Gays - dis mos "old hat" volgens Dirk Rigter

  • 17

My brief oor my indrukke van die KKNK beslaan 11 paragrawe. Dirk sonder twee uit wat hom hewig ontstel, die res ignoreer hy geheel en al, sonder om selfs te noem hoe hy oor die KKNK, soos ek dit uiteengesit het, voel. Sy beswaar was dat ek die seksuele oriëntasie van my vriende in die brief genoem het wat hy voel onnodig was, dus sy “Old Hat” beskrywing.

Sy volle respons is hier te lese: https://www.litnet.co.za/Article/brief-kknk-indrukke

Maar wat is vir die heteroseksuele soos Dirk “Old Hat”? Die “Piss Elegant Drama Queen” tipe gay wat prominensie verleen word in die Pretoria, Johannesburg, Kaapstad en Soweto “Gay Pride” asook die “Pink Loerie” van Knysna vir die publiek ten toon gestel? Ja, ek stem. Hulle is beslis “Old Hat”.

Wat nie “Old Hat” is nie, is diegene wat ek in my brief as “gay” vriende beskryf het, wat deel vorm van ’n homoseksuele gemeenskap ingevleg binne die heteroseksuele gemeenskap, wat heeltemal in die kas ten alle tye sal bly, en selfs nie as “gay” uitgeken sal wil word nie. Hierdie mense sal jy nie by gay klubs of ander gay venues sien nie, want ten spyte van hulle homoseksuele voorkeure, wil hulle eerder met die heteroseksuele gemeenskap vereenselwig wees. Hierdie persone is merendeels getroude persone. Die feit dat ek hierdie “gay” vriende in my brief genoem het, is doelbewus gedoen om aandag daarop te vestig dat dit nie net die “Old Hat tipe gay” is wat homoseksueel is nie, maar dat homoseksueles ook in die getroude heteroseksuele gemeenskap te vinde is. Moontlik die rede vir Dirk se misnoeë, of is sy ewewigtige balans versteur?

Maar vereers om ‘n bietjie af te wyk: Die meeste deelnemers op SêNet het ‘n troetel onderwerp waaroor hy/sy graag wil skryf. Angus oor evolusie en taal; Kobus oor godsdiens; Jan Rap oor taal en die ander “patete” Afrikaner; Panda en Thomas oor sterrekunde; FC Boot oor nonsens; Dirk Rigter met tussenwerpsels oor enige onderwerp onder bespreking, ens. My troetel-onderwerpe is homoseksualiteit en die Afrikanerpolitiek, met nou en dan kommentaar oor godsdiens (wat ek verkieslik probeer vermy).

Angus het Darwin en Dawkins as hoofbronne; Kobus die Bybel; Jan vir Dan Roodt; FC Boot die Internet se weersprekende bronne, ens. My geliefde bron is Rictor Norton wat amper die hele spektrum en geskiedenis van homoseksualiteit dek.

My leefwyse is geskoei op “Hedonism” wat kortliks die volgende behels: “Ethical hedonism is the idea that all people have the right to do everything in their power to achieve the greatest amount of pleasure possible to them, assuming that their actions do not infringe on the equal rights of others” (Aristippus of Cyrene).

Om terug te keer na my “gay” vriende (fiktiewe name hier gegee): Jan en Piet het as seuns en as vriende op naburige plase saam grootgeword, plase wat beide mettertyd geërf is en tans besit. Die tiener mede-betasting het mettertyd tot volwaardige homoseks gelei, aanvanklik sonder om te besef dat daar ander soos hulle is nie. Beide het meisies ontmoet, en as gevolg van groepsdruk van die boeregemeenskap waarin hulle hul bevind het, mettertyd elkeen met sy meisie getrou wat tot ’n volwaardige liefde vir mekaar ontwikkel het, met kinders as byproduk. Die twee het nooit opgehou om mekaar te bevredig nie.

Die liefde “agape” tussen die mans en hulle vrouens is eg. Die liefde “agape” en die liefde “eros” komplimenteer ongelukkig net nie mekaar nie om volkome bevredigende liefde te kan bewerkstellig nie. Beide mans sal nooit hulle vrouens, vir mekaar, versaak nie.

