Het jy ook al só gevoel?

  • 7

Ek hou stil by die poskantoor. Uit die hoek van my oog sien ek ’n besemverkoper nader kom. Ek haal diep asem, gryp my sleutels en klim uit.

Hy wil-wil begin met sy storie maar ek mompel: “Sorry, ek het nie geld nie.”

Terwyl ek aanstap na die poshokkie dink ek: “Ek het geld, net nie vir jou nie.”

Ek is werkloos. Ek bly by my ouers. Dit sal seker nie lank wees nie dan skop hul my uit. Dan word ek dalk ook ’n bedelaar.

Dié liedjie kom hinderlik in my kop: What if God was one of us ...
Sê nou dit was Jesus en ek het geweier om hom te help?

My hart wil breek as ek bedelaars of straatverkopers sien. Partykeer stel ek regtig belang in hul produkte, maar ek is te bang om af te trek, want netnou sak hulle op my toe.

As ek by ’n robot stop, dan kyk ek enige plek behalwe in hul oë.

Partykeer gee ek maar ’n geldjie. En as ek wegry dink ek – was dit genoeg? Daai klein bruingeld gaan mos niks maak nie? Maar ek ken hul nie van ’n kant af nie.

Is dit my skuld?

Die ideaal sou wees dat elke iemand in die wêreld ’n bedelaar aanneem. (En as ek sê ’n bedelaar aanneem bedoel ek nie net finansieel bystaan nie, maar regtig die moeite doen om die mens agter die gelapte, vodde klere te leer ken).

Die ideale wêreld sou wees as elkeen vir ’n oomblik hul besige gejaag opsy skuif en hulself oopstel aan ander.

Maar dit is nie ’n ideale wêreld nie. Ons is só bang om onsself bloot te stel, ons is só bang om seer te kry dat ons onsself liewers toespin in ons kokonne.

Dada vir nonsies

  • 7

Kommentaar

  • Neem nou een bedelaar aan en jy sit volgende jaar met vyf en jy het hulle dalk van die wal af tot in die sloot gehelp. As 'n mens kan en wil help vra 'n maatskaplike werker vir leiding.

  • Hello, 

     
    Om te begin, jou naam is uitstekend en is dit nonsens in alle erns. 
     
    Wie sal hulle self wil blootstel in vandag se tyd met al die wolwe wat om elke hoek en draai wag al het op my tyd ook gehelp waar ek kon. Wat ek wel kan doen is om 'n storie te vertel vanuit die Britse reeks, Rev, die tweede reeks. 
     
    Adam Smallbone is die herder en gereeld klop 'n bedelaar, dieselfde bedelaar aan sy deur, maar nooit word hy geld gegee nie maar dit begin Rev te pla en onderneem hy om vir die bedelaar blyplek te soek en vind 'n herberg, maar is daar 'n week voor die bed sal beskikbaar wees. 
     
    Rev neem die bedelaar in tot die groot konsternasie van sy vrou en dan 'n paar dae later sluit die herberg en Rev het nou 'n probleem, wat van die bedelaar?. 
     
    'Gelukkig' kom daar uitkoms, die bedelaar steel Rev se TV en maak hom uit die voete, die moeilike gesprek is is vermy en 'n paar dae later is die bedelaar terug en almal is terug in hulle ou roetine maar die bedelaar bly buite. 
     
    Rev aanvaar dit is makliker vir hom om die bedelaar net as die bedelaar te ervaar en nie as 'n persoon van vlees en bloed onder sy eie dak nie en met die afstand tog daar. 
     
    Kan 'n mens werklik iemand van buite op so 'n manier inneem? 
     
    Ek glo nie. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • CorneliusHenn

    Beste "dada vir nonsies/dada for nonsense" ... daar is 'n verskil tussen simpatie en empatie ... simpatie is eie aan die geveinsde vromes wat met hul liewe ekke soort SELFBEJAMMERING, ander kamstig bejammer ... EMPATIE, is wat God met die mensdom gedeel het toe God self 'n mens geword het, in alle opsigte van menswees aan 'n kruis gesterf het, en toe aan die einde daarvan in absolute Goddelike almag en met empatie vir die hele mensdom, die dood en ellende oorwin het ... MEDELYE, is dus opregte naasteliefde ... maar hoe betoon jy medelye as jy nog nooit self daar was nie? ... presies, jy kan nie ... daarom is elke "slegte" ervaring waardeur jy gaan, juis ook sulke goeie ervaring - want net as jyself daardeur is, sal jy jou medemens opreg agterna kan dien ... hou dus liefs en gerus maar jou selfbejammering (simpatie) vir jouself, totdat jy eendag self verstaan hoe dit is ... intussen kan ons wel vir mekaar bid; Heilige Maria, Moeder van God, bid vir ons sondaars - nou en tot in ewigheid ... mag Jesus Christus onse HERE, self troos in elke hart bring ... Namaste! Cornelius Henn

