.

Uit Flam se agtergrond as Matisse-navorser en -skrywer moet egter nie afgelei word dat hy eensydig kant vir Matisse in sy mededinging met Picasso gekies het nie. Merkwaardige ewewig gegrond op uitgebreide navorsing spreek uit sy teks. Dit is moeilik om aan 'n boek te dink wat in groter mate as hierdie een deurgaans op sy onderwerp toegespits bly. 'n Ander groot bate is dat talle skilderye op so 'n manier bespreek word dat dit werklik verhelderend vir die lesers is. Nêrens wek die outeur die indruk van geforseerdheid nie. Hy skryf ook in duidelike taal, vry van tegniese terme.

Matisse en Picasso het in 1905 ontmoet en eintlik tot Matisse se dood in meerdere of mindere mate met mekaar in verbinding gebly. Hulle het mekaar geïnspireer en uitgedaag om al hoe groter hoogtes te bereik. Spurling verwys na Matisse en Picasso se "lifelong dialogue on canvas." Flam het die eerste keer by my tuisgebring hoeveel hierdie mededinging van albei kunstenaars geverg het. Soms was dosyne sketse en die verloop van baie maande nodig voordat 'n skildery finaal voltooi is.

Daar is opvallende verskille tussen die twee kunstenaars. Matisse was teruggetrokke en onsosiaal. Hy was versigtig oor watter outobiografiese inligting hy in sy skilderye toegelaat het: "Matisse was uneasy about the possibility of his work revealing more about himself than he wanted to make known" (Kindle 46). Hy was onwillig om sy eie skilderye te vertolk. Hoewel sy skilderye meer realisties en dus minder abstrak as dié van Picasso geneig het, het hulle soms 'n metafisiese dimensie wat grootliks by Picasso ontbreek. Matisse se skilderye is sprekende voorbeelde van intense waarneming en die kundige gebruik van kleur. Spurling verskaf hierdie treffende aanhaling van Matisse: "Painting is classifying one's sensations of colour." Elders haal sy die volgende vraag aan: "Doesn't painting primarily consist in using colour and design to decorate a surface?" Matisse was nie politiek-gepreokkupeerd nie en was minder onderhewig aan tydstrominge as Picasso.

Picasso se lewensloop, daarenteen, kan (in 'n mate) uit sy skilderye afgelei word. Hulle is dikwels onmiskenbaar outobiografies. Die Surrealiste het Picasso op die hande gedra, terwyl Matisse as naturalis hulle verpes het. Picasso was die meer vindingryke en verbeeldingryke skilder wat meer op vorm as die gebruik van kleur afgestem was. Pleks van helder kleure het hy dikwels grys en bruin gebruik. Volgens kenners het Picasso deur verskillende fases beweeg. In werklikheid het sy werk soms op dieselfde tydstip verskillende style geopenbaar. In sy werk het hy na meer gestreef as om bloot sy aktualiteit te behou. Maar hy was ook 'n kind van sy tyd. Toe kommunisme in Europa in die mode was, bv tydens die Spaanse burgeroorlog, het hy dit aangehang. Sy grootste openbare sukses, danksy die implisiete sosiale kommentaar, het hy met sy "Guernica"-skildery (1937) behaal.

"Matisse thought with his brush, and in a sense, discovered his pictures in the act of painting them. Picasso, by contrast, always had a strong narrative gift, and his brush generally followed his preconceived idea of what the picture would look like" (K 491). In Picasso se skilderye is daar dikwels 'n enkele fokuspunt, terwyl Matisse se doeke die oë van kykers laat dwaal. Picasso het van die standpunt uitgegaan "that the things of the world could be endlessly recombined and reinvented. Related to this was his perception that pictorial disharmony and the destruction of the human image would best capture the spirit of the new century. Matisse would never become reconciled to the idea of radically linking destruction with creation and violence with modernity" (K 940). Picasso het die afgrond verkies en wou kykers ontstel: "A picture is a sum of destructions" (K 2429). Matisse het die lig en kleur verkies en wou mense kalmeer: "Something like a good armchair that provides relaxation from fatigue" (K 1261; ook 2869).

Maar daar is ook ooreenkomste tussen hierdie twee kunstenaars. Albei kon uitstekend teken. Hulle het besef dat verdienstelike skilderye deur goeie tekenwerk voorafgegaan word, soortgelyk aan taal wat op die onderliggende sinsbou steun. Soos wat Clive Bell van Bloomsbury-faam reeds in 1920 uitgewys het, kon albei se werk as 'n voortsetting van dié van Paul Cézanne (1839-1906) beskou word. Albei het graag vroue geskilder. Erotiek speel 'n rol in albei se werk. Vergelykenderwys was Matisse die respektabele, diskrete mens wat sy sensualiteit gefilter het: "Beyond a certain point, his natural reserve and his deep inner disquiet would not let him go" (K 912).