Ek het Piet deur besigheidstransaksies ontmoet. Hy het agtergekom ek is gay, maar op my beurt het ek aanvanklik nie van hom geweet nie. Na vele besigheidsontmoetings het ek geleidelik agtergekom hy is besig om my te kamp. Ek het nie verder op my laat wag nie. Na ’n klompie sessies saam, kom ek die een dag met besigheid en daar is Piet (wie ek glad nie geken het nie) toe saam en so het ons drie sedertdien saam vriende geword.

Kobus en Faans was twee boere met afsonderlike plase omtrent 200km uitmekaar, en het glad nie van mekaar geweet nie. Altwee was jonk en ongetroud. Beide Kobus en Faans het ek afsonderlik verlei, want die “gay vibe” in beide was te sterk om te ignoreer. Afsonderlik het ek hulle aan Jan en Piet voorgestel,en toe word ons vriendekring vyf van ons. Kobus en Faans raak toe verlief op mekaar. Faans gee magtiging aan sy plaasbestuurder om die plaas namens hom te bestuur, en trek toe by Kobus in.

Wouter ontmoet ek in die Rec Room stoomklub in Johannesburg, openlik gay met ‘n verloofde (nie in die stoomklub nie) wat weet hy is gay. Toe ek ontdek hy is ’n Vrystaatse boer, was hy nie meer ‘n “casual” ontmoeting nie, maar ‘n nuwe besigheidskliënt asook vriend. Hy word ook aan die ander hierbo genoem deur my voorgestel. Dus was ons voltallig op 6 vriende wat so dan en wan saam in ‘n hut in Lesotho ‘n lang naweek of wat saam deurbring.

My jong vriend op Lategansvlei buite Oudtshoorn, het ek sowat 5 jaar gelede ontmoet, ook ten tye van ’n KKNK-feesgeleentheid. Hom afgeraai om te trou, maar trou het hy toe wel gedoen. Met my jongste besoek aan hom is hy vir my meer gay as ooit tevore. Soos ek hom en sy vrou saam gewaar, is ek nie seker of hierdie huwelik gaan hou nie. Hopelik indien dit verongeluk, dat dit geskied voordat daar enige kinders is.

My lewensmaat Wim stel geen belang in my Vrystaatse vriende nie, en ek nie in syne nie. Hy is ’n kranige golfspeler; sy vriende met die stank houding onder die neus, ook.

Volgens betroubare statistieke vorm gays omtrent gemiddeld 5% van die totale bevolking. Ek wonder net of hierdie statistieke gays in die kas ook insluit. Indien nie, is die syfer dan aansienlik groter.

A sure give-away! Waar daar onbekende aantreklike jong mans en dames is, kyk skelm waar dwaal die oë gereeld van diegene in jou geselskap. Miskien word jy ontnugter jy het ‘n gay man, seun, vrou of dogter!!

  • 17

Kommentaar

  • Kobus de Klerk

    Jaco,

    Jy sê 'n verklapper vir die homoseksuele neiging is wanneer die oë gereeld dwaal van diegene in jou geselskap. Maar jy het dit heeltemal mis. Mense vir wie homoseksualiteit - veral ooglopende homoseksualiteit - weersinwekkend is, sal juis met misnoeë bly kyk, vir dieselfde rede dat mense by 'n grusame ongelukstoneel stilhou en na die slagoffers kyk ... dit is 'n vreemde streek van die mens wat geneig is om dit te doen.

  • Jaco,

    Hier gaan jy alweer! Ek het aan jou 'n eenvoudige vraag gevra: Hoekom skryf jy (kwansuis) oor jou KKNK-indrukke, maar borduur die helfte van jou skrywe met jou vriende se seksuele voorkeure, ens? Dink jy die leser van 'n brief met so 'n titel wil rêrig weet wie slaap waar en wie is getroud, terwyl hulle eintlik gay is, bla,bla,bla...

    In plaas daarvan om my geldige vraag te antwoord, trek jy los met 'n ellelange irrelevante brief oor hedonisme, Jan en Piet en tienerbetasting, jy en Piet, Kobus en Faans en julle "gay vibe", jy en Wouter en die Rec Room stoomklub, ses van julle in Lesotho, jy en jou jong vriend by Lategansvlei en, les bes, Jy en Wim!

