Die afgelope naweek en ’n dag of wat, het ek en Mevroutjie ’n bietjie saamtyd geskep. Daar op die rand van die Tankwa-Karoo en so effens die Groot-Karoo in, is daar dorpies van “stads-aansien”, wat ons graag wou gaan kyk. Sutherland en Calvinia.
Met die sedan gepak, het ons tweetjies die kuierpad vroegmore uit die stad gevat.
’n Mens wat dink dat daar ’n goedkoop vakansie op die platteland wag, moet gerus sy padkaart saam met sy beursie in die onderste laai wegbêre. Nogtans het Sutherland meer gastehuise as wat dit bewoonde huise het. In elke stofstraat en teen elke tweede draadheining hang ’n bordjie wat die besoeker ’n kussing vir sy kop en ’n plek om te skrop belowe. Sommige bordjies hang voor statige ou gerestoureerde pragwonings en ander, voor die hek na die agterplaas waar die arbeidershuisie van daai-se-dae, in ’n chalet omskep is. Tussen-in lê meestal huise wat nie meer tuine of honde het nie; huise met windpompe wat nie meer draai nie. Hierdie ongeoefende oë van ons sien toe die storie van ’n huis-op-die-dorp raak, eerder as die een van ’n dorp se huis.
Wat is ’n groot plattelandse werf sonder ’n hond of ’n hoender of ’n windpomp?
In my geestesoog het ek die kuier op Sutherland so geromantiseer, dat die verlatenheid en vervallenheid eintlik meer steurend as die nag se raserige hotelvloere was.
Op die gruis-, grond- en klippad van Sutherland na Calvinia, gryp ’n geniepsige stuk koffieklip ’n noot uit die karretjie se band en skielik moes ek, vir die eerste keer in baie jare, ’n pap wiel vervang.
Dit laat my flussies in gedagtes na my Matriekafskeid terug wals. Ons was toe reeds so bevry, dat ons ook ’n after-party gehad het. Nou wel nie by ’n skurwe dans-en-skoffel-grot soos later jare se kinders nie, maar by ’n klasmaat se huis.
Na die nag se saamkuier ontdek ek dat die motor se voorwiel pap was. Tot op daardie laatnag / vroeë-oggend van my 18-jaar se bestaan, het ek nog net gekyk hoe ’n wiel omgeruil word. Die wit baadjie was uit en die pienk satynhemp se moue opgerol. Vir wielietjie ruil ek sommerso met een oog om; net om die volgende middag wakker te word toe Pa vra: “Oubaas, het jy laas nag ’n pap wiel gehad?
“Ja Pa, maar ek het hom sommer self gou-gou geruil...”
“Mmm, dit kan mens sien ja, die wiel sit agterstevoor om!
Op pad vêrder die Karoo-in het ek alle vooropgestelde gedagtes oor wat op ons in Calvinia mag wag, vir sweetgebede ten behoewe van die oorblywende bande verruil!
Toe die volgende bordjie sê dat Calvinia nog 100km vêr is, toe draai die gedagtes van teenspoed wild in my gemoed rond. Maar helaas, die veiligheid van die teerpad was sugtend lekker en die dorp en veral die Hotel ’n aangename ervaring. ’n Onbesonne lekkerte; dit is wat ek in ’n besoekersboek sou wou skryf.
Op Calvinia het ons besluit om die laaste aand in Vanrhynsdorp oor te staan. Geen meer uitetery nie; ons sal sommer self ’n vleisie braai en bykos maak. By die slaghuis koop ons 2 varknektjoppies en 2 sosaties. Terwyl ek vir die verpakking wag, merk ek iets op wat my oë met moeite nie kan glo nie. Hul vleispryse. Nie die “ingevoerde vleis” nie; nee, die slagding van ’n lam wat moontlik die week vantevore net buite die dorpsgrense gewei het – 35% duurder as wat ons in die stad betaal!
Die wors, die groente, koeldrank en veral die jenewer, is baie duurder. Elke huis- en haardding en goeters wat in ’n kosmandjie sal pas, is sommer drasties hoër as waaraan ek en mevrou gewoond is. Twee aartappels kos R14!
Met die uitstap by die naamlose supermark, merk ek nogal op dat die mense wat op hierdie dorpe woon, verniet oor die salige goed besoldigde stadslewe droom en jaloers raak. Om hier te woon, moet jy reeds ryk wees!
Uiteraard is daar verskeie prysbepalende invloede, dit gee mens toe. Dus is my kommentaar nie teen die billike winsneming van enige onderneming gemik nie, maar eerder ten opsigte van die bekostigbaarheid van lewensmiddele. Die bose kringloop van ’n dalende produktiewe en wyndeurdrenkte werksmag en ’n stygende afhanklikheid aan die toerisme-rande het meegebring dat die plaaslike ondernemings by elke geleentheid, waar moontlik, wins moet skep. Dis hier waar die armer mense van die Noord-Kaap se sente ernstig begin rol. As jy vleis wil eet; dan betaal jy. As jy van brood en wyn wil lewe; dan betaal jy eers!
So met die uitdraai om die N7 suide toe te vat, kom daar ’n stuk of vier van die duurder stoftrapkarre by ons verbygeflits. Daai goeters wat nie sommer by ’n vulstasie verbyry nie. Mense van die buurdorpe wat waarskynlik op pad is om in Vredendal inkopies te gaan doen. Of selfs Kaap toe as dit moet.
“Die winkels daar is net soveel goedkoper as by ons,” hoor ek ’n antwoord in my geestesoor.
In my stilligheid en met die onweerswolke doer aan die saamdrom oor die see, wonder ek tog hoe lank hierdie sameloop nog sal kan duur. Vir hoe lank sal die bittereinders se sake-deure nog oop kan bly? Vir hoe lank sal die dorpsmense R60 meer vir ’n band se herstel kan betaal en hoeveel van die tradisionele klerewinkels en uitrusters sal teen die straatsmouse uit die stad gestand kan bly?
Mevroutjie se woorde van vroeër die naweek terwyl ons teen Vanrhynspas af die vlaktes inry, kom druk hulself toe hier in my gedagtes saam met “hier kan jy die moeilikheid van vêraf sien aankom.”


