Angus skrywe aan Jan Rap dat taal vergelyk word met ? rekenaarprogram, dat die taalvermoë van die mens, wat UG (Universal Grammar) genoem word, die vermoë het om 'n hele taal met al sy ingewikkeldhede, te genereer. Mens kan nog so min of meer sin maak van hierdie stelling, maar dan gaan hy verder en hy haal ander agnostici aan wat Darwin aanhang, wat beweer het dat die mens se taalvermoë die produk of neweproduk is van sogenaamde evolusionêre natuurlike seleksie.
Hierdie stellings word as feite weergegee, maar dit is tipes van die gebrekkige standaard van die 'wetenskap' wat agnostici aanhang. Hierdie is uiters wilde stellings wat hoegenaamd nie bewys kan word nie. Dit is dus 'n afleiding, 'n aanname, 'n blote hipotese wat tot feit-status verhef is. Dit is tipies die soort van teorieë en hipotese wat die darwinistiese evolusionis dan voorhou wanneer hulle vir jou sê dat sy evolusieteorie 'deur en deur bewys' is. Hierdie tipe intellektuele leuens – waarvan die standaard evolusieteorie deurspek is – verkondig hulle vryelik sonder om 'n oog te knip.
Maar ons weet van beter.
Mense soos Pinker en Bloom, na wie Angus ook verwys, gee voor dat die menslike taalvermoë 'n instink is wat aangepas is by die menslike behoeftes.
Die probleem hiermee is dat die gehele premis berus op die blote aanname dat evolusie vir alle lewe en ontwikkeling daarvan verantwoordelik is. Daar word dus nie verder gekyk nie en so word daar dan binne die eng raamwerk wat die evolusie-teorie bied, gesoek na antwoorde, maar met verskeie vooropstellings – een waarvan is dat dit deur natuurlike seleksie moes gebeur, want natuurlike seleksie is die stom skepper-afgod van die agnostikus, wat dan ook evolusioniste is.
Om dit so te kan verduidelik, moet hierdie mense onbewysbare teorieë konstrueer. Daar is net eenvoudig geen manier hoe hulle kan bewys wanneer en hoe hierdie vermoë van die mens só sou kon ontwikkel nie ... en van wat of waaruit het dit kamstig so ontwikkel of geëvolueer? Wat het die taalvermoë voorafgegaan en hoe lank het dit geneem om so te 'evolueer'?
Dit is pure snert.
Die Waarheid is dat die mens deur God met hierdie superieure vermoë geskape is. Kommunikasie is die mens se sterk punt en was nog altyd so sedert hy as mens geskape is. Tewens, dit is hierdie vermoë van die mens wat hom in antieke tye kollektief laat oorleef het te midde van fisiek baie meer rats en sterk diere wat aas, roof en plunder as 'n primêre wyse van voeding en oorlewing. Die mens se Godgegewe kommunikasievermoëns gaan die gesproke woord verby – hulle was van die vroegste tye in staat om met tekens oor onhoorbare afstande te kommunikeer benewens hul spraakvermoë.
Die Woord stel ons vroeg in die geskiedenis van die menslike skepping bekend aan die mens se volwaardige vermoë om te kommunikeer – te praat. God is die God van kommunikasie (Genesis 1:3, 6, 9, 14, 20, 24, 26). So is daar met Adam en Eva gepraat en hulle ook onderling met mekaar, asook hulle nasate, ens. Spraak was van die begin af gebruik om vrede te maak of geskille te veroorsaak (Spreuke 16:24; Genesis 37:4).
God word dan ook erken as die Gewer van spraak- en kommunikasievermoëns (Eksodus 4:11). Die diversiteit van tale kom ook van God af – by die Babelse verwarring (Genesis 11:1; 11:5-9), wat aandui dat mense tot op daardie stadium almal een taal gepraat het. Daarna het taal ontwikkel deur vermenging en blootstelling aan die verskillende kulture wat sedert Babel gevestig het. Dit sien ons uit die historiese rekord wat die Woord ons bied en stem ooreen met wat ons vandag weet en tipies, hoe mense nuwe tale aanleer. Die feit dat die agnostikus en evolusionis hierdie rekord verwerp weens sy persoonlike agnostiese religieuse redes maak dit nie minder gesaghebbend nie, want selfs die evolusionis besef daar is 'n ingebore vermoë om te kommunikeer (ook deur taal), maar weet nie, weens onkunde oor die Skepping, hoe om dit te verklaar nie, vandaar die bespiegeling met evolusie en natuurlike seleksie.