    Ek vra weer: Wat het al die seksuele gediekant toe en gedaaikant toe uit te waai met jou KKNK-indrukke?

    Dirk Rigter

  • Arme Jaco

    Hy probeer so hard –maar skiet homself in die voet met sy voorlaaste paragraaf wat lees:

    “Volgens betroubare statistieke vorm gays omtrent gemiddeld 5% van die totale bevolking. Ek wonder net of hierdie statistieke gays in die kas ook insluit. Indien nie, is die syfer dan aansienlik groter.”

    Laat ek nou tegemoetkomend wees en nog 5% uit die ‘kas’ vrylaat. Dan is 10 % ‘gay’ en 90% van die bevolking nie en bly die lewenswyse van ‘gay’ steeds ’n minderheid en kan dit nie as ’n natuurlike lewenswyse aan die 90% verkoop word nie - al probeer Jaco ook hoe hard..

    Nou praat hy verder nonsens en probeer dan die internet my primêre bron van inligting maak. Ja die internet is ’n belangrike bron wat reg gebruik moet word en daar is geen verskil of jy wetenskaplike tydskrifte se gedrukte of elektroniese weergawe lees nie.

    Ook is daar toegang tot sommige universiteite se navorsing en biblioteke. Jaco probeer hard om sy lewenswyse goed te praat en in die proses ignoreer hy dan die gevare daaraan verbonde deur sogenaamde voorsorgmaatreëls te tref wat hy reeds breedvoerig in ander skrywes verduidelik het.

    Dit pla my dat ’n man wat op ’n tyd vir dominee ‘geswot’ het in verwarring leef omtrent die Bybelse begrip ‘Liefde’. Liefde in die Bybel is tensy dit so uitdruklik verklaar word, nie ‘seksuele liefde’ nie maar dra dit eerder die betekenis van diens en opoffering ook van jou grootste bate naamlik jou lewe want daar is nie verniet geskryf nie dat Jesus tot die vlak van dienskneg gedaal het toe Hy sy dissipels se voete gewas het en ook is daar geskryf in Johannes 3:16: “God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie,maar vir altyd saam met God kan leef.”

    Die Onsigbare God moes Hom self verneder en in ’n menslike liggaam in hierdie wêreld kom woon.

    Jesus het nie onnatuurlike kom goed praat nie trouens die verskil tussen die geslagte word so hoog aangeslaan dat dit in die skeppingsverhale uitgelig word.

    Kyk laat ek dit in kru Afrikaans uitdruk. Jy kan ’ n drol in ’n degie toedraai en dit as ’n worsie probeer verkoop, maar dit bly steeds 'n drol en so bly die seksuele verkeer tussen soortgelyke geslagte steeds onnatuurlik en druis direk in teen die doel waarom die Onsigbare God ’n proses in werking gestel het waardeur mans en vroeuns sou ontstaan.

    Laat dit met jou goed gaan.

  • Kobus

    Ek het heel duidelik myself nie goed genoeg uitgedruk nie, weens jou wanvertolking van wat ek in gedagte het. Laat ek eerder myself herskryf om te kenne te gee wat ek hierbo eintlik in gedagte gehad en by bedoel het, nl.:

    Waar aantreklike "straight" jong mans en vrouens in die verbygaan op straat of elders te sien is, loer na jou metgeselle en sien waar dwaal daardie oë EERSTE, en as dit meermale onder soortgelyke situasies herhaal word, sal dit aanduidend wees, nee, "'n give away" wat sodanige persoon se seksuele oriëntasie is, hetsy latent of patent.

    Gays verkyk hulle baie meer aan aantreklike "straights" eerder as mede gays waar die onbekombaarheid van sodanige persoon dit vir hom meer sensueel maak. Soortgelyk wat die straight man vir 'n aantreklike vrou sal verkyk. "You can look and desire, but you cannot touch." Nou vir 'n uiterlike "straight" man om soortgelyk na die man EERSTE te kyk alvorens hy na die vrou kyk, gee hom weg.

