Ingrid Winterbach: Die Aanspraak van Lewende Wesens

  • 2

Lydia Pienaar (later Snyman), die destydse hoof van die kinderafdeling van die Kaapstadse openbare biblioteekdiens, het die standpunt gehuldig dat 'n kind se tyd as kind so kort is dat hy/sy aan net die beste leesstof blootgestel behoort te word, bv wat literêr die moeite werd is. 'n Mens kan hierdie gedagte uitbrei deur te beweer dat die lewe van enige mens so kort is dat jy jou tyd, soos die Bybel sê, moet "uitkoop"; dat jy te gou na jou verstektoestand, waar jy weer niks is nie, terugkeer. Daar is meer leesstof as wat enige mens kan baasraak. Soek dus sorgvuldig uit wat die moeite werd is om te lees.

Een van die maniere om leesstof uit te soek, is om jou op die mening van "kenners" te verlaat. As 'n boek telkens bekroon word, moet dit seker die moeite werd wees om eerder dit te lees as een wat nie opgehemel is nie. Ingrid Winterbach (gebore in 1948) se boek  Die Aanspraak van Lewende Wesens (Kaapstad: Human & Rousseau, 2012, 320p, $11.99), is meerdere kere bekroon. Eintlik durf ek nie suurgat daaroor wees nie. Wie is ek immers om met die geleerde literatore te verskil?

'n Leser het egter geskryf: "Ek het Ingrid se boek herlees en is verslae oor vyf pryse" (Die Burger, By, 12 deser, p 2). Dui dit aan hoe groot die kloof tussen die oordeel van leke en deskundiges is? In musiek is daar klaarblyklik 'n groot verskil tussen die getal aanhangers van ligte of populêre en klassieke musiek, soos blyk uit die voorraad van winkels wat klankopnames verkoop. In boekwinkels lyk dit egter asof die balans tussen twak en substansie heelwat beter is. Daarby gaan dit hier om 'n roman en nie om poësie of drama nie. Tradisioneel is 'n roman 'n storie wat leke kan geniet, of ten minste aanklank by kan vind.

Skryf is harde werk, hoor ons gereeld. Die ruim inkomste uit 'n boek is welverdiend as dit 'n "goeie" boek is. Wat is goed volgens die genoemde literatore? Blykbaar teks wat volgens die norme wat tans in die mode is, geskryf is. Die gevaar hiervan is dat tydloosheid en klassieke status in die slag kan bly. Die Winterbach-teks is as 'n Afrikaanse boek bekroon. Maar waarom is dit dan so vol onnodige Engelse woorde, frases en sinne? Omdat dit in die mode is. Myns insiens kan (feitlik) enigiets afdoende in Afrikaans verwoord word. Maak dit van my 'n literêre takhaar?

Moet ek eerder dankbaar wees dat die boektitel, anders as so baie hedendaagse "Afrikaanse" boeke, darem vry van Engelse woorde is? As ek 'n Engelse boek koop, is die teks in Engels. Waarom is Afrikaanse boeke nie in dieselfde vanselfsprekende mate in Afrikaans nie? Is verbasterde taalgebruik 'n gesonde aanwendsel/hebbelikheid? Word hiermee nie implisiet te kenne gegee dat Engels meerderwaardig in uitdrukkingsvermoë is nie? Is die oorvloedige verengelsing van Afrikaanse teks nie een van die tentakels of kankers waarmee Afrikaans- en Afrikanertrots ondermyn word nie?

Daar is in my gemoed twyfel oor die verskynsel, heel waarskynlik van Amerikaanse oorsprong, van skryfskole aan universiteite. Daar is die wesenlike gevaar dat (van) die uitkomste resepmatig kan wees; selfs wanneer die resep nie-resepmatigheid as ideaal het. Een sodanige resep het duisterheid, of ten minste ondeursigtigheid, as doel, bv dat daar kat-en-muis met die leser gespeel moet/mag word. Maar hierdie takhaarleser wil nie 'n kat of 'n muis wees of aan 'n speletjie deelneem nie. Hy begeer klokhelder prosa; dus dat die outeur moeite moet doen om hom/haar so duidelik moontlik uit te druk. Die onderwerp moet nie as verskoning geld nie. Hoe ingewikkelder die tema, des te groter die behoefte aan duidelikheid. Taal moet verkieslik so ondubbelsinnig moontlik kommunikeer; of dit nou feite of emosie of atmosfeer of wat ook al is.

