Hoe laag kan standaarde op Universiteit Stellenbosch daal?

  • 3

Watter taalpraktisyn wat sy of haar sout werd is, sou ’n nagraadse kursus wou volg by ’n universiteit wat deurlopend taalfoute in ’n advertensie publiseer? Ek verwys na die Universiteit Stellenbosch se advertensie met opskrif “Nagraadse Programme in Vertaling” soos gelees op LitNet, vandag 19 Augustus 2013. Tydens drie dekades wat ek brood op my tafel gesit het deur Engelse geskrifte van allerlei aard in Afrikaans te herskryf sodat die oorspronklike betekenis van sulke geskrifte duidelik gekommunikeer word in stylsoorte wat pas by die oorspronklike geskrifte, maar in die teikentaal, Afrikaans, het dese handeling alom bekend gestaan as “vertaal” en het hierdie woord gedui op handeling van betekenis uit een taal skriftelik oordra na ’n ander taal. Die geskrewe dokument (die produk van die vertaler se werk) het bekend gestaan as “vertaling”. Dit was ’n selfstandige naamwoord. Dit het my telkemale opgeval dat hierdie twee woorde onderskei tussen die werk (die en die doen daarvan) en die eindproduk van die handeling om die werk gedoen te kry en dat sodanige onderskeid besonder nuttig was, veral vir gebruik op fakture vir diens gelewer, sodat ek betaal kon word.

Luidens die Pharos se 5 in 1 is die Engels/Afrikaanse gebruik van die twee woorde vir wie weet hoeveel mense, as volg:  ‘vertaling’ 'n getroue/noukeurige vertaling a close translation; 'n vertaling van iets maak do/make a translation of s.t., translate s.t.; 'n vry(e) vertaling a free translation. vertaal´, (|vertaal ~), translate, render, construe; uit DUITS in Afrikaans |vertaal ~, translate from German into Afrikaans; LETTERLIK |vertaal ~, translate literally; WOORDELIK |vertaal ~, translate word for word; |vertaalbaar ~baar, (..bare), translatable; |vertaalburo ~buro, translation bureau; |vertaalkuns ~kuns, art of translation; |vertaalkursus ~kursus, translation course; |vertaalmetode ~metode, translation method; |vertaaloefening ~oefening, translation exercise; |vertaalreg ~reg, right of translation; |vertaalwerk ~werk, translation (work); |vertaalwoede ~woede, translation mania.

Miskien sal die Departement Afrikaans Nederlands van die Universiteit Stellenbosch belangstellende lesers van LitNet inlig (hier op LitNet) oor wanneer het betekenisse van “vertaling” en “vertaal” verander? Met ander woorde, wanneer het gebruik van die woord “vertaal” verander na “vertaling”? [Of het die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans Nederlands maar net verleer om Afrikaans goed te besig, maar wil graag nagraadse kursusse daarin aanbied?] Waarom kry ek die indruk dat ons hier te doen het met “translasies” uit Engels in geradbraakte Afrikaans, pleks van nie met goeie “vertalings” en dit op universiteitsvlak?! En boonop vir kursusse in vertaalwerk, redigeer en tolk?! Ook doen hierdie advertensie se kopie weg met onderskeid tussen “redigeer” (die handeling) en die resultaat van sodanige handeling, of te wel, “redigering”. En wanneer het “tolk” (wat luidens Pharos - tolk, (s) (-e), interpreter; dragoman; mouth-piece; (w) (ge-), interpret.) beide selfstandige naamwoord en werkwoord is, en een woord die werker, asook die produk van die werker aandui, verander na “tolking”? Interessant genoeg, lewer “tolking” wanneer hierdie woord insleutel per navraag in my Pharos-programmetjie, slegs die boodskap “there are no hits for the query”. “tolking” is ook nie ’n inskrywing in professor DB Bosman, prof IW van der Merwe en dr LW Hiemstra se Tweetalige/Bilingual Dictionary nie. Is die gebruik van “tolking” uitsluitlik beperk tot die kampus op Stellenbosch?