    Die situasie waarin jy my eintlik wanvertolk het, sal ek met jou saamstem.

  • Dirk

    Eerstens. Dit is nie vir jou om vir my voor te skryf hoe ek die inhoud van my brief met die opskrif daarvan hoort te koppel nie. Dit was my gekose skryfstyl vir die betrokke brief. PUNT!

    Twedens. Jou vraag het ek beantwoord deur te sê: "Die feit dat ek hierdie “gay” vriende in my brief genoem het, is DOELBEWUS GEDOEN om aandag daarop te vestig dat dit nie net die “Old Hat tipe gay” is wat homoseksueel is nie, maar dat homoseksueles ook in die getroude heteroseksuele gemeenskap te vinde is"

    Derdens. Jou respons op my vorige brief het vir my die ideale geleentheid gebied, wat ek aangegryp het, om hierbo verder oor my vriende en oor getroude gays uit te brei, asook te kenne te gee dat my lewe plesiergedrewe is. Dit wil voorkom dit pla jou geweldig.

    Vierdens. Jy het steeds nie enige kommentaar oor die KKNK gelewer nie. Indien die opskrif vir jou die oorwegende faktor van my brief was, sou jy dit gedoen het. Al wat jy besig is om tans te doen is "posturing".

  • FC Boot

    HeHe! Ek geniet dit so baie wanneer ek sien hoe ek dit elke keer reggkry om jou te ontsenu. Jy weet, die ou kat en muis speletjie in my. Dit spoor my elke keer aan om die speletjie met jou voort te sit. Die feit dat jy so maklik oor jou eie woorde trippel, en ek die in jou gesig kan teruggooi, met jou um’s en ah’s daarna, verskaf my die grootste genot. Maat.

    Ek is min gepla wat ander, en veral jy, oor my seksualiteit dink. Ek het nie nodig om vir ander dit te probeer goedpraat nie. Indien jy my brief hierbo krities gelees het, het jy agtergekom ek is nie net gay nie, maar ‘n uitgesproke gay slet.

    Mbt. deel van 'n minderheid wees. Het ek dit ooit betwis? Ek verlustig my aan die kennis dat ek deel het aan die minderheid mense wat die wêreld grootliks verander het. Aardskudders soos: Alexander die Grote; Keiser Julius, Tchaikovsky, Keiser Frederik die Grote, Nietze, Michelangelo, Leonardo da Vinci, Ralph Emmerson, Siegfried Wagner, John Maynar Keynes, Alan Turing (vader van die rekenaar); om net ‘n druppeltjie van die moontlike name vir die emmer te noem.

    Jy verlustig jouself daarin dat jy deel vorm van ‘n meerderheid. Wel ons weet wat die meerderheid meerendeels behels en daarmee wil ek my nie oor skaam nie.

    Is jy dan nie bly dat ek nooit dominee geword het nie? Jy verkwalik my gereeld daaroor. Ek kry die indruk jy wens ek was tog een!

    Jou stelling hierbo van die Onsigbare God, bevestig my vermoede jy ken nie jou God nie, die dat hy vir jou verlangs maar net ‘n Onsigbare God is. Opregte Christene wat ek ken sal nooit van ‘n “Onsigbare God” praat nie. Hulle ken hulle God, het gemeenskap met Hom, loop elke dag saam met Hom, en gewaar Hom in hul lewens.

    Terloops het jy my vorige brief gelees waar ek ‘n sambok met ‘n dildol-steel by die KKNK te koop gesien het? Ek is seker jy het, want ek het nogal gesê dit het my aan jou laat dink. Kan jy jouself verbeel, soos wat ek gedoen het, om jou te sien die gays met die sweep gedeelte van die sambok te moer, terwyl die dildol handvatsel stewig, amper liefdevol vasgehou word.

    Toemaar. Almal is in staat om homself reg te ruk. Jy ook.

