Speurders kom haal vir Arthur, my getroue regterhand gisteroggend vroeg. Sy vrou is oorlede. Gatslag. Ek stop hom ‘n paar bloues innie hand want ek kan hom nie rondry nie, kan by gebrek aan tyd, nie self instaan nie al sou ek hoe graag wou. Want, soos ek reeds gesê het iemand het mos besluit 'n werksdag moet so min ure moontlik hê (daardie iemand moet 'n goeie pak kry volgens my). Speurder Rabie beduie op my versoek dat hy sal kyk dat dinge reg gaan en sal sorg dat haar lyk na gekyk word.
Vanoggend daag haar familie hier op en gooi 'n begrafnisrekening op my lessenaar neer. Nie met 'n hartseer gesig en versoek om by te dra nie, aikonna. Die reuk van suurwyn hang swaar in die lug en wyn-asems is nou nie iets wat ek op my nugtermaag wil geniet terwyl my koffie nog louwarm is nie. En as dit jou dogter is wat in die yskas lê en jy sit en suip ... ja wel.
Ek sê vir hulle om die rekening te los ek sal kyk wat ek kan doen. Op pad deur toe hoor ek hulle onder mekaar hard genoeg, en logies, sodat ek dit moet hoor: "Hy werk vir die boer, die boer moet betaal". En toe verloor ek dit vir die hoeveelste keer die laaste paar dae ...
Punt is, ek het, toe my getroue regterhand gister hier weg is, myself reeds voorberei om die grootste deel van die kostes te dra. Al weet ek sy vrou het haar allpay elke maand uitgesuip en my werknemer se maandelikse salaris grootliks by die kantien spandeer. Huis verniet gekry. Ek sit en kyk vandag na die tjekboek se teenblaaie. Want al is ek ongelowig kan ek nie kies wie oor my pad kom nie, en as iemand oor jou pad kom moet jy sorg. Klaar gepraat.
Sit en wonder heeldag: Wat is dit, hierdie entitlement wat posgevat het onder hierdie land se mense? Waarom moet ek voor 'n morele verpligting geplaas word en dit in my gesig gegooi word? Bloot omdat ek 'n sg "Boer" is? Per definisie ryk ook moet wees?
Intussen staan my getroue regterhand met trane in sy oë: "Ek wil haar net in die grond kry ..."
oester


Kommentaar
Oester, ek moet jou op die skouer klop. Jy het wragtag waar meer geduld as ek. Johannes Kerkorrel het van die "Kinders van Afrika" gesing. Ek wonder net van wie het hy gesing.
Daar is nog iets wat pla, Oester, vriende wat geld wil leen raak al hoe meer. En dis asof hulle jou kwalik neem as jy nie wil nie. Hoe sê mens op 'n mooi manier nee?
Ja nee, Reusedwerg het die klok hoor lui maar weet nie waar die bel hang nie. Dit was toe nié Kerkorrel wat van die "Kinders van Afrika" gesing het nie. Dit was Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock. Van wie het hulle gesing? "Die kinders van Afrika...sit langs die vuur, krap in die louwarm as..."