Tot dusver het ek Winterbach se boeke vermy. Die rede is heel moontlik omdat ek nie van nog tweedehandse wysgerige idees kennis wou neem nie. As ek dit reg het, is die outeur se man 'n filosofiedosent. Die boek is aan 'n ander filosofiedosent opgedra. Die bekleërs van sodanige poste is al, nie sonder regverdiging nie, handelaars in tweedehandse idees genoem. Ek was dus lugtig om kennis te neem van wat 'n filosofiedosent se vrou skryf; onbewus van hoedanig die osmotiese beïnvloeding en hoe doelmatig die eggenootlike filters is.

Toe ek die opskrif van die eerste hoofstuk, "Relentless riffing", lees, het ek vir 'n oomblik gedink Amazon het dalk 'n Engels weergawe van die boek aan my gelewer. Heel aan die begin is daar 'n verwysing na die woord "aanspreeklikheid", wat as goeie Afrikaans bestempel word (Kindle 11). Maar onmiddellik daarna volg die anglisistiese: "Jy beter ..." In die res van die teks word Engels oorvloediglik gebruik, sonder om dit te kursiveer. Kursivering van al die Engels sou die bladsyspieëls esteties heeltemal opgedonder het.

Die outeur is sekerlik bewus van die bedreiging wat Engels vir respektabele Afrikaans inhou: "Siener Serfontein waarsku ook telkemale teen die groeiende imperialisme van die Engelse taal ... en die verwoestende invloed wat dit op Afrikaans het" (1684). Waarom sou 'n Afrikaanse outeur opsetlik hieraan meedoen? Is dit 'n geval van dislojaliteit teenoor die volkseie? Van die Iggy-karakter, wat Standaardafrikaans skryf, word gesê: "Dit puzzle hom eindeloos - as Iggy se kop so uitgehaak is, hoe is dit dat dit nie sy taalgebruik affekteer nie, hoe is dit dat hy dit regkry om al hierdie off-the-wall goed so presiés te beskryf?" (2156). Ten spyte daarvan dat die outeur bewus is van die bedreiging wat daar vir respektabele Afrikaans bestaan, lui een van haar kenmerkende sinne soos volg: "Good en solid en onherroeplik fucked" (2715).

Ek het sekerlik resensies van die boek gelees voordat ek dit gekoop het, maar ek kan my nie herinner dat iemand beswaar teen die oordrewe gebruik van Engels in hierdie oorwegend Afrikaanse teks geopper het nie. Ek kan min van die inhoud van die resensies onthou, maar ek herinner my dat Winterbach geloof is vir haar ontginning van die taal. Watter een: Afrikaans of Engels, of haar mengsel van hierdie twee?

Is dit werklik 'n weerspieëling van die toestand waarin Afrikaanse resensente en literatore verval het; dat doelbewus onsuiwere Afrikaans sonder protes gelees, bespreek en hartlik aanbeveel word? Is my suiwer taalgegronde kruistog teen Kaaps, wat aan dieselfde (ongeneeslike) Engelse siekte ly, onredbaar outyds en uit die bose? Is dit nie simptomaties van Afrikaners, wat hulle trots, insluitende hulle moedertaaltrots, verloor het, dat hulle gedwee aanvaar dat hulle en alles wat met hulle geassosieer word maar ondergeploeg en vertrap kan word nie? Het die politiek van die oomblik ons lotsbeskikker op iedere terrein geword? Is dit onherroeplik deel van ons "besnoeide" (42) of "ingekorte omstandighede" (100) wat sonder meer aanvaar moet word?

