Hoeveel tyd het ek

  • 1

Die bewaarders van die taal het menigte gedigte en volksverhale en gesegdes met hul griffels en potlode op ’n skryfblok, papiertjie of sigaretpakkie oor die mistieke van tyd neergepen.
Paulus het vir die gemeente in Efese hieroor aangespreek en voorgestel dat hulle “die tyd moet uitkoop”. Sangers sing daaroor en teoloë argumenteer daaroor, filosowe skryf daaroor en moeders bid daarvoor.

Vandag nog, is die gebruik en veral die vermorsing of benutting van tyd, ‘n gunsteling onderwerp in die meeste predikers se repertoire. Die sogenaamde sosiale media neem egter deesdae die voortou met boodskappies van kalmte en vrede met tyd en leef vir vandag en vergeet van gister en geniet die gawe van die oomblik, wat kunstig en treffend geskryf staan op agtergrond-invulprentjies van stille natuurtonele en ander onbereikbare omgewings. Alles net om tyd te verwoord, te beklemtoon en soms te verstaan.
So met al die lees, luister en leer, het elkeen van ons ’n tydsbegrip ontwikkel, of moontlik selfs meer, ’n begrip vir tyd.

Die geleerdes van die Woord vertel vir ons dat ons ingebore skuldgevoelens deur die kerklike hervorming van Calvyn onderstreep word; alhoewel daar bitter min van onse ou dwars vriend Calvyn in die later jare se Calvinistiese lewensbeskouing gevind kan word. Maar, ieder geval, alhoewel ek geen teoloog is nie, bly dit vir my ’n ongemaklikheid om op ’n Sondag in die winkelsentrum rond te lê en dan nog boonop die ondenklike te doen: om te gaan fliek!

Daar staan dit nou: ’n biegstorie vir die agterblad van enige kerklike sensuurskrif; ek hét op die rusdag gaan fliek!

Ek wonder of Calyn ook sou wou fliek, as hy die kans kon kry om die tyd vorentoe te draai, met ’n vars blinke Switserse horlosie aan sy pols behang en dan met ’n pak warm springmielies en “slush-puppy” rustig in een van die fliek se nuwe sagte stoele weg te diep...

Die klomp ou mense in Indië, wat die ietsie oor die twee ure se fliek so vinnig soos ’n preek voor ’n doop laat voel, het dit weereens reggekry om hierdie nasaad van Calvyn dankbaar vir die Engelse taal te laat. Sonder om eenogig en skaamteloos voorbrand vir ’n rolprent te maak, moet ek ongelukkig verder bieg deur te sê: gister het ek weer ’n stuk waarheid gaan vind, daar waar dit nie veronderstel was om te gebeur nie – in ’n prent.

Nie net spreek die skrywers van die draaiboek en die onewenaarbare akteurs se rolvertolking amper elke kwessie van ons twyfeling vandag aan nie, hulle kry dit reg om ‘n mens se gemoed van swaargrys na verligwit binne daai twee ure te verander. Ek wonder hoeveel van ons geleerde vriende in die openingsparagraaf van hierdie opstelletjie kan dieselfde sê?
Die vraag wat egter by my bly rondhang sedert die fliek is, “How much time have you got?”

Hoeveel tyd hét jy?

As ons die vraag kon antwoord, dan sou elkeen van ons moontlik iets anders met hierdie nuutgevonde wysheid wou en kon maak. Wat dit is, skeel my nie in die minste nie; wat my wel pla, is watter deel van my gedagtes sou ek eerste aan uiting gee?

Die ander dag toe hoor ons op die draadloos van een van die brandblusvlieëniers wat saam met sy helikopter die ewigheid in is. Daarna hou die mense betragting met repliek en die joernaliste skryf onderhoud na onderhoud oor die geval, sy vriende en die mense daaragter. Maar nie een van die joernaliste kon met die helikopterman weer ’n onderhoud voer nie; want sy tyd was op.
Daai oorlede minister van ons, met die haastige drywer en die trok dwars in die pad ... hulle tyd was op.

Sou dit ’n verskil aan enige van hierdie mense gemaak het indien hulle geweet het hoeveel tyd hulle nog het? Sou dit ’n verskil aan hulle mense gemaak het? Seker tog.

Moontlik is die lewensbedoeling dat ons juis nie moet weet hoeveel tyd ons beskikbaar het nie. Dat ons juis die “lucky packet” van die lewe moet leef. Sodat ons nie wil weet wat aan die ander kant van die volgende draai wag nie; of aan die binnekant van ’n nuwe geleentheid. Sodat ons juis kan leer om te luister, nie na die leringe van lekkervoel-kaartjieskrywers nie, maar na die waarheid van God se genade, die waarheid van Sy bestaan en dat ’n lewe van tagtig jaar steeds te min mag wees om dit alles te snap, te waardeer en te deel met ander. Ook so dat twee minute genoeg kan wees om dit wel te doen!

Hoeveel tyd het ek en jy?

Net genoeg my ou, om dit behoorlik te gebruik.

  • 1

Kommentaar

  • Dit is 'n onderwerp waaroor ure gestoei kan word. Ek het iewers gelees, ek dink dit was Alexander die grote wat op sy sterfbed gesê het dat al sy skatte op die pad na sy graf toe gestrooi word. Sy hande moet leeg wees want dit is 'n voorbeeld dat niks saam met hom gaan nie. Hy moet onthou word dat die kosbaarste kommoditeit nl tyd vir hom uitgehardloop het. Ek het 'n wrewel daarin as iemand vir my sê hy/sy is op 'n sekere tyd op 'n plek en is nie daar nie. Ek is nie Pontius of sy nefie nie. Ek is altyd 5 minute vroeg, wag dan gewoonlik 5 minute as die persoon nie daar is nie ry ek. Jy het 'n selfoon; hê net die ordentlikheid en bel my. Ek het baie tyd ek het net nie tyd om te mors nie. Die konsep van Afrika-tyd is ook al uigedien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top