  • Jaco,

    Ek het nogal gewonder, maar nou wéét ek: Jy verstaan nie wat "old hat" beteken nie. Dit beteken gewoonweg dat 'n onderwerp afgesaag, derms-uitgeryg, vervelig, ens is. So laat ek dit maar in plein Afrikaans vir jou uitspel: Jou onnodige insleep van gay-wees in 'n bespreking van jou KKNK-indrukke is afgesaag en vervelig en, myns insiens, 'n belediging vir gay persone. Jy maak karikature van jou gay vriende. Hulle verdien beter.

    Dirk Rigter

  • Arme Jaco

    Ontsenu sê jy- siestog - nee jy lewe in 'n gekkeparadys, want jy besef nie die gevare van jou lewenswyse nie.

    http://www.health24.com/.../HIV.../HIV-rife-among-gay-men-2012072...

    Jaco luister nou mooi en hou op met jou volstruistaktiek.Ons lewe in 'n ontwikkellende land.Jy en jou vriende probeer nou jou lewenswyse as normaal voor te hou terwyl dit wêreldwyd gerapporteer word dat 'hiv/aids' besig is om 'n epedemie onder die gay gemeenskap te word.

    Jou soutoplossings en spoel werk dus nie en dit is verstaanbaar want enigiemand met 'n bietjie gesonde verstand sal besef dat ' anal skin tearing amongst gay is well known ".

    Goddank daar is gays wat ek ken wat tot besinning gekom het en opgehou het daarmee.

    As daar iemand is wat ontsenu moet word is dit jy en jou gaymaatjies wat duidelik nie die gevolge van 'n onnatuurlike seksdaad deurdink het nie.

    Laat dit met jou goed gaan.

  • Dirk

    Soos reeds aan jou gesê. Jy gaan nie vir my voorskryf, hoe, wat en wat ek nie mag skryf nie, al is dit vir jou hoe vervelig, onvanpas, ens ook al. Daar sal nog vele van my pen oor die gay onderwerp voorkom.

    Jy is welkom om my briewe te ignoreer. "No skin off my nose."

    Jou tussenwerpsels, en briewe wat jy skryf neem ook die vorm van tussenwerpsels op ander se briewe, is van geen waarde en ook vervelig om te lees. Indien jy feite vs feite oor enige onderwerp wil debatteer, dan sal jy interessant begin voorkom, soos dit die geval met ander SêNetters is.

  • HeHe! FC Boot.

    Ek het vir jou um en ah gewag, en sowaar daar het jy dit. So voorspelbaar.

    Die um en ah het hierdie keer die onderwerp van anale higiene wat al ses maande gelede as bespreekpunt afgehandel was, vorm geneem. Ek het eintlik verwag dit sou 'n voortsetting van dominee word, maar is ek toe hierdie keer verkeerd!

    Jy het toe nie die guts gehad om my teen te bewys toe ek die volgende hierbo oor jou te sê gehad het nie, waardeur jy eintlik hiermee te kenne gegee het, ek het gelyk:

    1. Dat ek my kan skaar by die minderheid wat die wereld verander het, aardskudders, name wat ek reeds genoem het.

    2. Dat volgens jou beskrywing van jou God, dat jy Hom nie ken nie, eintlik van Hom wegkruip, die dat Hy vir jou Onsigbaar is. Die antieke Grieke het ook 'n gedenkteken vir 'n "Onsigbare God" opgeteken wat hulle nie aanbid of geken het nie, Nie soos Paulus wie se God vir hom nie Onsigbaar was nie.

    Dan jou uitmuntende geveinstheid deur te skryf: "......die verskil tussen geslagte word so hoog aangeslaan dat dit in die skeppingsverhale uitgelig word."

    Sies vir jou. Jy is op rekord dat die skeppingsverhaal met 'n knippie sout en nie letterlik opgeneem moet word nie, en dat dit nie deur God geskryf of geuiter is nie, maar deur onbekende Babiloniese skrywers wat eie mening gelug het. Jy het in vorige skrywes beweer jy aanvaar deel van die ewolusieleer se uiteensetting. Nou maat die natuur is vol van tweegeslagtelike wesens, waarvan die "sea horse" vissie 'n voorbeeld van is. Weereens 'n bywys van hoe maklik jy oor jou eie woorde trippel.