My beswaar teen Kaaps is dat 'n mens dit nie sonder kennis van Engels kan verstaan nie. Kaaps is in ruime mate nie-Afrikaans. In soortgelyke mate is Winterbachies nie-Afrikaans. 'n Engelse vertaling van die boek sou sekerlik in groter mate Engels wees as wat die Afrikaanse uitgawe Afrikaans is. As na volstoom ("full-on", 3552) Engels vertaal word, sou die vertaler heel moontlik minder per bladsy as die gewone tarief betaal kon word omdat so baie van die teks reeds in Engels is; juis veral daardie dele met seggingskrag. Dit is te betreur. Feitlik al die karakters praat dieselfde soort geradbraakte Afrikaans. Wanneer die outeur oor die karakters én oor ander sake skryf, is dit dikwels in dieselfde geradbraakte idioom. Ten minste in hierdie opsig is daar nie sprake van karakterontwikkeling nie. Die karakters gee getrou uitdrukking aan die outeur se geradbraakte Afrikaans.

Nie 'n enkele resensent het aanbeveel dat Winterbach 'n deel van haar prysgeld gebruik om 'n goeie Engels-Afrikaanse woordeboek aan te skaf nie. 'n Outeur hoef nie die moeite te doen om 'n gepaste Afrikaanse woord na te slaan as hy/sy sommer met die Engelse woord kan wegkom nie. Daarenteen is ek 'n lewende wese wat onmodieus aanspraak op Standaardafrikaans in 'n Afrikaanse boek maak. Ek het geen behae daarin as daar met my moedertaal gemors word nie.

Winterbach het goeie literêre aanvoeling. Daarvan getuig bv die titel van hierdie boek en ook dié van 'n vorige roman, Die Boek van Toeval en Toeverlaat (2006), wat ook vyf toekennings ontvang het en in Engels vertaal is. Daar is ook lang stukke teks in Standaardafrikaans, maar dan onthou Winterbach om weer met oorgawe na mengeltaal oor te slaan. Soms is die bedoeling goed, maar die formulering is van balans af: "maar ineens, 'n tydjie gelede, begin Maria verlang na stilte en afsondering. Genoeg van haar na iemand anders se ritmes en behoeftes te moet skik - hoe onveeleisend ook al die persoon se behoeftes, of voorspelbaar sy ritmes" (291). Let op hierdie woordvolgorde: "Iets het Benjy oorgekom" (2125). Let op hierdie slordige formulering: "Ek het aanpassings en verskuiwings moes maak" (2964). Soms vaar Winterbach beter: "In haar oë is daar die effense restant van vrees vir skaarste, vir 'n gebrek aan moontlikhede" (2478).

'n Bekende verweer is dat mense al hoe meer geradbraakte Afrikaans praat. Was dit nie die Genootskap van Regte Afrikaners se aanvanklike ideaal dat ons moet skryf soos ons praat nie? Maar hulle het Afrikaanse woorde eerder met verwysing na Nederlands en Duits as Engels gemunt. Daarna is Afrikaans met groot moeite gestandaardiseer en het dit geblom tot iets waarop ons trots behoort te wees. Wanneer 'n werk literêr bekroon word, is daar 'n sterk normatiewe element in sodanige uitspraak. Sou die outeur verkwalik kon word as sy aflei dat sy op die regte pad is en daarop moet volhard? Dit is immers 'n monetêr lonende rigting wat sy ingeslaan het.

Ek ontleed kortliks hoedanig die taal is wat literêr bekroon is. Dit is glad nie 'n volledige opgawe nie. Weens die ruimtebeperking word al die Engels, wat dosyne bladsye beslaan, glad nie hier herhaal nie. Die gevolgtrekking waartoe ek op grond van die volgende voorbeelde gekom het, is dat die outeur Afrikaans nie met die nodige respek behandel het nie.