     

     

  • dada vir nonsies

    Jy dra 'n goeie hart vir behoeftiges. En jy is reg - ons het meer mense nodig wat vir ander omgee. Jou stelling: "Die ideale wêreld sou wees as elkeen vir ’n oomblik hul besige gejaag opsy skuif en hulself oopstel aan ander." laat my besef maar mens kan. Ek glo dat as jy na jou innerlike stem luister, asook voorgevoel, sal jy weet wie om te help en wie liewer nie.

    Bewaar asb jou omgee hart. Dis kosbaar en het ons meer mense soos jy nodig. 

  • Nee, nee, Trienie!! Om jouself oop te stel aan ander, al luister jy na jou innerlike stem, is gevaarlik. Onthou, die hart is `n verraderlike ding; hy lei jou aan die neus rond, wag tot jy swik, en spring dan viervoetig in. As jy wil help, moenie geld gee nie, gaan koop kos vir hulle, gaan na die supermarkte wat jy donasies kan gee en hulle gee dit vir die wat dit nodig het.

  • Chris Dippenaar

    Hello Dada

    My klerekas is so klein dat ek seker nie eers 'n swartsak daarmee sal kan vol maak nie. Dit sluit die denims en t-hemde in wat nog nie genoeg gate in het om weg te gooi nie. My dogter sny elke paar maande 'n paar sentimeters van my hare af as dit te gereeld in my bek begin hang en ek skeer net as dit te veel begin jeuk, so by tien dae rond. Ek kyk maar min na myself in 'n spieël, seker maar omdat ek nie 'n kam of 'n borsel besit nie. In elk geval, die een keer toe ek dit gedoen het daar 'n yslike gaping gekom tussen my voortande. Elke keer as ek na 'n spieël kyk raak dit groter, so ek probeer hulle maar vermy. Dis nie dat ek nie omgee hoe ek lyk nie, ek bad en borsel tande elke dag, maar ek is net nie te veel gepla nie.

    Die ding is dat Muizenberg 'n baie gesogte area is vir bergies en party van hulle bly nou al baie langer as ek hier. Alles is loopafstand vir my en ek deel gereeld die sypaadjies met hulle. Op 'n afstand is dit seker vir party mense moeilik om my dan te onderskei van hulle. Ek bly op die hoofweg en die verkeer dam gereeld op voor ons huis. Dit het al gebeur dat as ek die dag besluit om te drentel, eerder as stap, mense hulle vensterruite opdraai voor ek by hulle motors verbyloop. As ek vir hulle lag kyk hulle anderkant toe. Ek is maar 'n vriendelike ou en groet maklik iemand by wie ek verbystap wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie. Meeste mense groet terug, maar so elke nou en dan stap hulle vinniger. Dit het ook al gebeur dat iemand vir my 'nee' gesê het voordat ek 'hello' kon sê. As ek terug kyk sien ek dan hoe hulle weer stadiger begin stap.

    Vir my is dit alles baie snaaks, maar vir 'n bergie is dit dalk nie so nie. Ek sê nege uit tien keer nee as hulle my iets vra, en dan probeer ek nee sê op 'n manier wat wat nie aanstoot gee, sonder verskonings dat ek nie geld het nie, alhoewel dit partykeer waar is. Hoeveel keer het mens nie al gehoor dat iemand 'n noot in 'n bergie se hande druk met: "Ja, fok, vat dit en verdwyn!" Is dit dan nie beter om eerder vriendelik nee te sê nie?

    Chris

  • Ek stem saam. Mens kan nie vir almal gee nie, maar vir wie gee jy dan? Hier by ons staan daar gewoonlik vier wit mans. Ek gee hulle gereeld geld wanneer ek iets het om te gee. Ek gesels ook graag met hulle as ek vir die verkeerslig wag. Nou die oggend tienuur se kant kom een van die manne verby gestap. Ek wil nog met hom gesels toe seg hy net vir my . Jirre meneer ek is te gesuip. Dit het my toe laat dink wat in Spreuke 31 vers 6 tot 8 staan.  Dit is ook my leuse in die lewe. ( hie hie hie...)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top