Dit het ook niks te doen met aanpassing ter wille van behoefte nie. Daar was nie tyd voor nie - en tyd is die gewilde leemte-stopper-fopspeen van die evolusionis. Hoe het die mens kon regkom sonder om te praat - taal te besig – as hy daarsonder kwansuis so ver ontwikkel het, sodat taal nodig was om in pas te kom met die ontwikkeling? As hy dan sonder taal so ver kon ontwikkel, waarom was taal nodig?
Hierdie mense dink nie voor hulle praat nie - dit is pure snert en dan gooi hulle mekaar toe onder die pryse en toekennings vir sulke twyfelagtige 'vindingrykheid'.
Feit is dat die mens fyn gesofistikeerd ontwikkel het deur sy interafhanklikheid en juis sy superieure vermoë om kollektief te kommunikeer en te beplan, van die begin af.
Die interessante dinge wat van die evolusieleer 'n klug maak, word nooit deur die aanhangers bespreek nie. So byvoorbeeld hulle aandrang dat evolusie tydsaam te werk gaan deur lukrake natuurlike seleksie – en hier praat hulle sommer van miljoene en biljoene jare asof dit minute is. Dit is nou die makro evolusie ... maar wanneer dit by die aanpassingsprosesse kom, wat hulle mikro-evolusie noem, dan is daar nie sprake van sulke tyd nie – dinge gebeur relatief blitsvinnig. Hierdie prosesse wat hulle deesdae graag as bewys vir die bestaan van hulle evolusieteorie noem, vernietig hulle lang-tyd teorieë geheel en al.
Ons sien hoe, byvoorbeeld, vlooie en die malariamuskiete binne relatief 'n ommesientjie weerstand teen gif ontwikkel – om nie eens van die planteryk te praat waar weerstandigheid vinnig ontwikkel nie. Inenting teen siektes is ook 'n goeie voorbeeld. Dit kan eenvoudig nie weens tydrowende natuurlike seleksie wat lukraak (trial and error) plaasvind, gebeur nie. Dit is ooglopend 'n superieure ontwerper-vermoë in die genetika ingebou wat eenvoudig die voortbestaan van die tipe verseker en baie vinnig in werking tree om die nuwe chemiese- en ander bedreiginge die hoof te bied, ongeag hoe vindingryk die mens probeer om 'n stappie voor te te bly met nuwe manipulasies met sy kollektiewe, superieure intelligensie en beplanning en toerusting.
Te oordeel dus aan die uiters snelle ontwikkeling vir aanpasbaarheid, het makro-evolusie (die uitspattige en onbewysbare lang-tydsverloop teorieë om die gapende leemtes te probeer vul en dan as bewys voorgehou word), wat net in teorie bestaan en nog nooit bewys kon of sal kan word nie, totaal en al tot stilstand gekom ... daar is net eenvoudig in al die jare, met al die 'vooruitgang' en al die wetenskaplikes wat soos besetenes soek vir getuienis en al die toerusting, geen sigbare bewys of voorbeeld voor te vinde nie.
Hoe dan so? Hoe verklaar hulle die verbysterende snelle en uiters waarneembare tempo (relatief) van die mikro-aanpassings maar die onwaarneembare stadige tempo van die makro-'evolusie'?
Daar is geen bewys dat die vlooi of enigiets anders besig is om in 'n ander soort te ontwikkel nie. Hulle verskoning is dat die proses so stadig is dat mens dit nie kan waarneem nie. Snert. Mens kan dit nie waarneem nie, omdat die nie gebeur nie.
Die evolusieleer is 'n klug. Al wat ons wel sien, is die verbysterende Intelligente ontwerp en beplanning van Goddelike skepping – taalvermoë inkluis.
Kobus de Klerk


Kommentaar
Beste Kobus,
Kobus, het jy al die een gehoor van die ou wat op 'n dag 'n legkaart op sy rak kry, wat seker al jare daar lê. Seker laas daar ingedruk nadat sy kinders al te oud was vir die soort van ding. Hoe dit ook al sy, hy is verveeld en begin toe bou aan hierdie legkaart. Drie weke later roep hy die vrou in en met baie trots in sy stem kondig hy aan dat hy hierdie legkaart gebou het in 'n rekord tyd. Sy vrou tel die dosie op en lees op die kant: "3 - 5 years". Met jou bespreking van die Bybel kon ek nie help om aan hierdie storietjie te dink nie.