* Anglisismes: Iemand gaan "sien" (66, 928, 935, 1710, 3214, 3692) pleks van spreek, besoek, ens. "Kyk" (391, 442, 1557, 1595) pleks van ondersoek, versorg, ens. "Min dinge gooi hom" (73), ontwrig hom. "Uitkyk" (860), dophou. "Eerste hulp" (1690), noodhulp. "Een en almal" (2099). "In soveel woorde" (3585). Die onuitstaanbaarste is die herhaaldelike gebruik van "doen" vir iets waarin iemand nie behae het nie: "Hy doen nie olie nie" (135; ook 141, 460, 1490, 1740, 2254). "Dokter, ek doen nie olie nie, ek doen nie dit nie, ek doen nie dat nie, ek was my hande, en ek tel. Ek tel my gat af" (2998). "Of hy doen nie meer suiker nie, of water, of sout. Die moontlikhede vir afwyking is eindeloos" (3004). "Hy doen nie diere met onhigiëniese gewoontes nie - verál nie varke nie - en hier stink dit boonop to high heaven" (3363). "Goed gedoen op skool" (2471) en "goed gedoen vir myself" (2478) pleks van gepresteer of gevaar. "Kom gerus langs" (1375), bedoelende blykbaar: probeer dit gerus.

* Vrot Afrikaans, insluitende nog anglisismes: "biere inhet" (100); "soos wat" (246) pleks van namate; "lyk op" (303) vir: lyk na; "adem ... op" (339) vir: adem in; "bloesems" (378) vir: bloeisels; "spuit" (384) vir: tuit; "skiep" (460) vir: oorslaan; "geëerf" (535) vir: geërf; "laat weet" (968) vir: verwittig; "spiritsagtige" (1125) vir: spiritusagtige; "kyk ... voor haaruit" (2505). Daar is beter Afrikaanse woorde as die volgende verengelstes: fabuleuse (1513), kontempleer (1582), getormenteer (2279), opgesoek (1942 - vir: nageslaan), enemmelbekers (2662), selfsorg-appartementjie (2739), nosies (2792 - vir: idees), opeindig (2866), opgeëindig (3572), gesjarmeer (3103), abominasie (3405), abrupte (3579), termineer (3685), invul (3363 - vir: inlig), opgetel (3638 - vir: ontvang), so (1879 - vir: dus). Waaragtig ook: "soomloos" (2860) pleks van naatloos. Winterbach onderskei ook nie tussen "boks" en "doos" (wat sy dikwels nodig kry) en "eens" en "eers" nie.

* In Winterbachies word die voorvoegsel "ge-" graag met 'n Engelse woord gekombineer: gesense (162, 1858, 3498), geclinch (211), gecheck (788), uitgecheck (705), gerape (1349), gegangrape (3028), gefight (1398), gehook (1410), deurgehike (1422), getape 1(422), gepush (1447), gesqueeze (1465, 2273), uitgepass (1734), gesnap (1740), getrigger (1858, 1892, 3606), uitgeblack (1917), ge-initiate (2012), geclaim (2150), gedrop (2590), gechat (2985), geframe (3173). Daar kom ook ander woorde voor waarin Afrikaans en Engels gekoppel word: afshow (674), canfruitbottel (1210), outdoor-aktiwiteit (1740), uitwipe (2118, 2303, 2542), uitgewipe (3534), afback (2583), afchop (2602).

Ek is diep bewus daarvan dat daar meer as blomme en doudruppels in ons ervaringswêreld is. Maar dit is myns insiens onnodig om bv die beskrywing van lyke en ander ongure dinge soos mensekskresies (insluitende nageboorte), hoere, afwykings en perserve praktyke (pedofilie, bestialiteit), duiwelse dinge, rituele offerande, bisarre, bose onderwêreldse dinge en sekere diere (bv varke en vlermuise) by die hare in 'n verhaal in te sleep. Die klimaat van hierdie roman is vir my afstootlik. Dit is 'n geval van "soveel ontwikkelinge wat buite my bestaande verwysingsraamwerk val" (2921) en waarvan ek liewer nie kennis wil neem nie. Die uiteinde van die verhaal is destruktief: "Dat sy ons die boodskap gegee het dat die wêreld nie 'n bewoonbare plek is nie" (3676). Die beskrywings is deurspek met die platvloerste Afrikaanse en Engelse woorde. Die teks is "'n instrument van donkerte" (3519) of die onaangename. By my het die teks soms die indruk van 'n poging tot moedswillige "kuns" en aangeplakte boheemsheid gewek: "Vir al wat ek weet 'n wenresep. Aanvaarde norme so opgeklits dat all the king's horses & all the king's men hulle nooit weer aanmekaargesit kry nie" (2891).