    Ek moes daardie sambok met die fop-peester-handsteel vir jou gekoop het om my eerder daarmee te probeer looi, want met woorde en argument kry jy dit nie reg nie.

  • Beste Jaco

    Jy is meester-verdraaier van woorde.

    Daarby verkrag jy nie net die die boodskap van die Bybel nie maar probeer hard om 'n skewe inhoud te gee aan alles wat ek tot dusver nog oor die onderwerpe geskryf het.

    Natuurlik is God vir die mens onsigbaar want jy het in al jou studies nog nie gelees nie dat daar geskryf is: Eksodus 33 verse 18 tot 23. Moses wil sien hoe die Here lyk. 1983 vertaling.

    18 Toe sê Moses: “Laat ek tog net u magtige verskyning sien!”

    19 Maar die Here sê: “Ek sal al my voortreflikheid voor jou laat verbykom en Ek sal die Naam ‘die Here’ vir jou uitroep, want Ek betoon genade aan wie Ek genade wil betoon en Ek ontferm My oor wie Ek My wil ontferm.

    20 Vir My kan jy nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

    21 Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is 'n plek waar jy op die rots kan staan.

    22 As Ek in my magtige verskyning verbykom, sal Ek jou eers in 'n rotsskeur sit en jou met my hande toemaak totdat Ek verby is.

    23 Dan sal Ek my hande wegvat sodat jy My van agter kan sien. Niemand mag my gesig sien nie.”

    Die Skepper van alles is nie ’n mens en het ook nie ’n menslike liggaam nie al doen jy en jou mede-ateïste alles in jul vermoë om God te vermenslik en so af te trek tot op die vlak van menswees.

    Wanneer daar geskryf word van ‘hande’ is dit beeldspraak. Daar is dus ’n rede waarom God vir ons onsigbaar is want sou ons God in sy volle glorie aanskou dan sterf ons.

    Dit is om die rede dat Christus in ’n menslike vorm tussen ons kom woon het want in Sy volle glorie sal elkeen van angs wegkruip.

    Kyk nou verkrag jy die Bybel verder en verdraai Christus se verskyning aan Paulus.

    Paulus skryf dat Christus aan hom verskyn het in dieselfde vorm as wat Hy aan al die ander verskyn het. Dus Christus soos Hy opgestaan het in ’n herkenbare menslike liggaam maar nie langer onderworpe aan natuurlike magte,

    Ai dit is darem moeilik as jy sukkel om te verstaan wat daar geskryf is, is dit nie?

    Die Jode in ballingskap het die verhale geskryf as teenvoeters teen die Babiloniese skeppingsverhale met baie ‘gode’. Sê my is dit dalk net ’n saak van moedswilligheid?

    Mag dit met jou goed gaan.

  • FC Boot

    Na hierdie antwoord van my op jou jongste respons, indien jy die godsdiens sy van die bespreking hierna wil voortsit, sal ek dit verkies dat dit op ‘n aparte brief geskied, sodat Kobus ook sal kan deelneem.

    In vele vorige response van jou het jy deurgans voorgegee dat die Bybel NIE die WOORD van God is nie, eerder te kenne gegee dat bekende en onbekende menslike outeurs van die afsonderlike boeke, of eie mening gelug het of jare in “hindsight – after the event” geskryf het, wat sodanige skrifte, volgens jou, dienooreenkomstig nie akuraat maak nie. Die skeppingsverhaal al is dit, volgens jou, ‘n reaksie of teevoeter op die Babiloniese verhaal, is dit steeds vir jou nie God se voorstelling daarvan nie.

    Met alles hierbo in ag geneem, kan jy dienooreenkomstig nie die Bybel enigsins aanhaal asof sodanige aanhalings van God afkomstig is nie, en indien dit nie van God afkomstig is nie, is sodanige kwotasies van gener waarde nie, maar net menslike menings wat met reg deur enigeen verwerp mag word.

    Nou was jy ‘n opregte Christen wat die Bybel as die WOORD van God aanvaar het, sou jy die volgende vanuit Jesus se eie mond aanvaar, nl:

    Joh 14:7 As julle my KEN, sal julle my Vader ook ken, en van nou af ken julle Hom en SIEN julle hom.
    Joh 14:9. Wie My sien, SIEN die Vader…..glo jy nie ek is in die Vader en die Vader in my nie?

