Tien uit die jongste 50 SêNet-briewe binne die afgelope nege dae is geskryf en het verskyn as dele van brief-gevegte (en/of ander korrespondensie) is gerig aan individue en het slegs betrekking op sodanige individue (sien onderstaande lys).
Indien dese tendens om binne hierdie openbare kolom aan individue te skryf onverpoos voortduur, pleks van om aanvaarbare SêNet-briewe te rig aan lesers in die algemeen, en bespreking wat daaruit loop beperk word tot binne die raamwerk van die betrokke SêNet-brief, gaan dese tendens verseker sorg dat die SêNet-briewekolom se aanbiedingsgehalte so laag sal daal dat lesers op soek na sê-waardige leesstof, en debat teenoor een-een-bekgeveg nie langer hierdie kolom sal wil lees nie.
Daar is immers geleentheid tot oorlopens toe op die internet vir doelgerigte blogs asook uitruil van politieke menings binne artikels (veral op nuusbronne gerig op politieke sake) wat voldoen aan die behoefte van individue om brief-gevegte met ander individue aan te pak en deur te voer.
Daarbenewens verskyn feitlik enigiets in die SêNet-briewekolom oor die afgelope paar maande, sommige daarvan is inligting wat streng gesproke reklame is en waaruit inkomste vir LitNet bekom kan word, en ook heel onlangs baie ou nuus oor die bedanking van die DA se parlementêre leier.
Wat gaan Litnet se bestuur doen om weg te doen met hierdie tendense en die situasie reg te stel sodat 'n standaard gestel en bevorder word wat die volhoubaarheid van algemene LitNet-lesers se belange bevorder en wat weg doen met aanvalle op individue, gesluierde gevegte en onbetaalde reklame?
Groetnis
Henk Seymore
1. Die politieke evangelie volgens Dirk Richter 2014-05-14
2. Vir Jaco en sy gekkelys
3. Vir Jan Rap oor breinspoeling 2014-05-14
4. Vir Pieter Relinghuys oor verloopte Afrikaners 2014-05-14
5. Vir Angus oor gedienstige zumo-Afrikaners 2014-05-14
6. Vir Jaco Fourie (en eendersdenkendes) Verkiesingsnabetragting
2014-05-14
7. Vir Thomas 2014-05-12
8. Vir Thomas en Pieter 2014-05-12
9. Nee, Jaco en Wouter, nee man, nee, 2014-05-09
Henk,
Baie dankie vir jou brief. Kom ons kyk wat sê die ander SêNetters daarvan.
Webvoet


Kommentaar
Henk Seymore praat van tien briewe (uit 50) wat aan individue gerig is, maar lys hy slegs nege. Nietemin, hierdie nege (en ander soortgelyke) briewe oor die afgelope paar maande het almal te doen met twee sake: Godsdiens en politiek.
Ek wil hieroor twee opmerkings maak: Eerstens mag die briewe soms via die opskrif gerig wees aan 'n individu, maar meesal verteenwoordig daardie persoon 'n standpunt wat ook deur ander persone onderskryf word. Sulke briewe word m.a.w. gerig aan 'n groter "gehoor". Dit word dan ook weerspieël deur die soms wye reaksies in die kommentaarkolomme.
Tweedens is debat oor godsdiens en politiek deel van Afrikaners / Suid-Afrikaners se DNS. Ons het sterk opinies oor die goed en kan soms skerp met mekaar van mening verskil. Myns insiens is dit goed so. Té lank, in die ou bedeling, is ons geleer om ons bekke te hou en te maak soos ons voorgesê is. Nou mag ons maar ons eie opinies hê en dit hardop uitspreek. Daarbenewens is die politieke toneel tans as te ware met emosie gelaai net na die verkiesing. Wat die godsdiens / gay / evolusie debat betref, dit is tans aktueel en selfs binne kerklike geledere is daar skerp meningsverskil oor dié sake. Dus sal debat hieroor ook na SêNet oorspoel.
