Laas nag het hierdie stelling, eerder as die vraag, in my onderste bewussyn rondgeskarrel. Daar in die geritsel van my drome, het die lekker oomblikke van ons seuns se gespeel en die afgelope naweek se vingerbord homself weer laat herleef. So ook ’n paar ou angstige oomblikke en ’n sweetsaak of twee. Gelukkig was daar darem die uit-haar-maag-lag van my lekkerste vriendin* ... en die Kraalogie teen die kosmandjie in die boom, besig om ’n appel te geniet.
Het jy al na die voëls in die tuin gekyk? In ons tuintjie het ek ’n paar kosgee-mandjies vir die veervriende in die bome gehang. Verskillende soorte en genoeg om die duiwe en die groen Kraalogies te voer.
“Skuif soontoe!” of “geepad voor, ek kom land!” roep ’n geelvink en klap ’n Kaapse mossie met die sitslag raak. Die mossie aanvaar die opdrag en fladder flink af grond toe. Sy weet hier is genoeg van die oorval kos wat die huismossie en die vinke uitskrop. Sy en ’n paar jong tortelduiwe het hier ruimte om te eet. Haar man, die aantreklike mossie-maar-man, is gewoond aan die voedselketting hiërargie wat op hulle afgedwing is. Sien, die huismossie was nie altyd hier nie. Hy het homself, net soos die hadida, kom in-wurm en kom oorvat.
“Die vaal huismossie is nie naastenby so mooi soos ons nie,” sal sy gereeld vir die kleingoed sê; “maar hulle is sterker as ons, Ma” of “het Ma al die knoppe aan daai mossie gesien.” Dit was blykbaar ouboet se wegvliegwoorde. Hy en sy nuwe wyfie bly nou in die Shuttelworths se tuin. Die veilige ruigte daar, pas die kleiner outjies goed.
“Tjomma’s, het julle die nuwe eetplek ge-“eye”? Aan die woord is die spikkelheld van die klompie tarentale op die erf langsaan. “Die duiwe ‘scheme’ hulle het die “jackpot” geslaan”. “Julle ous moet die ‘spread’ sien wat die buurman neersit. Appel, piesang, brood, sade te wild vir ons om te ken ... elke oggend en elke aand, bra!” Eers het die waaghalse van die tarentaalgesin die kosgeeplek kom ondersoek. Toe roep hulle die res. Op een middag tel ek 14 van die tuinskroppers onder die boom waar die kosmandjie hang. Saans wanneer ek ’n bietjie te laat na hul sin tuiskom, dan sit die lot op ’n streep op die muur en wag. Dit terwyl hulle die pad dophou - so asof hulle wil vra: “hey pêl, jy’s laat; waar’s die kos?!”
Deesdae het ek vele hoogtepunte in ’n dag. Een van hulle is om die tuinvoëls se kosmandjies vol te maak en dan ’n rukkie later hul kuier te geniet. Dis eintlik bevrydend om te sien hoedat daar genoeg kos en plek vir die grotes en die kleintjies is. Dit bly egter opvallend dat hul waaksaamheid nimmereindigend is. Dit pik-pik en kyk; pik-pik en kyk. Te midde van hierdie “amper te goed om te glo”-eetplek, behou die veervriende hul wysheid en instink.
Laat mens dink.
Kos vir 'n mossie vir 'n aand
Kom ons kyk vir die voëls,
in die lang doring takke,
die digte plante, bosse
kossoekend op die grond.
Dis vroegaandtyd
en moederaarde is koel,
die lug is soos 'n rivier
wat die stilte skud.
Die ruik van jenewer,
ruimte en wortels
op ’n oorhoofse liefdeslied.
Dit is hoe 'n voël moet vreet,
hoe hy uit sy keel moet sing
mossieman, kleiner as my vinger-
vanaand spoel daar waters
waar sy snawel die kos verslind.
Waar is die voëls?
Miskien is dit die geritsel in die blare
of ’n vlugtige klont bruin fluweel
of ’n verplaasde blaar losgelaat.
Was dit 'n voël? is dit stof?
Voëls van die duiwel
met hul geneul en gelui
met hul nuttelose vere
hulle sinlose kommentaar
oor alles wat bestaan;
verniel hul die aarde se oeste
stroop die lande van hul graan!
Ek wil hulle nie streel nie,
ek wil hul pompeus sien,
ek wil hulle nie balsem onder glas nie,
ek wil sien waar hul woon,
ek wil van hul gesinne weet
waar hulle hul kinders versteek,
hoe hulle water en kosplekke nooit vergeet,
en hoe hulle saans gesprekke voer.
Ek wil hulle op my gehuurde mure sien sit
beelde van rus, ongestoord, grys, swart en wit.
Kan jy hulle hoor?
singend soos 'n hemelse koor.
Het jy al gewonder of die vlerkskepsels kan praat? “Beter as sommige van ons!”
Die buurman aan die oorkant van die straat het ’n groot digteblaar boom. Ek moet nog vasstel wat vir ’n ding dit is. Ieder geval, die spreeus en vinke het hierdie boom hul eie gemaak en soggens vroeg en saans so skuins voor die laaste sonstrale die koppe vergeel, dan gesels die bewoners dat dit ’n geknetter van epidermiese proporsies afgee (dankie Oom Oubaas). Hulle begin smorens soos een man (skuus voël), te gesels en saans sluit hulle soos een af. Daar is nie hier-en-daar ’n wyfie- of ’n ouma-voël wat die laaste “woord” vir die dag wil inkry nie. Nee, dit is onmiddellike stilte.
Die interessante is egter hul vlugvertrek formasies soggens. Hier van skuins voor sewe, op ’n sonskynoggend, dan begin die eskaders om te ontplooi. Weens die digte takke en blare van die boom, moet die voëls tot op die takpunte beweeg en van daar vlieg. Anders werk die tak-en-vlerk-maneuvers nie mooi saam nie. So-by-so, verskyn daar groepies spreeus op die punte en dan vertrek hulle soos een. Sonder ’n skoot wat klap of een wat hulle afsit. Die boonste groepie styg soos een op en almal, so 15 of so, vlieg in ’n bondel in een rigting. Kort op hul spreekwoordelike hakke, kom die volgende groepie net eenvoudig te voorskyn op die boom se top ... en weer ... styg die groep op en bondel in ’n ander rigting. Ek sal ’n kiestand daarop wed dat selfs ons lugmag nie so presies is nie.
As jy ooit gewonder het waar orde sy ontstaan het en waar ons verdwaalde volkie dit kan leer ... gaan kyk net so ’n bietjie buite. Moenie te hoog vlieg nie, my voëltjies.
Hennie Fritz
[* Boksie, dis toe die hele tyd jy ]


Kommentaar
Hennie, ek geniet ons veervriende ook baie. Jy is bevoorreg om soveel voëls naby jou huis te hê. Daar is niks so lekker om vroeg in die oggend deur voëlgesang wakker gemaak te word nie. Dankie die mooi gedig.
Beste Hennie