    Vir die Christen om Jesus te KEN; (om ‘n persoonlike verhouding met Hom deurgans te onderhou) ken en SIEN hy die Vader!

    Die Jode het Jesus nie geken nie, dus bly die Vader vir hulle onsigbaar, volgens jou eie tekse hierbo aangehaal.

    Ek herhaal wat ek hierbo gese het, nl: “Opregte CHRISTENE wat ek ken sal nooit van ‘n “Onsigbare God” praat nie. Hulle ken hulle God, het gemeenskap met Hom, loop elke dag saam met Hom, en gewaar Hom in hul lewens.”

  • Chris Dippenaar

    FC, dis nogal snaaks om te sien hou naïef jou lees van die Bybel is. Die motief dat 'n god nie in sy volle glorie gesien mag word deur 'n mens is baie bekend in mitologie. Gaan lees die mite wat vertel van die geboorte van Dionysus en wat gebeur met sy ma, Semele, wanneer sy vir Zeus sien in sy volle glorie.

    Hierdie motief, tradisie, noem dit wat jy wil, word nie gebruik in Numeri 12:8 nie, gaan lees maar self. Volgens 'The Jewish Study Bible': "This may represent a different tradition than the present v. [Eksodus 33:20],
    or it may represent a later stage in Moses' relationship with God". "[In Numeri] Moses can speak to God directly, in live dialogue rather than in dreams or visions. God is at His most anthropomorphic in these verses".

    Wat beteken dit vir jou interpretasie: "Dit is om die rede dat Christus in ’n menslike vorm tussen ons kom woon het want in Sy volle glorie sal elkeen van angs wegkruip"? Seker maar dat jy nie weet waarvan jy praat nie. Stel jy ooit belang daarin om iets van die Bybel te leer buite jou klimraampie?

  • Arme Jaco

    Was jy regtig op universiteit om eers vir dominee te swot? Lyk my nie so nie, want het jy dan nie geleer dat die fondament van die Israeliete se godsdiens Een- God-Een-wet-Een-moraliteit is nie? In die moraliteit is daar nie plek vir jou onnatuurlike seksuele lewe nie, al probeer jy hoe hard.

    Laat ek probeer om dit met ’n eenvoudige voorbeeld toe te lig waarmee ’n mens die reaksie op Jesus se woorde soos in die teks wat jy aanhaal versien, kan vergelyk.

    Soos die meeste mense het jy seker groot geword in ’n kerk waar daar vanaf die kansel Afsonderlike ontwikkeling (Apartheid) op grond van die Bybel verdedig en goedgekeur is.

    Trouens in my jonger dae was dit so dat as jy nie NAT was nie ouens maklik sou gesê het: "As jy nie NAT is nie dan piepie ons jou Nat”. So oortuig was die geslag van die tyd .

    Dit was ’n groot skok toe daar stemme begin opgaan het dat Apartheid verkeerd is en ’n "misdaad teen die mensdom.” Dit het tot skok en skeuring op politieke vlak en in die kerk gelei en is die gevolge vandag nog duidelik sigbaar in die verminderde lidmate-getal van die NG Kerk en ander te sien en het tot die totstandkoming van ’n nuwe kerk gelei.

    Dink net vir ’n oomblik hoe Jesus se boodskap ontvang is in die versies wat jy so lekker buite verband aanhaal en Jesus totaal vermenslik tot op ’n vlak wat jou pas.

    Nee Jesus was hier besig volgens die oortuiging van baie met godslastering want daar is net EEN GOD- ’n onverdeelbare God en sonder kinders.

    Natuurlik vra die mense van die tyd vrae. Wie is hierdie man. Is Hy dan nie die seun van ’n timmerman en klipbewerker nie? Hoe durf Hy te beweer dat Hy die Seun van God is en Hy en die Vader een is.