Laastens: Dalk moet Henk Seymore vir ons voorbeelde gee van "...sê waardige leesstof en debat..." wat hy so graag wil sien. Skop so 'n debat af dat ons daaraan kan deelneem. Terloops, ek sien geen "gesluierde gevegte" nie. Die deelnemers hier neuk mekaar sommer openlik op!
"Vir Henk Seymore"
Jy is ongelukkig reg!
Die punt is dat min belangstellendes hier die kommentaar funksie en doel verstaan.
Maksimum effek in sulke deelnemers se egotistiese drang na aandag word onder 'n hoofopskrif - 'n "volledige bydra" bereik.
Nes die 600 woorde reël van die wa afval, sal geen ander reël hierdie toedrag verander.
Welgedaan jou oplettendheid!
Groete,
Cornelius Henn
Henk
Bokant die brieweblad staan daar dit is 'n ..."brieweblad vir alles en nog wat..." Mense word uitgenooi om hulle sê te sê.
Wanneer is politieke nuus nogal oud? Daar word oral nog geskryf en gedebatteer oor politieke gebeure van honderde jare gelede, so ek vermoed jy is maar taamlik onkundig.
As iemand se naam in 'n opskrif genoem word, is dit om seker te maak hy sien die brief raak. Maar heelwat ander mense lees dit ook en dit lok dikwels baie kommentaar en debat uit.
Ek glo SêNet moet bly voorbestaan soos dit is, wat mens nie van hou nie, hoef jy nie te lees nie. Maar ek sal nogal graag meer humor wil lees hier.
Varkspek
Henk,
Webvoet
Ek persoonlik is heel tevrede met die huidige formaat van SêNet.
SêNet is nie 'n akademiese forum nie, wel 'n "kletsforum" waar enigeen sy sê mag sê oor enige onderwerp en hoe warmder hoe beter en vermaakliker. Sodra voorskriftelikhede toegepas word, moet die naam van "SêNet" dan ook verander word.
Skrywers gee hulle eie perspektief oor enige gegewe onderwerp. Die leser kry insigte van verskillende kante af, waarvolgens hy sy eie aannames kan maak, en self op kan respondeer. Bekgevegte maak die leesstof nog vermaakliker. Diegene wat beswaar het, kan sodanige briewe mos 'n mis gee.
Hoekom word politieke briewe deur Henk vir kritiek uitgesonder, wanneer die meer populêre godsdiensdebat in dieselfde bekgevegtrant geen melding oor gemaak word nie!?
Henk, wat anders is daar as indivudue waarvoor mens kan skryf? A skryf 'n brief en maak 'n stelling, B voel hy sit die pot mis en vertel A daarvan, C skaar hom by A wat B noop om weer vir C te skryf en so gaan die storie voort; A,B en C skryf onderling en langs die pad klim D, E en F ook in.
Op SêNet kan jy dus met 'n oogopslag tienntalle menings sien waarvoor, vir dieselfde plesier kan jy maar sê, jy tientalle blogs moet besoek en dan kyk jy nog die paar ook mis wat wat jou juis sou prikkel.
Op die manier is SêNet in effek 'n superblog.
In 'n mate het SêNet reeds afgeskaal met die dat daar nou voorsiening vir kommentaar onder aan briewe gemaak is wat nogal jammer is want die kommentaar is nou half uit die oog uit. Daar was 'n tyd wat daar tot 70 briewe 'n dag verskyn het; dit was een groot plesier.
Hopelik is LitNet meer as 'n ruimte vir 'n jammerlike getwis oor versinsels.
Henk,
Beste Henk,
Dankie vir jou brief. Ek begryp die hooftrant daarvan, en is akkoord daarmee. Jy moet egter in gedagte hou dat briefskrywers alleen kan reageer op briewe wat op SêNet gepubliseer word, en reageer op die inhoud van sodanige briewe.
As jy persoonlik geïnteresserd is om die standaard/gehalte van briewe en skrywes wat hier gepubliseer word te verbeter, doen ek 'n vriendelike beroep op jou om te begin skrywe. Ons sal dan verseker wees van briewe van 'n hoë standaard.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys