Hulle het nie die Karoo lief nie

  • 3

Hulle ken nie die Karoo soos baie van ons hom ken nie: die dorre uitgestrektheid, die wye stilte, draaiende windpompe met 'n straal vars water wat skeef gedruk word deur die wind voor dit in die sementdam val. Die baie romantiese stories wat daar afgespeel het, hulle ken nie Lawrence G Green nie en nog minder sy boek Karoo.

Hulle het die Karoo nie lief nie, daarom gee hulle nie om hom vrek te maak met hul "fracking"-masjiene nie. Die vlaktes waar troppe van duisende springbokke eens geloop het, sal dan totaal dood wees, sy waterbronne vergiftig, geen lafenis vir mens of dier nie.  Selfs die bossies sal vrek, die skape sal nie meer kos hê nie en dan sal ons sit met 'n totale woestyn soos die Namib.

Hulle moet gestop word!

Groete,

Varkspek

  • 3

Kommentaar

  • Johann de Lange

    Ek kan nie sê dat ek die Karoo ken nie. Ek weet van die belangrike rol wat dit in ewolusie gespeel het, en dit raak my op metafisiese vlak as 'n ruimte met 'n groot gees, met diep wortels in ons wording. Hoe ouer ek word hoe meer verbonde voel ek my met die aarde en met die aardse. 

     
    Net waar mens kyk, is daar tekens van ons vernielsug, selfsug, eiegeregtigheid, die disrespek teenoor alle vorme van lewe waarmee ons nie net die planeet nie, maar 'n ewolusionêre verbintenis deel. Ons weet dat  'breking' nêrens elders gewerk het sonder verreikende skade nie. Dit is so dat ons voor 'n kruispad staan wat betref ons energiebronne en afhanklikheid van energie, en dit is ongelukkig ook so dat ons geneig is om te gaan vir die maklike oplossings. Orals is wetenskaplikes en gewone mense besig om nuwe deurbrake te maak wat hóé ons leef gaan transformeer. 'Breking' mag op die korttermyn na 'n oplossing lyk, maar die nadelige gevolge daarvan sal vir millennia nie ongedaan gemaak word nie. Kyk na hoe ons steeds ons wêreld vergiftig met kernkrag na dekades van gebruik. 
     
    Dit is belangrik en die moeite werd om met alles wat ménslik is in ons verset te bied teen die planne om met 'breking' in die Karoo voort te gaan. Ons het genoeg aan besoedeling van ons waterbronne deur goudmyne waarvoor niemand nou die verantwoordelikheid wil aanvaar nie, en regering nie toegerus is om reg te stel nie, en te hardegat om na raad te luister, verál as dit van blankes kom. Het dit  nog nie deurgedring dat ons almal sáám op hierdie blou bal leef nie? Jy kán nie jou rug draai en sê 'n aardbewing dáár, of 'n vulkaniese uitbarsting dáár is nie my probleem nie. Dit is. Ons samelewing is so kompleks dat alles nou baie duidelik verbind is. Siektes, die ekonomie, alles kan in óns land 'n invloed hê al gebeur dit duisende kilometers ver van hier. 'Breking'  is nie die Karoo se probleem nie, dis ons almal se probleem. Moenie toelaat dat ons dit ook op die harde manier leer nie.
  • In die Waterbergbosveld word geweldige druk op die regering uitgeoefen vir lisensies vir eksplorasie vir steenkool oor 'n groot gebied,  oa in die Nylsvlei-vloedvlakte.  Daar is verskeie plaaslike instansies wat hul hierteen verset, maar my mening is dat hulle die stryd teen die gieriges gaan verloor as die res van ons land nie saam gaan walgooi nie. As steenkoolmyne hier tot stand sou kom, beteken dit die einde van hierdie pragtige boswêreld. 

     
    Enjee
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top