Ek het hierdie afgelope week tot my skaamte teenoor myself moes erken ek is skuldig aan dubbele standaarde. Ek "profeteer" mos die lewe is keuses. Ek is redelik geduldig en beslis nie aggressief nie. Ek het egter een groot doring in my vlees en dit is swak, onbedagsame en "onnosel" motorbestuurders. In my huidige werk/beroep moet ek noodgedwonge van tyd tot tyd in 'n motor klim en iewers heen ry.
Ek en 'n nuweling, van Zoeloe-afkoms, wat by ons begin werk het, het in die week iewers heen moes ry. Hy is in sy laat twintigs. Ons ry met sy motor. Ons besoek die persone wie ons moet besoek en ry so paar ander draaie.
Wat my opval is dat hy nie die kortste pad terug kantoor toe ry nie. Almal "druk" voor ons in. Dit is nie net taxi's nie, maar almal. Hy lig nie 'n vinger of klim op die toeter nie. Hy is ewe rustig en laat party ander motoriste toe om voor ons in te "druk". Ek is naderhand heel opgewonde en kan daar 'n eier op 'n strategiese plek in my lyf kook. Ek kom toe agter ek is die enigste een wat opgewonde raak. My kollega is heel rustig en kalm. Dit slaan my toe soos 'n hamer. Hier sit ek, ek bestuur nie eers die motor nie en word moerig vir almal. Die ander bestuurders weet nie eers waaroor ek moerig is nie. Ek sit en klits myself op en dit is heel onnodig. Dit is moeilik om toegewings vir taxi's te maak, maar het ek tot die besef gekom, vyf sekondes se wag sal my nie soveel later by my bestemming laat aankom nie.
Ek het ook vroeër die week die beste voorbeeld van die blinde sambok wat jou moer gesien. Ek wag by 'n uitgang om in die straat in te draai. Ek kan nie verder ry nie want 'n Indiese dame in 'n 4-trek Bankrot Maar Windgat wil in die baan wat die uitgang is, inry. Ek stop en ry agteruit. Die sekuriteitsman wil haar stop maar sy jaag voort. Sy swaai uit om my te mis maar die 4x4 spring die lug in toe sy die randsteen bestyg. Die voor en agterwiele is egter nie so hoog soos die randsteen nie en die 4x4 kom met een moerse slag op die randsteen neer. Ek hoor net die geknars van die onderstel en ander onderdele. Die dame jaag egter voort. Ek dog toe by myself, daar het jy dit nou. Blinde sambok het jou nou net gepiets.
Reusedwerg


Kommentaar
Aitsa!! - Ja-nee, Reusedwerg, sekere dinge toets mens se geloof en geduld. En dis nodig ... (om verdraagsaamheid te kweek).