    Dit druis direk in teen alles wat die Israeliete oor honderde jare ingedril is en vandag nog die grondslag van hul en die Moslem-godsdiens is. Waarom is dit so? Heel eenvoudig as daar meer as Een God is bestaan die moontlikheid dat daar konflik tussen die twee kan ontstaan en Wie volg jy dan ? Die God wat aan die uitverkore volk in hul geskiedenis geopenbaar is of die man wat beweer dat Hy die God se seun is?

    Die mense trek die streep by – die Profete – Hoëpriesters ens deur wie God spreek en enigiets anders is godslastering en verdien die doodstraf.

    Jesus doen dus besonder moeite om hul te oortuig dat Hy en Sy Vader een is en dat die wonderwerke wat Hy hierop aarde verrig nie verrig word soos sommige beweer deur Satan nie maar dat dit inderdaad deur Sy Vader is met wie Hy een is.

    In Jesus se wonderwerke sien jy dus Sy Vader en nie die mens Jesus nie. Maar met uitsondering van ’n paar vir wie die lig opgegaan het, sien die mense van die tyd saam met jou tweeduisend jaar later net Jesus die mens en nie God in die wonderwerke nie.

    ’n Fatale denkfout want God is nie ’n mens nie, maar ’n Wese wat bestaan het voor die skepping in tydlose oneindige dimensie.

    ’n Mens kan nie sê dat die oneindige net aan en aan gaan nie, want dit kan beteken dat dit nog besig is om oneindig te word. Nee die oneindige is net wat dit is: oneindig en so is die OORSAAK van die skepping waarna ons verwys as GOD- GOD IS WAT DIT IS.

    Tog is dit die leerstelling dat Hy die Seun van God is en Een is tot Jesus se gevangeneming, veroordeling en kruisdood sal ly. Dan staan Hy op nie omdat Hy ’n onsterflike mens is nie, maar omdat Hy inderdaad die Seun van God is.

    Beste Chris

    Mitologie dra nie die betekenis in die ou tyd wat jy vandag daaraan verleen nie. Nee dit was inderdaad ’n onderrigmiddel wat dan onthul dat jy die een is wat nie weet waarvan hy praat nie omdat jy jou vasstaar teen Jesus die mens.

    Kom ek lig dit ook vir jou toe met ’n eenvoudige voorbeeld waarin jy van jou voorbehoude moet afstap. Veronderstel jy het nog nooit in jou lewe ‘’n Amerikaanse ‘Stealthbomber’ radar-ontduikende vleigtuig gesien nie. Die eerste waarvan jy bewus word is ’n skaduwee wat oor jou beweeg; dan ’n helder flits en rommel van donderweer soos die bomme na onder val en die aarde tref? Jy oorleef dit en nou moet jy sonder moderne kennis vir ander oortuig wat jy gesien het en dat dit die waarheid is.

    So was Moses se ontmoeting met God. Hy het God net soos ’n skaduwee of iets soortgelyk gesien soos God verby hom beweeg. Die volk het net van ’n afstand na die berg gekyk en gou verveeld geraak, want baie was oortuig dat Moses nie gaan terugkom nie en hul maar ’n god in die vorm van ’n kalf in die plek van die God wat Moses gaan ontmoet se plek moet stel. Dan sien hul darem iets tasbaar wat hul vir hul kinders kan wys.

    Laat dit beide van julle goed gaan.

  • Chris Dippenaar

    FC, hier is 'n "mite" vir jou:
    Veronderstel jy het nog nooit in jou lewe 'n toilet gesien nie. Nou moet jy vir ander wat ook nog nooit 'n toilet gesien het nie verduidelik: Dis soos 'n waterput, net heelwat kleiner. Dis nie so diep dat jy 'n katrol en emmer nodig het nie. Jy kan sommer so direk uit die bak drink, maar die water is effens bitter.
    'n Baie handige onderrigmiddel, of hoe, hierdie mite ding.

  • Beste Chris

    As jy dit nou gebruik het om vir kinders te leer "kinders moenie in die water mors nie" sou dit 'n baie meer effektiewe leer gewees het.

    So terloops waterputte en sulke goeters is goed waar jy verby gaan en nie by jou nie, tensy te veel dop by jou water gegooi het. Dan raak jy ieder geval in 'n dwaal soos jy nou is.

    Laat dit met jou goed gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top