Ergste is Chris, dat selfs op daardie vlak, kan (meeste van) julle dit nie bykom nie. Jy besef tog seker, jy en Angus het met julle niksseggende kommentaar niks gesê nie ...
So ook kan jy nie die feit insien dat, om my te probeer beledig, geensins enigiets aanspreek nie en ook niks weerlê wat ek weergee nie. Jy sien, as jy in staat was om redenasies op 3-5 jarige vlak die hoof te bied, sou jy mos en sou jy nie eerder maar uit desperasie die weg van slegsê en beledig kies nie.
Maar ek het jou al oor die jare uitgekyk - jy kruip net uit die houtwerk wanneer ons iets skrywe wat jou so ruk dat jy nie anders kan nie, daarna die vlaag van beledigings om jouself mee te probeer lawe en dan verdwyn jy weer ...
Kobus de Klerk
Ai tog Kobus
Beste Kobus,
Kobus de Klerk is in my beskeie opinie die 'Don Quixote van ons tyd. Soos die heer in die verhaal voel hy geroepe om al die 'verkeerde dinge, wat veral die ateïste gegrond op die wetenskap' op hierdie forum kwytraak reg te stel.
En dan word Kobus baie kwaad as niemand sy agterryer wil word nie en beskuldig hul dan maklik van 'godslastering' as hul waag om van hom te verskil.
Beste FC Boot,
Miskien moet julle eerder probeer om die feite wat ek hierbo in die artikel weergee, te weerlê. Om my te probeer slegsê met irrelevante snert en wilde bewerings help natuurlik nie en doen geen afbreuk aan wat ek hierbo weergee het nie. Trouens, dit wys daarop dat julle nie dit wat ek weergee kan weerlê nie, anders sou julle dit mos eerder doen as om uit 'n gevoel van magteloosheid bloot vir my as persoon aan te val en nie eens probeer om enige weerlegging te doen nie.
Moenie dink dat mens nie hierdie onwyse en swak taktiek van julle raaksien nie. Net insigloses sal daardeur getruuk word...
Maar uit een van Angus se kommentare hierbo sien mens dat julle waarskynlik - gebruiklik, moet ek dalk eerder sê - nie kan verstaan wat ek weergee nie en dit dan as niksseggend afmaak terwyl julle nie besef dat dit weerlegging bied vir julle darwinistiese evolusionistiese snert nie. Thomas, byvoorbeeld, besef nie of is nie eerlik genoeg om te erken dat die teorie vol aannames is en al hoe meer sulke aannames gemaak word om die model aan die lewe te probeer hou nie. Hy praat van DNS ooreenkomste. Natuurlik sal daar sulke ooreenkomste wees - die Woord sê vir ons duidelik dat alle lewe deur Een Skepper uit een Plan uit dieselfde aardse grondstowwe gemaak is om in 'n gemeenskaplike biosfeer te oorleef. Derhalwe is die DNS ooreenkomste tussen soorte (stamme of hoofgroepe) en ook die fisieke ooreenkomste tussen verskillende soorte en tipes (spesies) oor die tyd heen, klinkklare bewys van die korrektheid van die Woord se eeue der eeue oue rekord daarvan soos ons in Genesis aantref. Maar dit is allermins bewys van die verspotte darwinistiese makro-evolusie en daar is geen manier hoe hulle dit kan weerlê nie. Ons het die antieke rekord hiervan - in die Woord - opgeteken toe daar nie so iets soos wetenskapsbeoefening (soos dit vandag geken word) bestaan het nie, plus die bewyse daarvoor in die mikro-biologie. Daar is dus betroubare antieke rekord wat deur wetenskaplike feite vandag ondersteun word en kan die antieke bron (geskrewe Woord) dus as betroubaar en bewese beskou word. Daar staan mos in die Woord dat God se werke (skepping) onbetwisbaar van Hom getuig.
Dan is daar natuurlik ook die outjies onder hulle wat glo aan nog wilder sprokies, want hulle glo lewe kom van 'stardust' sonder dat dit op enige manier bewys kan word...
