Daar is diegene wat die ooglopende sukses van tweeduisend jaar van Christendom graag trompetter, en dit dan aanvoer as bewys vir die ewige waarheid van hierdie godsdiens. Die realiteit van die saak bewys egter die teendeel. Die vraag is eerder tot watter mate die Christendom daarin geslaag het om die verloop van die geskiedenis te beïnvloed, om twee vernietigende Europese oorloë te verhoed, en die antwoord is in geen mate nie.
Op televisie volg ek ‘n reeks met die onderwerp, "Letters from the Front", wat die ondervindinge van die Britse, Franse, Duitse en Russiese soldate op die front beskryf. Almal soldate van Christen-nasies met byna tweeduisend jare van Christendom agter die rug. Die lyding van hierdie manne in die loopgrawe was eenvoudig onbeskryflik, en as mens nou bewyse wil soek van die afwesigheid van, of vir die nie-bestaan van God, is al die bewyse hier voor die hand.
So wat dan is die sukses van die Christelike geloof, die geloof van medemensliefde, en liefde vir God nou eintlik as hierdie geloof geen invloed het op die wyse wat mense optree nie, en nooit in staat was om konflikte tussen volke op te los nie, om menslike katastrofes te verhoed nie? Lê die antwoord daarin dat die kern van hierdie geloof nooit internaliseer kon word nie, dat die woord nooit vlees kan word nie?
In al hierdie instansies is al hierdie manne van verskillende Christen-nasies na die front gestuur met die seëninge van daardie lande se respektiewe Christen-kerke waar hulle gaan veg het met die leuse "vir God, Koning, en Vaderland" op hulle lippe.
Groete,
Pieter Redelinghuys

