Gisteraand het ek bewegingloos in die koel, duister binnekant van ’n kerkgebou gesit. Net ek. Die druk om aan iets meer as net die absolute stilte te dink, was oneindig groot, maar selfs te midde daarvan, wou ek net na die suiwer geraas van die suisende stilte luister. Ek het gekyk, maar in pleks van God, het ek net die handewerk van mense gesien.
Neem 'n reguit kyk
af na die diepte van jou hart;
kan jy die lewe sien?
Kragtig polsend florerend,
in die hitte van suiwer liefde.
Op pad na C15, Groote Schuur Hospitaal, begin die naarheid van die ervaring wanneer die sielsonvrolike vroumens, met moeite, die parkeergebied vir ons uitwys.
Die stormsterk reuk van ontsmettingsmiddel kom haal jou net voor jy daar by ongevalle instap. Ou mensies in rolstoele sukkel hier teen jou verby, wyl ’n man met ’n hoed vrouens se sakke deursoek en ’n ronde sekerheidsdame, my karsleutels en selfoon vra.
“Links daarvoor, reguit aan en volg die borde” - ek en my kollega stap laatmiddag die kiemkern binne, op pad om boodskappe van bemoediging en goeie wense aan ‘n ander te bring.
Die lang gange se stap is een ding; die siekes en stukkendes wat langs die pad sit en staan en lê; hul oënskynlike hulpeloosheid in hierdie snelweg van siektemassa, is erg ontstellend. Dit skraap die gevoellose vetweefsel om ’n mens se verharde hart af ...
Balke van lig sal begin om te straal
uit die middelpunt daarvan;
as jy die hemel dáár ervaar;
noem hulle dit die "hart".
Op maer bedjies met blou plastiek matrasse sonder lakens, lê die pasiënte, die lammes, die kreupeles en die siekes - soos by die bad van Bethesda – sommige wagtend om die dokter met die wonder geneeshande te ontmoet. Ander, wetend en smagtend om die verligting van die wegraping te beleef. Soekend om van hierdie lyding verlos te word. Mens kan dit ruik, wanneer jy daar instap.
Kom groet en laat los,
die glans op ’n ander
laat dit deur jou vloei.
Om ’n draai, agter ’n gordynskerm, lê ‘n bekende figuur. Sy hol gesig is maer; daar waar sy tande was. Hy lyk oud. Die ou bruin oë lag saam met sy tong teen sy bo-kaak, daar waar die kosmalers weer moet in. Oom Eli is bly om ons te sien. Hy kla dadelik dat die “darkies” vandag weer aan diens is en nou gebeur daar niks nie. “Hulle kyk djou en dan ignore hulle djou – soe asof djy lastag is om te liewe.”
Die sekerheidsbeampte kom sê een van ons moet gaan – “only one per bed”. Ek kuier nog so ’n bietjie, wel bewus van die gestaar van die ou roggelaar hier knap teen my in die bedjie langsaan. Sy kuiergas of kollega of watookal, dra ’n gesigmasker. Terwyl ek gespanne my asemhalingsritme in bedwang hou en die teugde so vêr as moontlik uitmekaar probeer kry, voel ek hoe die koue rillings langs my ruggraat op-en-afhardloop en mekaar probeer vermaak. Ek het net sopas, en so onopsigtelik moontlik, ’n tree’tjie weggegee, toe die verpleegsters kom sê-vra dat ek ook sal moet gaan. Oom Eli moet vir toetse gaan.
Terwyl ek tussen die sieke mengelmoes mense en geure na die uitgang toe terug stapdraf, sien ek nie meer die vuil vensters, gekraakte ruite en vervalle tuine raak nie. Die sleepvoet vrou met haar enkele kruk voor my, moet net oppas of ek trap sommer haar ander voet ook af!
Buite die gebou en halfpad kar toe, het ek vir die eerste keer weer behoorlik asemgehaal. Hier moet mens nie kom lê omdat jy siek is nie; hier moet jy kom lê omdat jy wil doodgaan!
Wat ons nie sien nie, kan niemand verloor nie;
Maar, wat weg is, is baie vêr weg.
Hennie Fritz