Picasso het Matisse se houding as skynheiligheid getipeer en eerder sosiale taboes uitgedaag. Flam verwys na Picasso se "extraordinary ability not to censor himself, either in his art or in his life" (K 3179). By geleentheid het 'n kunshandelaar met 'n letterlike verwysing na sommige van Picasso se skilderye gesê: "I don't want any assholes in my gallery" (K 2551). Picasso was die inhibisielose, selfs sadistiese, boheem wat vroue in "goddesses and doormats" (K 782) verdeel het. Dit beteken nie dat Matisse 'n engel was nie. Albei was ateïste. In 1917 het Matisse sy gesin in Parys agtergelaat en in Nice met sy modelle 'n soort harem ingerig. Oor een van hulle het hy entoesiasties geskryf: "She's a big girl, a colossal woman with tits like 2 liter chianti bottles!" (K 2327). (Chianti is 'n droë, rooi, Italiaanse wyn.)

Bowenal was albei hardwerkende kunstenaars vir wie sukses nie oornag gekom het nie. Albei het besef dat hulle net aandag kon trek en waardering kon behou as hulle op 'n nuwe of vars manier hulle skilderye aanbied. Daar is nie gepoog om met fotografie mee te ding nie. Skilderye was skilderye, dus kuns, skeppings uit eie reg en nie weergawes van die werklikheid nie. "A distinction between real things and painted things" (K 1446) word dus gemaak. Maar dit was veral Matisse wat kontak met die alledaagse werklikheid wou behou: "An artist could not 'start from a void'" (K 4839). Hy wou nie met abstraksie oorboord gaan nie: "A painting should evoke the essence of the things it was representing, rather than substitute a completely new and different reality for them" (K 1446). Van die onderwerp van een van Matisse se portretstudies is gesê: "The less the painting came to resemble her physically, the better it conveyed her personality" (K 1827). Matisse wou skoonheid herontdek, terwyl dit vir Picasso nie uitsluitlik om skoonheid gegaan het nie; soms eerder die teenoorgestelde: die "brutality of fact" soos die skilder Francis Bacon (1909-1992) dit later genoem het (K 3175, 3951).

Wat ek interessant gevind het, is dat die outeur sy teks aan die hand van Harold Bloom se literêre "Poetic Crossings" (The Poems of our Climate, 1977) ingeklee het: "death of the creative gift", "death of love" en "confronting death" (K 89). Flam pas dit toe op Matisse en Picasso. Eerstens dank 'n skilder sy identiteit aan die vermoëns en beperkings wat eie aan hom is. Dit kan bepaal in watter mate hy as kunstenaar gereken word. Bloom noem dit die "Crossing of Election" (K 4032). Tweedens word 'n skilder deur sy omstandighede gevorm, bv sy assosiasie met ander mense. Bloom noem dit die "Crossing of Solipsism" (K 4032). Derdens kom elke skilder of kunstenaar, eintlik elke bejaarde mens, mettertyd voor die aftakeling van sy liggaam te staan en moet hy sy eie vernietiging trotseer. Hierdie onverkwiklike situasie vind dikwels neerslag in die werk van 'n kunstenaar en kan die statuur van sy menswees en kunstenaarskap belig. Bloom noem dit die "Crossing of Identification" (K 4032). Hoewel Matisse 'n dosyn jare ouer as Picasso was, het hulle min of meer op dieselfde tyd hierdie drie fases deurgemaak. Dit toon in watter mate hulle aan sosiale omstandighede, soos die Tweede Wêreldoorlog, uitgelewer was.

Ten spyte van al die mededinging en wedersydse respek en beïnvloeding, het albei skilders hulle identiteit behou. "They were very different sorts of men, and their art speaks to us in very different ways" (K 4025). Daarom is dit redelik maklik om 'n skildery as 'n Matisse of 'n Picasso te identifiseer. Elkeen het wesenlik getrou aan homself gebly. Spurling verwys na die volgende opmerking: "It's not a matter of finding the right path, but of finding one's own path." Dit bevestig die stewige fondament waarop elk sy eie kunstenaarskap gevestig is.

Teen die einde van sy lewe het Matisse gewonder "whether his election as a great artist was really strong enough to defeat death" (K 3765). In sy laaste jare het Picasso op 'n soortgelyke manier gereageer deur sy werk teen dié van ander skilders op te weeg: "More and more, his most stimulating company consisted of the dead masters he had been in dialogue with all his life" (K 3779). Dit lyk asof albei onsterflikheid gevind het in die sin dat talle van hulle kunswerke behoue gebly het en steeds deur baie bewonderaars waardeer word.

Johannes Comestor

  • 3

Kommentaar

  • Baie interessant en insiggewend.  Klomp inligting gekry; dis soos die Reader's Digest, kry die kern.
    Sien uit na jou volgende aflewering.

  • Jinne ja. Is nogal nuuskierig om te weet of jy net boeke oor hulle besit of watse skilderye in jou huis aangetref word Comestor. Dit geniet. Dankie.

  • Johannes Comestor

    Dankie vir die kommentaar. In my huis is daar eerder boeke as skilderye. Ek het wel 'n aantal geraamde afdrukke teen die mure. Ek lewe baie beskeie; party mense sou dit eerder ingat noem.

     

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top