Hoekom jaag ons so?

  • 2

Iets wat my baie lank al pla. Ek wil nie veralgemeen nie, maar ek’s seker ek’s nie die enigste een wat so voel nie.

Ek ry op die pad en daar is al weer ’n ongeskikte buffel wat met sy Landrover by my verby jaag. Voor ek swets, skiet dié gedagte in my op:

“Hoekom jáág jy so?”

Ek besef dat die vraag nie net aan die denkbeeldige buffel gestel is nie, maar dat die vraag ook op my van toepassing is.

Ek vra weer, die keer vir myself: “Hoekom jaag jy so?”

Ek is dadelik reg met verskonings: “Want ek moet nog dit en dit doen en voor dit moet ek dat doen en dit moet nog vandag klaarkom.”

“So what?”

Ek skrik vir die gedagte en dink aan die boodskap wat etlike kere in ons kerke gepreek word: “Die liggaamlike lewe is ’n speldeprik in vergelyking met die hiernamaals. Die ewige lewe.”

Die lewe is eintlik so kort. Hoekom jaag ons dan so? Jaag ons nie dalk by die lewe verby nie?

Party mense jaag asof die duiwel agter hul aan is.

Almal is haastig. Ons is haastig om ons kinders by die skool te gaan haal, om betyds by die werk te wees en ons wil die perfekste “ek” wees wat alles self dadelik kan uitrig.

Ongeskiktheid en verbyjaag is ook nie net beperk tot Landrovers en 4x4’s nie. Selfs ek in my rooi Gholfie kan ongeduldig raak as ek agter iemand moet aanry teen ’n slakkepas.

As ek na al die motorvoertuig-advertensies op TV kyk, bring dit my tot ’n volgende vraag: “Ly ons aan ‘jaagduiwelsindroom’? Is ons maar net verslaaf aan spoed?”

Verslawing aan spoed gaan ook gepaard met padwoede. Ons spring so maklik op ons perdjies en skel mekaar uit en wys vingers.

Ek wonder partykeer of ons nie TE VEEL ingestel is op onsself nie.

Vir die laaste paar dae draai daar twee liedjies van my kinderjare in my kop rond. As mens dit vir jouself sing en na elke woord kyk, dan besef mens dit is eintlik hoe meeste van ons se lewens lyk.

Ek’s seker daar’s ’n hele paar mense wat hierdie liedjie kan onthou:

“Hier’s Ek weer, hier’s Ek weer
met my rooi rok voor jou deur.
Ek wil jou , ek sal jou kry!”

Maar onthou julle ook hierdie ene:

“O, Ek het ’n perd. ’n Blinkvosperd.
Met ’n splinternuwe saal.
En Ek klim op my perd. My blinkvosperd
en Ek kom om jou te haal.
Want jy het gesê as Ek jou wil
dan moet Ek jou kom haal.
Met my mooi ryperd, my blinkvosperd
met ’n splinternuwe saal.”

*Ek het aspris die “ek” ’n hoofletter gemaak. Die blinkvosperd met sy splinternuwe saal kan ons splinternuwe, peperduur sportmotors wees waarmee ons so rondjaag. Die woorde “hê” en “haal” wou ek ook beklemtoon.

Ons lewe in ’n “Instant” wêreld. “Ek wil dit hê en ek wil dit NOU hê!” Ons klink soos driejarige kinders wat nie ons sin kan kry nie.

Klim bietjie uit jou kop en jou besige wêreld.

Die volgende keer wanneer jy ongeskik by iemand verbyjaag of swetsend teen ’n slakkepas aanry, vra jouself af: “Hoekom jaag jy en is dit regtig die moeite werd?” En voordat jy verskonings opmaak, sing ’n bietjie:

“O, Ek het ’n perd. ’n Blinkvosperd ...”
 

Dada vir nonsies

  • 2

Kommentaar

  • Dit is in ons aard om haastig te wees.  Om agter iemand wat teen 'n slakkepas aankarring is baie meer frustrerend as wat dit is wanneer iemand verby jou jaag.  Om die waarheid te sê, iemand wat verbyjaag is GLAD nie frustrerend nie want hy gaan jou nie briek nie.  Ek kan nie vat om gebriek  te word nie selfs al is ek nie laat nie.

    Die verskil tussen haas en vertoef is soos die verskil tussen x% rente en (x+1)% rente; in die nabye toekoms is die verskil amper nalaatbaar maar oor die langtermyn is daar 'n reuseverskil.  So is dit dan dat vertoewers nog lewe soos duisende jare gelede en hasers het al op die maan geloop.

    Die vraag is nou wie het die beste lewensgehalte.  Ek sou sê die vertoewers.  Ons hasers jaag in ons malle verstand in en waarvoor?  Dis soos die psalmdigter sê, dis 'n gejaag na wind.

    Jan Rap

  • Wel Jan Rap en Dada,

    Voorwaar het hierdie jaar ook verbygejaag. Dis nie net karre nie. Selfs my kalender hier teen die muur gly die afgelope tyd aanhoudend af onder die las van afsprake wat ook meer word na 2013 se einde toe. Swaargedra. (En natuurlik het Hy deurgedra.)

    Kan nie wag om die stad koebaai te wuif en net in die stil oerwoud in 'n afgesonderde cabin in die berg te gaan rus nie. Tussen mis en stilte gedurende Desember. Daar wil ek 'n 'vertoewer' word, soos Jan sê, om my hasers-wonde te gaan salf.

    Mense hang al Kersliggies. Vakansie wink hul vlerkies. Desember-bonusse wort afgetel. Dis 'n goeie tyd ... Mag ons Sy goedheid nooit vergeet.

    Daarna sing ons almal saam: "O, ek het 'n perd, 'n blinkvosperd, en 'n splinternuwe JAAR!"

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top