Het die standaarde vir Standaard Afrikaans by Universiteit Stellenbosch so laag gedaal, dat onderskeie betekenisse van sleutelwoorde verwant aan vertaal in Afrikaans omgeruil en/of mee weggedoen word? Ek wonder maar net. Gevolglik dese “SêNet-brief ”: u reaksie asseblief – Departement Afrikaans Nederlands – Universiteit Stellenbosch.

Henk Seymore
19 Augustus

  • 3

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Uitstekend, Henk! My HAT (2000) onderskei tussen vertaal (ww) en vertaling (snw) en tussen tolk (snw & ww) en getolk (ww). Dit lyk asof die agteruitgang van Afrikaans op die US-kampus nou ook sy department Afrikaans binnegedring het.

     

    Johannes Comestor

  • Dag Henk, man ek dink die verval oor alle gebiede sal maar net aanhou. Afrika lyk my is maar die agterplaas van die wêreld en onderhoud van enigiets is 'n volksvreemde ding vir die volke. Oorsese bedelary is 'n groot Afrika-industrie en ek is uitgesproke daaroor dat Afrika nie geld verdien nie. Dit is my opinie dat Afrika nie oorsese hulp nodig het nie, maar beslis oorsese bestuur nodig het.   Politieke korrektheid, (wat 'n klug) maak dat die Weste met dom grinnike anderpad kyk terwyl die Sjinese volstoom werskaf om Afrika in 'n Sjinese agterplaas te omskep.   Maar nou ja, dis net my beskeie mening.   Duitswester

  • Hallo  Duitswester,

    U  skuilnaam en veralgemeende "beskeie" mening het my geheue sowat  veertig jaar die verlede ingestuur. My ouma was die enigste mens wat ek  ooit gehoor het wat na Suid-Wes-Afrika verwys het as "Duitswes".  Haar segswyse in die verband was vir my as tiener vreemd, ouderwets,  oulik en ietwat onvanpas (soos 'n dowe mens wat nie heeltemal reg hoor het nie  en dan "skeef" praat vir 'n elfjarige tot dertienjarige kind sou  voorkom).

    U  skuilnaam en u reaksie wat so wyd strek dat dit net mooi alles  kan  dek (ook terminologie daarop toegespits om taalpraktisyns se  doen en late beskryf) herinner my aan my ouma  se "Duitswes-skeefpraat-ding". Dit dateer uit ongeveer 1961  tot 1963 toe sy herhaaldelik maande lank in my ouers se huis by ons  as gesin gewoon het en ook sulke wydstrekkende, maar onvanpaste  voorskriftelikhede geopper het in verband met die meeste dinge.  (Opvallend: sy het haar mening ook as "beskeie" bestempel,  maar seker gemaak almal hoor dit is meer voorskriftelik as die  tien gebooie wat God vir Moses gegee het.) Destyds het feitlik elke  nuusberig oor die destydse SAUK-radiosenders vermeldings gemaak oor Suid-Afrika se houding  teenoor die Verenigde Volke se standpunt oor hierdie land se  beheer oor wat destyds bekend gestaan het as Suid-Wes-Afrika. Ouma het  knaend voorskriftelik gepreek oor implikasies van dese   vermeldings en haar voorskriftelike preke agterna haar  "beskeie" mening genoem. 

    Ek besef  dat alle katte nie ewe grys kan wees nie, en ook nie ewe wys kan wees  nie, al skuil hulle ook almal onder een en dieselfde kombers, dws "veralgemening".  Ek begryp ook skuilname en wydstrekkende komberse word in argumente  gebruik juis wanneer mense nie in staat is om op die punt  af tersaaklike menings te kan lug nie, maar wel 'n stuiwer  in die armbeurs wil gooi. Universiteit Stellenbosch bedryf - nes die meeste  universiteite -  'n besigheid wanneer hulle nagraadse kursusse  aanbied. Dit verg onkoste om te adverteer ten einde kursusgangers te  bekom en inkomste word verkry indien werwingsadvertensies suksesvol  is, gevolglik kan geregverdigde kritiek op advertensies, veral kritiek wat  ter saaklik is, groot verskil te weeg bring aan standaarde wat  sodanige besighede handhaaf, al dan nie. Ongelukkig bereik wydstrekkende  veralgemenings nie dieselfde nie. Dankie vir u  "beskeie" mening.   

    Vriendelike  groete

    Henk  Seymore
    21  Augustus 2013

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top