Julle het 'n nuwe agterryer (om sy eie voorbeeld op hom van toepassing te maak) - Boot, die ou wat sê hy is 'n gelowige met sy lippe, maar met sy dade alles in sy vermoë doen om die geskrewe Godgeïnspireerde Woord te diskrediteer en sy liefdeloosheid uit te leef hier ten aansien van diegene wat met hom verskil.
Kobus de Klerk
Beste Kobus,
Angus,
Jou probleem is dat jy moderne taalverskynsels wil aanwend om antieke taalgebruik mee te kategoriseer. Dit is ooglopend snert. As mense mites en fabels op 'n sekere manier aanbied in die hede, beteken dit glad nie dat dit so gedoen is in antieke tye toe die Woord opgeteken is nie.
Feite kan op enige manier aangebied word. Die feit dat feite vir jou op 'n manier aangebied word wat vir jou soos mite lyk, maak nie daarvan mites nie. Jy sien, dit is waar insig en begrip van taalaanwending in konteks 'n deurslaggewende rol speel, maar nie vir jou nie want jy sien alles oppervlakkig en sonder driedimensionaliteit.
Die evolusieteorie bied 'n besondere eng raamwerk. Dit handel slegs met dit wat julle kan sien. Daar is geen dimensie van diepte daarin nie. Kan jy jou indink wat daar alles is wat julle nie kan sien nie, en hoe julle dus julself mislei deur julle 'bewese feite' te baseer op slegs dit wat julle sien? Maar jy kom dit nie agter nie, selfs nie eens wanneer die teorieë gedurig verander en aangepas moet word om nuwe inligting te ondervang nie, wat op sigself 'n aanduiding is van die onbetroubaarheid en wankelrigheid van julle stelsel.
As jy dan sê dat evolusie nie verantwoordelik is vir alle lewe en ontwikkeling daarvan nie (ek stem beslis saam - dit is glad nie), maar blote geskiedkundige verhaling (watter snert praat jy), wat is dan daarvoor verantwoordelik? Ek weet, maar weens jou agnostisisme weet jy glad nie. En dit is hier waar jy die evolusieteorie wat jy self aanhang, ernstig afskietb... Goed so!
Baie mense glo in die evolusieteorie as verklaring van ontstaan en ontwikkeling van lewe, sonder dat hulle weet hoekom, bloot omdat hulle meen dit moet so wees omdat dit so onderrig word, maar nie uit eie kennis nie. Veral mense wat agnosties is - geen agnostikus sal God se Skeppingswerk erken nie - almal sal egter, wanneer hulle met die vraag gekonfronteer word, hulle eerder by die evolusieleer skaar al verstaan hulle niks daarvan nie.
Waar het ek te kenne gegee dat Adam en Eva Hebreeus, Galdees, Aramees of Grieks of so iets gepraat het? Dat hulle taal gebesig het, is 'n feit, omdat hulle met mekaar en met God gekommunikeer het - en ook met die duiwel, ja. Maar daardie is relatiewe 'moderne' tale. Jy maak die onsinnigste aannames en afleidings en dit is, weereens, die verklaring waarom jy net eenvoudig niks kan verstaan waaroor daar geskrywe word nie.
So het jy steeds niks gesê wat enigiets weerlê wat ek weergee het nie.
Kobus de Klerk
Beste Kobus,
Angus,
Ek stem saam dat Adam en Eva onmiddellik 'n taalvermoë had. Evolusionêre natuurlike seleksie het daar dus niks mee te doen nie. Taalvermoë was van meet af aan 'n unieke menslike gawe van God, die Skepper.
Jy sê taalverskynsels is so oud soos die taal - in ons geval Afrikaans - en dan wil jy dit aanwend om vertalings van antieke taal mee te interpreteer? Jy besef natuurlik dat Afrikaans een van die jongste tale in die wêreld is ... Geeneen van die antieke tale word meer in oorspronklike formaat gebesig nie of het heeltemal verdwyn en nuwe tale het ontwikkel met hul eiesoortige taalverskynsels ooreenkomstig die kulture waarbinne hulle ontwikkel het. So sou dit ook wees met die antieke tale.