Dit is eerder die uitsondering as die reël dat ek 'n Afrikaanse boek lees. Ek sou dit sekerlik graag andersom wou hê, maar die onderwerp bepaal meesal deurslaggewend my leeskeuse. Maar ek sien altyd daarna uit om 'n hele boek in Afrikaans te lees. Lanklaas was 'n leeservaring so onbevredigend soos hierdie een. Dit sou oordrewe wees om te beweer dat die taalgebruik my deurgaans geïrriteer het, want daar is lang gedeeltes teks in Standaardafrikaans. Maar daarna volg die skynbaar onvermydelike geradbraakte dele. Daar is ook te veel kwalik funksionele (internet-?) inligting oor bv diere, populêre musiek en beeldende kuns.

Een van die karakters "hoop om nog eendag 'n regte roman te skryf - iets groots, eksperimenteels en ambisieus" (853). Van hierdie ideale kom net een in hierdie boek tereg, naamlik die eksperimentele. Die struktuur wat aan die roman gegee is, dui op vernuf by die outeur, maar daar is geen grootsheid in die tema nie en die leser word nie met noodwendigheid meegesleur nie. Daar is veel eerder 'n sug na die absurde. Byvoorbeeld, die "pleegplaas" (2842) of "nedersetting" (2952) teen Tafelberg toon myns insiens dat die outeur na-aaping van 'n Etienne Leroux-roman in gedagte gehad het. Ek slaan 'n ander Afrikaanse boek wat ek onlangs gelees het, Dominique Botha se Valsrivier (SêNet 17 September), literêr baie hoër aan as Winterbach se boek. Maar wat ek hier weergee, is bloot die reaksie van my as leser; iets wat nie op algemene geldigheid aanspraak maak nie.

Ek gaan nie nog 'n Winterbach-boek koop en lees nie. My voorspelling is dat die bespreekte boek oor 'n eeu nie as 'n meesterstuk aanbeveel en gelees sal word nie. Daarvoor is die teks te kronies tydgebonde. Miskien sal daar dan enkele navorsers wees wat na die teks verwys as 'n klassieke voorbeeld van die ruime mate van verwording wat literêr "aanvaarbare" Afrikaans ondergaan het binne twee dekades na Suid-Afrika se politieke "bevryding". Die boek is nader aan die "prullaria-" (2577, 3160) pool van die kontinuum wat by die teenoorgestelde pool plek vir meesterstukke het.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • George Bekker

    As iemand wat voortdurend met nie-fiksie deurmekaar is sal dit vermetel wees op hierdie resensie te probeer reageer. Nogtans, sal ek een Winterbach-sinnetjie probeer verbeter. "Good en solid en onherroeplik fucked."

    Behoorlik, solied en onherroeplik opgefok. Die woord "opgefok" dra die (vermoedelike) toestand soveel beter oor as die kale "fucked", of wat praat ek alles?

    Johannes, lekker lees met die minimum van frustrasies.

    George

  • Johannes, dis 'n raaisel.  Ek dink die mense wat hierdie geradbraakte Afrikaans vir lief neem is goeie, lojale burgers ... van wie ookal in bewind is, in hierdie geval die Engelse (die huidige regering is maar 'n uitbreiding van Haar Majesteit se regering; ons is weer 'n kolonie).

    Ironies dat hulle nou, jy kan maar sê 'slawe', is van 'n volk wat self, so sê hulle, nooit slawe sal wees nie.  Churchill het dit só uitgedruk: Britons never shall be slaves.

    Jan Rap

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top