Helen Rappaport: A Magnificent Obsession

  • 1

Koningin Victoria (1819-1901) is redelik bekend omdat sy so lank (1837-1901) op die Britse troon was, ook tydens die Anglo-Boere-oorlog (1899-1902), en daar 'n standbeeld van haar voor die parlementsgebou in Kaapstad is. In Kaapstad is daar ook die Victoria and Alfred Waterfront. Alfred verwys na Victoria se tweede seun wat Kaapstad in 1870 besoek het om die verbeterde hawegeriewe amptelik te open. Alfred moet nie met Victoria se man, Albert (1819-1861), of hulle eerste seun, Albert/Bertie, verwar word nie.

'n Ander aanloop tot die boek wat ek gaan bespreek, is die Britte, veral Engelse, se sentimentaliteit. Tradisioneel is hulle bekend om hulle liefde vir troeteldiere. Êrens het ek gelees van 'n Britse vrou wat haar hansvark gereeld saam kerk toe geneem het. Geen gemeentelid het dit gewaag om beswaar teen die teenwoordigheid van die onstigtelike dier te maak nie.

'n Ander opsig waarin die Engelse emosioneel kan raak, is wanneer 'n bekende persoon sterf. Dan weet hulle hoe om met oorgawe demonstratief te rou. Dit het gebeur toe bv veldhere soos Nelson (1758-1805) en Wellington (1769-1852) en meer onlangs prinses Diana (1961-1997) dood is. Dit geld ook die dood van Albert en is in groot mate die tema van Helen Rappaport se boek, A Magnificent Obsession: Victoria, Albert, and the Death that Changed the British Monarchy (New York: St Martin's Press, 2012, 368p).

Albert was 'n Duitse prins afkomstig van Coburg wat in 1840 met Victoria getrou het. Hulle het nege kinders gehad: Victoria/Vicky (1840-1901), Albert/Bertie (1841-1910, later koning Edward VII, 1901-1910), Alice (1843-1878), Alfred/Affie (1844-1900), Helena/Lenchen (1846-1923), Louise (1848-1939), Arthur (1850-1942), Leopold (1853-1884) en Beatrice (1857-1944). Anders as wat destyds algemeen voorgekom het, het hulle geen kind op 'n vroeë ouderdom aan die dood afgestaan nie. Daarom was Albert se dood in die fleur van sy lewe so 'n onverwerkbare verlies.

Aanvanklik was Victoria baie gesteld daarop dat sy die monarg was en dat haar man nie staatkundige funksies moet hê nie. Hy was bloot die Prince Consort en het hierdie ledigheid uiters frustrerend gevind. Terwyl Victoria opeenvolgend verwagtend was, het hy al hoe meer sy waarde in politieke sake getoon. Dit was onder andere danksy sy diplomasie dat Brittanje nie aktief by die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) betrokke geraak het nie. Mettertyd was hy in omtrent alles, behalwe in naam, die koning. "By the mid-Fifties she had firmly decided that 'we women are not meant for governing' and was increasingly happy to leave the job to Albert" (Kindle 564). "Such was his concerted re-education of her as monarch that Victoria became convinced that her life before Albert had been worthless" (K 441).

Sy het emosioneel afhanklik van haar man geword: "My guide and my support and my all!" (K 1347). "Albert was tiring of her relentless, cloying admiration and her never-ending emotional hunger" (K 1099). Toe hy in die eerste helfte van haar bewind dood is, het Victoria haar meer as 'n dekade lank grootliks aan die openbare lewe onttrek omdat sy behoorlik wou rou; dermate dat die voortbestaan van die koningshuis in die gedrang gekom het. Daar was gerugte dat sy sou abdikeer. Al waarvoor Victoria toe skynbaar energie gehad het, was om haar "dear Albert" op allerhande manier te vereer; "the most precious and perfect of human beings" (K 1307).

Victoria het as weduwee verkies om eerder buite die openbare oog in Balmoral-paleis in Skotland of in Osborne House op die eiland Wight te woon as in Buckingham-paleis in Londen. Dit was moeilik "to catch a glimpse of this great figure of imperial grief" (K 3350). Sy is beskryf as: "Fat and short ... with a discontented-looking face" (K 4636). Aan haar een dogter het Victoria erken "she was 'afraid of getting too well'" (K 3477). "Her conspicuous habit of grief had now become a habit of avoidance" (K 4374). "She continued adamantly to refuse to take part in public ceremonial" (K 3481). Soms was sy teen haar sin verplig om die parlementsopening waar te neem, want anders sou daar nie 'n verhoogde bedrag staatsgeld na die koninklike familie gekanaliseer word nie, bv wanneer een van Victoria se kinders op trou gestaan het.

