Hoe antwoord ek so 'n vraag?

  • 0

“Jy is al hierdeur. Wat het jy gedoen om dit reg te kry? Hoe het jy uit die moeilikheid gekom?”

So vra ’n gesinskennis nou die dag. Sy onderneming sukkel en die skuld laai op en die werk raak al hoe skaarser en sy kanse al hoe minder. Hy kon vroeër op ’n afstand sien wat ek gehad het en wat ek nou het; hy kon ook op dieselfde afstand sien wie ek skynbaar was en moontlik nou, wie ek is. En vandag; vandag vra hy my raad – verseker die regte persoon om hom presies te vertel wat hy nie moet doen nie; eerder as die persoon wat al die planne en antwoorde vir ’n beter toekoms het.

Na ons gesprek en die tollende refrein van sy gesiguitdrukkings, die vrae en my pogings om my gedagtes te orden en sinvol iets opbouend te deel, het die affêre hier aan my gemoed begin knaag. En so met die binnekyk en terugkyk en in dankbaarheid, het ’n antwoord gestalte gekry.

Die waarheid in erkenning en die aanvaarding van die werklikheid, is seker die enigste antwoord wat ek hom kon en moes gee.

’n Tyd gelede het ek beide hierdie omvattende lewenswaardes met onderskeiding geïgnoreer, vertrap en verdoesel. Ek kan gewis vir hom al die putgate van hierdie dade haarfyn beskryf. Maar, dit sal vir hom geen werklike waarde hê nie, moontlik op die beste, slegs vermaak.

Wanneer ’n persoon en meer spesifiek ’n man (in beide die geslag en rol), die krakende fondamente van sy eie ivoortoring sien en die resultaat van alle omstandighede, binne en buite sy beheer, die steenwerk daarvan laat krummel, dan het hy net een keuse. Dan het die gespreksmaat se vraag net een antwoord: aanvaar waar jy nou is en erken dat jy nie alleen hier gaan uitkom nie!

Die waarheid is ’n ontwykende meester as jy sou kies om “hom” nie te ken nie. Veral as jy eerder sy maat, die leuen, saam huistoe nooi. Eienaardig genoeg, ontwikkel die “vent” dan ’n lewe van sy eie en alhoewel dit aanvanklik mag voel en lyk of “hy” die pad saam met jou wil stap en jou beste maat wil wees, is dit die mees misleidende en onderskatte gevaar wat jy op jou deurdrumpel kan laat sit.

Die selftrots, eer en respek wat deur erkenning van die waarheid oopgesluit word, plavei die volgende deel van ’n mens se lewenspad en uiteraard, ook na die aanvaarding van wat ís. Aanvaarding van die werklikheid van vandag. Die raaksien en aanvaarding dat niks wat verloor is, in verhouding, eintlik waardevol genoeg is om dit ten koste van jouself en jou geliefdes te behou nie.

Dit is waar die gesels weer inkom.

Die afskud van die alleendra aan die martelende gewig van ’n verloor-storie, begin wanneer ’n man allereers eerlik met homself is en dan, met die geliefdes rondom hom. Die mense wat in ieder geval kan sien dat jou rug kromtrek, maar nie altyd weet en verstaan hoekom en waarom nie. Hul onvoorwaardelike insluiting saam met jou in ‘n kring van vertroue en openlikheid, is die mees bevrydende daad wat jy kan pleeg. Die kastrering van jou eie valse trots en die man-ding wat ’n “ego” genoem word, draai die voorafopgestelde angs vir verwerping en oordeel behoorlik nek-om. En, ook eienaardig genoeg, hoe meermale ’n man hierdie lewensoefening herhaal, hoe makliker raak dit en hoe smaakliker raak die ervaring van bevryding.

Kort voor lank, is die wye wêreld van insig ’n werklikheid.

Insig om hulp te gaan soek wat mag saak maak. Dit is tog so, dat elkeen se omstandighede verskil. Sommige van ons manne sal ’n sake-konsultant moet gaan opsoek en ander weer, die voorreg om oopkaart-vertroue met ’n kliniese gesels- en ontdekkingsleier te gaan deel. Ander sal alles van voorgenoemde en nog meer moet doen.
Insig in die waarde van die behoud van ’n geloofsverbintenis en om dag-vir-dag te lewe in die absolute afhanklikheid daarvan, sal so algemeen soos asemhaling kan raak. Weereens eienaardig, maar hoe meer gereeld ’n man sy afhanklikheid voor God bely, hoe minder word sy behoefte aan die algemeen aanvaarde selfverwesenliking, wat ons gemeenskap uit mis gevorm het.

Insig ook, om vandag te doen watookal gedoen moet word; elke dag. Insig om die feëverhaal van uitstel en “môre is nog ’n dag”, as die leuenaar en boek-op-die-lewe toe te maak. Insig om te soek tot jy vind. Ook insig, om hieruit te leer en te onthou en te herhaal.

Ek weet nie of ek al klaar met “hierdeur” is nie; is ’n mens tog ooit? Daar sal altyd ’n nuwe dag se dinge wees. Wat ek wel weet; is dat ek elke dag die roetine van die “nuwe” lewensoefeninge moet oefen. Om so vas te hou en “dit reg te kry”.

Dit my vriend, is die enigste manier hoe ’n man “uit die moeilikheid” bly.

 Hennie Fritz

---------------------------
Naskrif:
Nou die dag skryf ’n ou as kommentaar op ’n vorige skryfding:

“Jou geloof en vertroue in ‘God se genade’ oortref alle realistiese verwagtinge as die geskiedenis enige konkrete leidraad gee vir sodanige genade, of liewer die gebrek daaraan. Maar droom gerus voort in die opium dampe van die massas.”

Inderdaad is dit so dat iemand of niemand met my mag saamstem nie, MAAR, my standpunte en beskouings is gegrond op eie ervaring, nie ander s'n of raaklees of indoktrinasie nie. Ek vertel net wat ek weet.

Groete en vasbyt ou grote.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top