Hulle ken nie die Karoo soos baie van ons hom ken nie: die dorre uitgestrektheid, die wye stilte, draaiende windpompe met 'n straal vars water wat skeef gedruk word deur die wind voor dit in die sementdam val. Die baie romantiese stories wat daar afgespeel het, hulle ken nie Lawrence G Green nie en nog minder sy boek Karoo.
Hulle het die Karoo nie lief nie, daarom gee hulle nie om hom vrek te maak met hul "fracking"-masjiene nie. Die vlaktes waar troppe van duisende springbokke eens geloop het, sal dan totaal dood wees, sy waterbronne vergiftig, geen lafenis vir mens of dier nie. Selfs die bossies sal vrek, die skape sal nie meer kos hê nie en dan sal ons sit met 'n totale woestyn soos die Namib.
Hulle moet gestop word!
Groete,
Varkspek


Kommentaar
Stem saam met elke woord.
Ek kan nie sê dat ek die Karoo ken nie. Ek weet van die belangrike rol wat dit in ewolusie gespeel het, en dit raak my op metafisiese vlak as 'n ruimte met 'n groot gees, met diep wortels in ons wording. Hoe ouer ek word hoe meer verbonde voel ek my met die aarde en met die aardse.
In die Waterbergbosveld word geweldige druk op die regering uitgeoefen vir lisensies vir eksplorasie vir steenkool oor 'n groot gebied, oa in die Nylsvlei-vloedvlakte. Daar is verskeie plaaslike instansies wat hul hierteen verset, maar my mening is dat hulle die stryd teen die gieriges gaan verloor as die res van ons land nie saam gaan walgooi nie. As steenkoolmyne hier tot stand sou kom, beteken dit die einde van hierdie pragtige boswêreld.