Isabella

  • 2

Hierdie Isabella was nie 'n Italjaanse vroutjie met tipiese kurwes nie. Of, wel, sy was. Maar dit was annerse kurwes. Borgward Isabella. Steeds, naas die klassieke Lamborghini Countach, en hier en daar 'n paar van die ouer garde, die motor met die mooiste vorm. Sy (dis nou nie die Isabella nie) het doer in die destydse Last Outpost gebly. Natal. Hard gevry na haar en toe vat sy my huis toe, want die ogies blink en die hoop vir blink goete aan die vinger was ook daar.

Ouers ontmoet. En glo my, die tipiese stereotipe prentjie met die eerste oog: Stoere boer met groot hanne en daardie dors vir Cane wat net die ou Natallers had. Harde myner wat nie gesit en kyk het nie maar wat sy bietjie lewe en gerief met harde ure onder rou klippe uitgekap het om die steenkool na bo te bring. Moeder weereens die stereotipe klein vroutjie. Klein en nederig en werklik, sy het nooit 'n dag in haar lewe gewerk nie want "Pa" doen die werk op die myn en sy en haar sus, wat 'n duim of wat korter was (en dus amper kon kwalifiseer by Boswell Wilkie en kie weens hul kortheid) het gesorg dat pa en sommer die hele buurt, so het dit gelyk, kon aansit.

Hy vat my hand en my toe geliefde is nêrens nie en hy vou my hand (ek het nogal altyd gespog dat ek nie klein hanne het nie) toe dat skaars my elmboog uitsteek. Hy vra of ek 'n dop vat en die kleine vroutjie met die sagte boesem stamp half aan hom en ek beduie dat ek maar van my seerowers hou so as hy rum het ...

"Ons sal jou leer behoorlik drink hierdie naweek ... Wat is jou plan met my dogter?"

Ek beduie dat ek geen planne het nie (hy het logies, dwarsdeur my poging om te lieg gesien) en ek is skaars aan’t wegsteek aan die pakkie goed wat mens altoos moet saamdra toe hy indreun en beduie dat ek moet kom kyk ...

Het jy al ooit in jou lewe 'n groot man gesien, meneer? En het jy al ooit 'n groot man gesien klein word, meneer? Wel, hierdie grote boer het, toe hy saggies asof gewyd die garagedeur oplig, klein gestaan toe hy vir my sy Isabella wys. Paar maande terug klaar gerestoureer. Alles oorspronklik. Sommige goed selfs van verre Duitsland ingevoer. Daardie harde hanne het haar so saggies gestreel en ja, wel, mens kyk na 'n mens se liefdeswerk en jy kan sien hierdie man kan netsowel, nadat hy die sagte lappie vat en 'n onsigbare stofkolletjie weggevee het net hier en nou weggeneem word. Want hy is klaar in sy hemel.

Ek vra: Mag ek en hy beduie: "Jy sit nie my sitplekke vuil nie, hoor jy? Ek donner jou!" As jy al ooit 'n Isabella beleef het, glo my, niks kom naby die Borgward Isabella nie. As jy jou sit kry dan weet jy jy sit in iets groter as jy. Jy sit amper soos 'n bekeerling wat in daai kapel in Rome sit.

Die naweek was 'n naweek van spyse en dranke en lang ure om vure wat nooit einde had nie. Die Sondag, kort voor ons moes terug na die stad en sy geraas beduie aanstaande skoonpa dat hy gou wil "dorp toe"(ek verstaan steeds nie hierdie ding van dorp toe gaan as jy kort duskant die dorp bly nie) en of ek kans sien vir sy Isabella. Kleine moeder fluister geskok hier in my oor dat dit 'n absolute eerste is want sy het self nog nie eens in die Isabella gesit nie.

“Ek dink die ou man hou van jou...."

Wat onthou ek van hierdie Isabella? Wel, ek onthou sy het soos 'n droom bestuur. En dalk is dit die rede waarom die Borgward-klub so fanaties is oor hulle rygoed. Ek onthou ook dat daar min agtersitplekke is wat so lekker kan vry. Want as jy in die nanag die kans kan kry om jou lewe te waag om 'n groot man se twee kosbaarhede dieselle tyd te kan ervaar gaan jy ook nie twee keer dink nie. Ek het haar nooit getrou nie al het ons sovele male trou belowe.

Jy kan my maar glo, 'n Isabella is werklik iets besonders. Of sy Italjaans praat of nie.

oester

  • 2

Kommentaar

  • Ietwat moedswillige ode, maar dan was daar twéé kosbaarhede...

    Borgward is een van die hartseerste verhale van die motorgeskiedenis - gaan slaan maar na. Borgward is dan waarskynlik ook die enigste motor wat oor 'n relatiewe kort tydperk van minder as tien jaar kon vorder tot 'n ware motor-ikoon.

    Die Isabella was die besonderste model en is vervaardig in verskillende weergawes naamlik 'n tweedeur-sedan, stasiewa, cabriolet en koepee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top