Sy het ook na Albert se dood Windsor-kasteel buite Londen vermy omdat dit is waar haar gesin al hulle Kersvieringe van haar troue tot sy dood gehad het. Victoria: "Think of Christmas Eve and all!!! It shall never be spent at Windsor again - for he left us in those rooms" (K 2527). Die outeur beklemtoon hoe gelukkig hierdie groot gesin aanvanklik in Windsor gewoon het. Victoria en Albert het 'n gelukkige huwelikslewe gehad. "The royal family basked in a halo of sentimentality that reflected the affection that it was now increasingly enjoying as the model British family" (K 272). "This reputation for informal happy domesticity was one that Prince Albert had worked hard to establish and was determined to maintain" (K 283).

Op elfjarige ouderdom het Albert in sy dagboek geskryf: "I intend to train myself to be a good and useful man" (K 310). In sy jeug het hy nege ure per dag studeer. By hom was daar groot toewyding en taakgerigtheid. Hy was daarop ingestel om homself voortdurend te verbeter. Dit is inderdaad wat hy gedoen het. Hy was meer as bloot pligsgetrou en het hom in werklikheid oorwerk in belang van die Britse monargie en sy aangenome land. Anders as baie koninklikes het Albert hom nie skuldig aan buite-egtelike verhoudings gemaak nie; moontlik omdat sy ouers se huwelik om hierdie rede in 1824 in duie gestort het.

Klassieke musiek, bv dié van Mendelssohn, Schumann en Wagner, was van sy voorliefdes. Hy kon die klavier en orrel bespeel en was ook 'n goeie sanger en selfs komponis. Hy kon nie verstaan waarom Victoria blykbaar nie waarde aan skoonheid in die natuur geheg het nie. Hy was intellektueel Victoria se meerdere. "She eagerly accepted Albert's leadership as regards the books they read, the music they enjoyed, the paintings and sculpture they collected" (K 424). "He ... developed a habit of avoiding confrontations and writing headmasterly notes to her about her behaviour ... he doggedly and repeatedly urged her to curb her temper and learn self-restraint" (K 455).

"Everything about Albert was so proper; he was altogether 'too good'" (K 491). Hy het die hele koninklike huishouding herorganiseer sodat dit meer ekonomies en doeltreffend kon funksioneer. Die geld wat op hierdie manier bespaar is, is gebruik om Osborne House in die 1840's en Balmoral in die 1850's te bou. Koning George IV (1762-1830) se Royal Pavilion in Brighton is verkoop nadat die spoorlyn tussen Londen en Brighton in 1841 voltooi is. Vanweë die toevloei van mense na Brighton het hierdie paleis te onprivaat na Victoria as sin geword. (Die Royal Pavilion is een van die sonderlingste geboue wat ek ooit aanskou het. 'n Mens kan eintlik nie jou oë glo wanneer so 'n mooi en indrukwekkende gebou in Oosterse styl skielik voor jou opduik nie. Kyk gerus op die internet hoe dit lyk.)

Ten spyte van die sorg van die vier beste geneeshere het Albert se gesondheid gekwyn. Hy het geen groot vertroue in hulle bekwaamheid gehad nie en sy lot aan God oorgelaat. Hy wou nie stry om aan die lewe te bly nie en het gedink die hemel is "worth dying for" (K 996). Daar was tekens van lewensmoegheid by hom en selfs fatalisme. Sy houding het Victoria soms in trane en histeries gelaat. "She had wept a great deal at seeing her husband in so much distress" (K 1267). Daar was kommer oor haar emosionele stabiliteit voor en na Albert se dood.

By die dokters het sy gepleit: "Oh, you will save him for me" (K 1402). Later het Victoria geskryf: "I prayed and cried as if I should go mad" (K 1514)."He must not die, she would not accept it: 'for that would kill me'" (K 1514). "To lose him ... will be like parting with her heart and soul" (K 1639). "A 'heart wound' ... had torn her world apart" (K 2094). "She cried for days" (K 2153). Eintlik het sy nooit herstel nie en tot haar dood oor Albert gerou: "She would remain in black for the rest of her life" (K 3007). "My life as a happy one is ended! The world is gone for me!" (K 2161). "I live on with him, for him" (K 2517).

Ten spyte van sy buitengewone toewyding en lojaliteit, is Albert as gebore Duitser nooit heeltemal in Brittanje aanvaar nie. Kort voor sy dood is egter erken: "'The Queen would be a less national loss' than the Prince" (K 1535). Albert se dood is as 'n "national calamity" beskryf (K 1636). "Death has taken from us the most important man in the country" (K 1991). Daar was skuldgevoelens oor die gebrek aan erkenning wat Albert van die Britte gedurende sy lewe ontvang het.