Ek dink jy is nou opsetlik as jy sê dat ek beweer meeste mense skaar hulle agter die evolusieteorie, want dit kan tog nie wees dat jy werklik nie kan verstaan wat ek skrywe nie. Jy kletter oor taal en taalgebruik en taal genres ens, maar jy is nie in staat om te verstaan wat ek skrywe in gewone Afrikaans nie? Wat ek sê is dat alle agnostiese mense hulle agter die evolusieleer sal skaar omdat dit ontwerp is om die betrokkenheid van die Skepper doelbewus uit te skakel en agnostici nie erkenning verleen aan die Skepper nie.
Dit help nie jy redeneer met my oor die taalgebruike nie - jy kan sê wat jy wil. Die taalverskynsels en gereedskap wat jy aanwend is alles nuwe verskynsels. As modelle vir kategorisering het dit beslis nie in antieke tye bestaan nie. Daarom behoort jy te weet dat waar antieke skrywers gebruik gemaak het van taalkonstrukte wat in der tyd beskikbaar was, dit nie gedoen was met dieselfde oorwegings en interpretasies as wat vandag aangewend word in moderne taalkonstrukte nie.
Daar was in antieke tye duidelik baie gebruik gemaak van simboliek - so is die slang in die spesifieke kultuur van toepassing in daardie tydsgewrig geassosieer met kwaad, bose en die Goddelose. Vandag sal ons praat van metafoor. Net so met verwysing na drake, wat maar 'n spesifieke simboliese betekenis had. Let maar op die gebruik van simboliek in Daniël en Openbaring waar daar na diere verwys word om verskillende volke en spirituele groeperinge aan te dui. Hierdie tipe verskynsels sien ons al in Genesis, om werklike, bestaande spirituele vyande aan te dui en met verwysing na die tipe metafoor wat telkens gebruik word, om deur assosiasie met die toenmalige bekende diere of ander verskynsels te verduidelik wat die spesifieke aard van so 'n spirituele vyand is.
Werklike sprokies, mites en fabels is dinge soos The Hobbit, Harry Potter, sommige van die broers Grimm se stories en dergelike, wat nie voorgee om die werklikheid te weerspieël of selfs te onderrig nie, blote verbeeldingryke leesgenot. Dan is daar dinge soos byvoorbeeld Aesop se fabels wat met beeldspraak en fiksie verskuilde betekenisse aanwend om dinge te verduidelik en net soos die HERE Jesus Christus se gelykenisse, aangewend vir onderrig aangaande werklike situasies, in teenstelling met kulturele taalgebruik wat simboliek en metafoor gebruik om werklikheid te beskrywe en verduidelik. Laasgenoemde kom baie dikwels in die geskrewe Woord voor.
Jy praat van Griekse, Babiloniese en Egiptiese mitologie. Vir ons vandag lyk dit so - na mitologie. Maar wat het die antieke skrywers van die tyd daarmee bedoel? Hoe het hulle dit interpreteer? Jy weet glad nie. Jy raai na aanleiding van jou taalkennis vandag en hoe dinge vandag gesien word en maak dan sommer aannames daaromtrent en dit doen julle ook met julle stuitige evolusie-aannames.
Jy voer 'n verlore stryd. Jy het nie die insig om die dinge wat ek hier weergee, self in te sien nie, ook nie eens oor die taalgebruik nie. Weens jou agnostisisme is jou siening verstok en oppervlakkig. Jy is nie eens in staat om die Woord-simboliek te identifiseer vir wat dit is en te verbind met die werklikheid nie - en dit wat ek sê is nie bedoel om jou te beledig nie. Dit is 'n feit, want so sien ons telkens wanneer jy oor hierdie dinge kommentaar lewer. Jy erken dit eintlik, want jy erken dat julle slegs handel met die bietjie wat julle kan sien en waarneem met julle fisieke sintuie, asof dit die somtotaal van die ervaringswêreld van die mens in sy ontwikkelde staat behels, terwyl dit maar net in werklikheid 'n klein deel uitmaak van die mens se totale vermoë tot waarneming en ervaring. Wyl die grootste ervaringsveld juis op Spirituele- of Geestesvlak is waar dit by uitleg van die Woord aankom, is julle pogings en aanmerkings daaromtrent ooglopend brandarm aan insig en begrip weens julle ontkenning van en gevolglike gebrek aan spiritualiteit en Spirituele Intelligensie.
Dit wat ek weergee, weerlê telkens wat jy beweer. Maar jy het nie die insig om dit te begryp nie.
Agnostisisme maak julle bot en stomp en jul ervaringswêreld word al nouer en kleiner.
Kobus de Klerk
Beste Kobus,