My mater,
die herinneringsding
is ’n rower en stoker
’n laspos ten beste
van onmin ten slegste.
Sin skuil skugter
agter die gordyn van herinnering.
Nogtans, trek hy verstomd
die lap stadig weg, ritsellend,
verwagtend, om nie hier-en-nou daar te vind.
Gegiet en goor gevormd
deur die illusie in herinnering
laat hy sy hartseer
en sy gedagtes verfrommeld
groet soos ’n vreemdeling.
Oor vergange dinge en tye
en blydskappe wat eens eg gelyk het,
sit ek,
en staar,
na ’n spieël, wit, sonder gesig.
Hoe skril is die waarheid se ontnugtering
hoe eenvoudig klein
verward waardeloos lyk die onthou,
die verlede,
en sy gebeure, sy herinnering.
Sal hy die oorblyfsels van vergange hout
uit die vuur van herinnering bly grawe,
dit strooi op die voetpad van sy geheue?
Of sal hy lewenswarmte in as probeer blaas;
vir ewig en nog meer vasklou, soos ’n dwaas?
So baie skrywers en digters en aspirant rubriekmakers neem graag die klawerbord onder een arm en hul nostalgiese herinnering onder die ander. So baie van ons onthou met seer verlangende heimwee die dinge wat was. Die dae toe ons nog jonk was, of die dae toe ons sorgeloos was, of die dae toe ons nog kon werk of loop of ... bloot onthou.
So baie van ons is vir groot gedeeltes van ons stiltye doenig met herinneringe wat juis net dit is ... “oorblyfsels van vergange hout”.
In die sogenaamde sosiale media word daar elke dag tientalle nuwe “filosowe” gebore. “Vriende” wat die lewenswaarheid van ander as apostels verkondig en geloofsbelydenis doen, wat mekaar moet motiveer om van die verlede te vergeet en die waarde van hier-en-nou te koester en te lewe asof daar nie ’n môre sal wees nie. Waarhede in woorde op prentjies vol hoop, regte kalme kleure en waterstrome. Waar duiwe teen die prag van die hemelruim invlieg of die aansteeklike glimlag van Mahatma Ghandi onder ‘n aanhaling, wat regtens of verkeerdelik, aan hom toegedig word. Aanhalings soos: ”Live as if you were to die tomorrow, Learn as if you were to live forever”.
Ek weet nie so mooi nie.
Soms, nee eintlik meestal, “pen” ek gedagtes wat uit gister en vandag se ervarings op my inwerk, op die skerm voor my neer. Soms wil-wil ek myself wysmaak dat dit onnodig is om met jou gedagtes oor dié of daai saak op jou mou mee rond te loop. Soms kry ek dit nogal reg om eerder die ander pad te kyk en gedagtes van een affêre vir ’n ander te verruil. Soms is dit regtig moeilik.
Dit is asof die gebeure, werklikhede en gedagtes daar rondom hulself keer-op-keer op my “voorstoep” kom tuis maak en dit dan bykans onmoontlik is om te ignoreer of selfs weg te wens. Sou ek probeer, dan krap dit my gemoed om en druk dit totdat die gestoei in gedagtes in ’n geskrif uitkom; as’t ware deur my gestel uitgespoeg word.
Waarna ek uitgeput, verlos kan terug sit.
Elke dag beweeg elkeen wat ek ken op die een of ander wyse op-en-af tussen waar hulle moet wees en waarheen hulle wil teruggaan. Werk toe, skooltoe, huis toe, winkel toe, waar ook al toe. Op elkeen van daai paaie is daar daagliks goeters wat ons aan iets êrens herinner.
“Die mooi skrale dingetjie wat op die sypaadjie draf lyk nogals soos daai meisie wat almal oor gaande was in standerd 7; wat was haar naam nou weer?” Of ...
“Ek moes nooit die Cortina verkoop het nie. Jinne daai kar het darem krag gehad.” Of ...
“Daai dakverf is aaklig, lyk soos Tant Lenie-hulle se spoorweghuis van destyds. Dit was nie lekker daar nie..” Of ...
En so dink ons, onthou ons, vergader ons gedagtes van gister en spandeer ons hulle vandag; hier en nou.
In die strate waar ek vandag ry is die werklikheid so somber dat my pogings tot nostalgie en heimwee daaroor baie naby aan uitsterf is. Wanneer die realiteit van ‘n stukkende gemeenskap met vrot skaduwees, van oorskot wat eens ook trotse mense kon gewees het voor jou verbyloop en teen vuil gaffiti mure sit-lê en in vodde uit die aalmoes van asdromme lewe, dan kan amper geen goedvoel-herinnering die stinkende stof van die hede afwas nie. Hier in die hart van die ou dorp is dit vullis en vuilgoed wat die botoon voer. Letterlik en figuurlik.
Kort-kort is daar beriggewing oor die bendes op die Kaapse Vlakte. Hoe die jeug uit die maalkolk en inslukkrag van bendes gered moet word. Maar hoe red jy ’n kind op ’n afstand of bloot deur gedagtes?
Ek wonder soms of mense van my deel van die dorp weet waar die Kaapse Vlakte is? Dit is nie daar anderkant nie; dis hier. Ons mag dalk teen of op ’n heuwel of ’n bult woon, maar die ware Kaapse Vlakte is reg rondom ons. Dit is in die hart van elke dromgrawer wat die middedorp se strate bewoon; dit is in die vuil verslete gesig van ’n jong seun wat al suigende aan die plastieksak in sy een hand met die ander by ’n verkeerslig staan en bedel. Dit is in die hulpelose oë van boepens swanger tienermeisies wat tandeloos wag om vir “’n lanie ’n favour” te doen.
Dan kla ons oor die koste van kruideniersware, die prys van die brandstof en die haarsalon wie se pryse op is en wat van die tyd geword het ...
Nee my “vriende”, ons herinneringe en heimwee oor wat was en die verlange na wat kon gewees het, is niks anders as ’n verstandsklug wat gemaklik ingespan word om ons te beskerm en selfs te regverdig nie. Te midde van ons hunkering en verlange na wat eens was, verloor ons empatie met hulle wat nie kan verlang na iets wat hulle nooit gehad het nie; met hulle wat hoop dat môre nie sal opdaag nie, sodat hulle juis nie vandag hoef te onthou nie.


Kommentaar
Beste Hennie