Hulle ken haar nie

  • 0

Sy sê sy weet nie of sy vir nog vier of vyf jaar sal kan werk nie.

“Sien, my suiker is nogals hoog. Die kinderse wil nie vir my meer tjoklits bring nie , hulle sê dit is sleg vir my suiker. Wat weet hulle van die suiker af, hulle is g'n dokters nie?!”

Terwyl groen saadjies uit die skadunet van die melkhoutbome se gevlegte takke kort-kort op en om my sag neerreën, sit ek en luister na ons seun en die blaasorkes se oefenstukke. Elke lied begin al hoe meer vorm en ritme kry en al is daar dan en wan 'n saksofoon wat die noot verloor, is die gros oppad na die mooiste uitvoering. Al wat skort is oefening; net oefening.

Iets in die hierdie egte gestaltevormende klanke, al is dit nog nie noot-suiwer nie, herinner my aan die waardevolle oomblikke wat die besoek aan hierdie voorgeelose kampterrein, waar dit onder die wakende sorg van die berg, die bome, die voëls en tante Francis skuil, vir my gedagtegang sou inhou.

Sy vertel dat toe sy en haar ou man, wat nou ook al in die grond is, destyds hier op Wortelgat aangekom het, was hier niks. Die melkhoutbome het gesukkel om tussen die Port Jacksons en die ander gemors te oorleef. Hulle het met die hand die goed begin uithaal en ’n bewaringsparadys gehelp skep.

“Hier was niks. Ou Jake, hy was daar van die land af” – later sou ek agterkom dat sy na die Oos-Kaap verwys – “het 10 jaar hier gewerk. Toe is hy weg.”

Hoekom is hy weg?

“Hy het siek geword. Hier was mos nie dokters nie. Die kwak op Stanford daai jare wou nie eintlik na swartes omsien nie.”

Jake het TB gehad.

“Die base het gesê ons moet hom net uit die reent uithou en panado's gee. Maar die dag toe die ou man nie meer kon werk nie, toe het hulle vir hom 'n “sixpens se tjips” gegee en hom gegroet. Hy het gedink die hopie tien rand-note wat in sy gatsak gestop was, het hom nou ryk gemaak.”

“Wat van ryk wees, daai geld, ’n duisend rand vir tien jaar se werk, het hom skaars tot die einde van die volgende week gehou...” Die antie gaan voort en kleur die verhaal en woorde met ‘n paar matroosdigsels in; kleurryk, onvroulik, maar eg Kaaps. “Hulle het 'n ding aan die kom, as hulle dink dat hulle my so gaan vang! Ek is niemand se fool nie.”

Sy vertel dat die nuwe baas van 'n klompie jare gelede met haar kom sukkel het. Sommer skoor gesoek het.

“ Vir my kom vertel dat ek sis en so ure moet werk. Dat ek holhang en te veel eet. Dit terwyl ek elke dag die kombuis aan die gang het, voor hy nog nie aan brêkfis kon dink nie! Hy wou nog iets sê oor ek hier op die plaas kan bly, toe wys ek hom: ék is nie verleë se kind nie!”

Die werkers se kliphuise is net so ‘n kraaispoeg van die kampterrein af.

“Toe hy die volgende môre by my slaapplek kom, toe is ons weg. Ek het vir ons ' n huis op die dorp gekry en daar bly ek al nege jaar. Nee, hulle ken nie vir my nie. Ek gaan my nie laat vang nie...” en sy draai die drie braaiende roosters met hoender en wors sommer so amper gelyktydig om. Die antie ken van braai en vanaand sal die kindergaste dit kan geniet.

“Let there be love shared amongst us....” klink dit doer anderkant oor die draadloos in die kombuis; die eetsaal wat eens 'n perdestal was. ‘n Slaapplek vir ou werksdiere...

Die skrikwekkende werklikheid is egter dat alhoewel die perde plek gemaak het vir 'n kombuis en tafels en stoele, die stal se oogmerk net in naam verander het. Vir die meeste van die tyd is daar steeds "werksdiere" in die stal, diere wat daar is net vir 'n doel; vervangbare diere.

Seker soos die res van ons.

“Another one bites the dust,” begin die orkes hul laaste lied vir die naweek, net toe die kombuistannie met krom skouers en ’n glimlag verbystap ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top