Victoria het rou as 'n deug beskou; iets wat deur almal volgens die erkende protokol nagevolg moet word. "Mourning is the only thing that gives me satisfaction" (K 2531). Dit het beteken dat Victoria na Albert se dood minstens 'n jaar lank net swart klere moes aantrek. In die koninklike huishouding was daar stilte, selfs nie musiek nie, en geen sosiale lewe nie. Skryfpapier moes 'n breë swart omranding hê. Victoria: "One loves to cling to one's grief" (K 788). "The general sympathy for me, and the approval of the manner in which I have shown my grief ... is quite wonderful and most touching ... which day after day is my welcome friend" (K 851). "I do not wish to feel better" (K 873). "She would never adjust to 'that dreadful, weary, chilling, unnatural life of a widow'" (K 3239). "Hers was 'a grief which cannot forget itself, and what is more, no longer desires to do so'" (K 3280).

"She felt it demonstrated her devotion; and, as Queen, there were no limits placed on her right to indulge it" (K 856). Haar oudste dogter het gedink "her mother enjoyed her sorrow" (K 856) en "her misery was now a 'necessity'" (K 3235). Victoria se ma is ses maande voor Albert dood. Toe reeds het hy haar vermaan "to be less occupied with yourself and your own feelings" (K 962). Kort voor Alfred se dood het Victoria gesê: "My mother? What was that? I thought that was grief. But that was nothing to this ... it is like tearing the flesh from my bones" (K 1713). "At the heart's core there must and will ever be an aching void" (K 1909). Sy het verwag om kort na Albert te sterf en het dus haar testament in orde gekry. Victoria het later erken: "Longing to die ... for the first three years never left me" (K 4812). Sy het haar nege kinders as niks meer nie as die "'poor half' of her life" beskou (K 2690).

Talle bors- en standbeelde is ter ere van Albert gemaak. Die inisiatief het dikwels van Victoria uitgegaan, terwyl haar man die teenoorgestelde begeer het: "If I should die before you, do not, I beg, raise even a single marble image to my name" (K 2815). 'n Nuwe grafkelder is te Frogmore, by die Windsor-kasteel, gebou waar ook Victoria 40 jaar later ter ruste gelê is. Talle geboue is na Albert vernoem, waarvan die bekendste seker die Royal Albert Hall (1872) in Londen is. Daar is ook die Victoria and Albert Museum (1852), wat egter reeds tydens Albert se lewe tot stand gekom het en eers in 1909, na Victoria se dood, voltooi is.

Na meer as 'n dekade waarin Victoria hoofsaaklik getreur en gerou het, het sy teen 1872 besef dat haar en haar kinders se openbare gewildheid noodsaaklik vir die voortbestaan van die Britse monargie was. "There finally emerged the monarch whose great virtues - lack of vanity, human sympathy, an absolute honesty and sound common sense - finally gained the ascendant in her later years" (K 4727).

Albert was uiters teleurgesteld met sy oudste seun omdat hy so 'n opneuker was. Sy pa se beste pogings kon hom nie rehabiliteer nie. Dit het Albert baie ontstel en het veroorsaak dat Victoria nie haar seun kon verdra nie omdat sy hom vir haar man se vroeë dood verantwoordelik gehou het. Tog het hy sy ma as monarg opgevolg.

Die outeur het baie navorsing gedoen om in 'n bylae te probeer bewys dat Albert nie, soos gewoonlik beweer word, aan ingewandskoors ("typhoid fever", iets anders as tifuskoors) dood is nie, maar eerder aan Crohn se siekte, 'n soort inflammasie van die spysverteringstelsel. Die tragedie is dat die beste beskikbare medici nie Albert se vroeë dood kon verhoed nie, met erge gevolge vir Brittanje en die koninklike gesin en veral Victoria.

Johannes Comestor

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    Ja, daar was sowaar Afrikanermense (kolonialers) wat mal was oor die dom, kort, vet tannie – wys jou net dat die Engelse lank voor die Duitsers heelwat van propaganda geweet het.

    Die koningin het baie gehuil, maar daar is nog 'n geval waarvan ek kennis dra. Tydens die Engelse Oorlog (hulle het dit die Boer War genoem!) was sy op 'n spoorwegstasie om die Black Watch terug te verwelkom. Daar was maar min van hulle oor om te vertel hoe die Boere hulle in die nag by Magersfontein doodgeskiet het (en ook die volgende dag). Sy het gehuil toe sy sien wat van haar eens trotse eenheid oorgebly het.

    George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top