Groenvystroop (L,P)

  • 1

Dis mos maar elke jaar se ding as die vyebome laag hang. Voor einde Oktober moet jy pluk en inlê. Groenvye. Dit is mos 'n ou ding dat jy nie later as die laaste dag van die mooiste, mooiste maand die goete mag inlê nie. Ek wonder steeds waar die geloof vandaan kom maar ek hou maar by die voorskrifte en dus sorg ons maar dat alles op die stoof is voor die kalender beduie het.

Soos dinge mos maar is met die kookproses moet jy dikwels die stroop wat oorbly oorhou vir die volgende kooksel. Al beduie die slimmes en verfyndes dat dit nooit mag gebeur nie doen meeste maar so en jy preserveer die bottels stroop sommer saam met die vye. Vir later, sien. Uiteindelik, soos met meeste opgaarsels, beginne jy mos maar ontslae raak van al die onnodighede. Soek bottels vir die ander inmaakgoete. Want bottels is skaars goed deesdae en duur as jy hulle nuut moet koop, so jy hersirkuleer maar die onnodige.

So moet ek instaan want Apie weier mos om alleen die huis te betree want "oubaas" dwaal blykbaar nog hier rond. Die potte roer want dis konfyt tyd en daar’s nie tyd vir lang laggies en kaaltanne maak nie. Jy moet vat as jy vat en as jy moet bottels was moet jy was want die goed moet nog gesteriliseer word. Apie krap in die vuurhert en beduie-brom dat hy gatvol is om warm vuur leeg te maak en ek vra hom waaroor hy nou weer kerm en hy beduie: "Niks, ek praat sommer met myself." Ek vra hom of hy al die tou gekry het en hy beduie nee, Hy gaan hom nie self hierdie week ophang nie. Hy hanna-hanna om die voete en ek beduie vir hom dat die plek nou knap raak en nie lus het om te val oor mense nie.

"Hier, Apie, hier’s 'n bottel stroop van laasjaar se groenvye. Wil jy hom nie vir ons uitgooi lat ons die bottel kan was en in die pot kan kry nie asseblief?"

Ek moes gekyk het maar het nie en ek hoor hy het die bottel diep bekyk.

Later, baie later, met die bottels aan't afkoel en die kombuis stadig maar seker besig om na normaal terug te keer en ek net besig om die dringende papierwerke in te haal hoor ek 'n klank en na die klank hoor ek 'n sagte stem beduie: "Kan jy my huis toe neem, asseblief?"

"Wat de fok ruik nou so na stront? Het jy in die honne se kak getrap?" Ek kyk my skoensole om doodseker te maak dit wassie ekke nie want met al die welsyn honne oppie werf is mens nooit seker nie, want nuwe honne kak mos nie soos ou honne op dieselle plek nie. Nuwe honne moet mos eers die ding uitwerk waar om te kak en eers as jy kaalvoet daarin getrap het sal hulle hul plek verskuif. Of, soos mens mos maar moet doen, die hond stadig leer om op sy eie plek innie tuin te kak.

"Nee, ek wil net huistoe."
"Wat de fok gaan aan, hoekom praat jy so sag? Herre, iemand is besig om te ontbind hier rond."
"Dis daai groenvy stroop van jou."
"Wat van die groenvy stroop?"

Dit vat letterlik ure se geduldige uitvra onder protes, want die reuk is onaards:

"Herre, Arthur, dit is jy wat so na stront ruik. Waar was jy?"

"Man, ek het die stroop wat jy gegee het gedrink en toe het my maag geloop. Ek kon nie knyp nie. Ek het myself bekak. Kan jy my gou huistoe vat lat ek 'n skoon broek kan loop aantrek?"
"Alles? Die hele bleddie bottel?"
"Ja, ek was bang die anner manne gaan ook wil hê toe drink ek dit maar voor hulle kon sien."

Ek het al baie stront geruik en ek het al dikwels ou stront geruik. Maar die reuk van groenvy purgasie wil ek nooit ooit weer ruik nie. Hy sê hy het dit eers nie agtergekom nie want dit was basies soos 'n klam wind. Jy weet, daai soort. Hy sê hy het eers agtergekom dat daar fout was toe die manne begin vra het of die kaklorrie weer in die omtrek is. Hy sê hy het geweet daar’s fout toe hy so 'n nat loperigheid hier teen sy bene af begin voel het maar omdat dit somer was het hy gedog hy sweet bietjie baie vandag. Dis toe hy voel sy skoene beginne nat word wat hy besef het hier’s fout en dis toe die manne gesien het die hele spul is nat van agter.

Tot vandag toe weier Arthur om sy mond aan enigiets soeter as doodgewone Coca Cola te sit. Ek sou ook as ek hy was.

oester

  • 1

Kommentaar

  • Oester! Ek weetie of ekke gelag of gehuil het nie - maar dit het na so iets geklink ... Reguit geskryf se Moses! (Sies man)

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top