Daar het duisende mense al die land verlaat en, benewens die sekerheidsaspek, is die volgende beslis bydraend:
Skuifeldiens. Gaan na enige (die meerderheid in elk geval) staats- of munisipale instansie en die amptenare is traag, harmansdrup in die winter is in vergelyking met hierdie diens soos 'n vetgesmeerde blits. Ek moes nou die dag weer my bestuurderslisensie hernu en by een toonbank waar ek vorms moes inhandig sit die dame half skuinsgedraai, met haar rug na die publiek toe, en hou net haar hand uit vir die vorms. Geen oogkontak, geen glimlag, geen woord nie; sy neem net die vorms in stadige aksie.
'n Vriend van my is dood in Kalafonghospitaal in 2010; hy't gangreen in sy voet gehad. Twee maande na sy dood laat weet Steve Biko-hospitaal my dat hulle op daardie stadium gereed was vir hom; hy moet soontoe geneem word dat hulle sy voet kan afsit en toe ek vir hulle sê hy's reeds twee maande dood, sê hulle 'Oh' en sit die foon neer. Volgens Departement binnelandse sake is hy nou nog lewendig, ondanks 17 e-posse van my kant af.
Hierdie onbekwaamheid en traak-my-nie-agtigheid spoel natuurlik oor na die privaat sektor ook want daar is nie meer instansies wat uitbuiting keer nie. Of sal ek sê KAN keer nie want die instansies bestaan wel maar is onmoontlik om te bereik. My dogter se Indiese bakkie byvoorbeeld het onklaar geraak in die Kaap in Februarie 2012 en hy is nou, twee jaar later, nie reg nie. Hulle het hom wel na so iets soos 18 maande in Johannesburg kom aflewer, by 'n agent, sonder om enigiets vir of my dogter of die agentskap te sê. Sy kon egter nie met hom daar wegry nie want die verkoeler was vol olie en water in die olie – ooglopend 'n onklaar pakking.
Kyk na die spoed waarmee mense bedien word by van hierdie afdelingswinkels waar pasteie en die soort ding bedien word. Waar winkelassistente rondloop en veronderstel is om hulp te verleen staan hulle in groepies en gesels; jy moet een aan die mou of skouer nadertrek om te help en dan is hy nog vies ook omdat jy sy gesprek onderbreek het en hy wys net na die rak waarna jy soek sonder om 'n woord te sê.
En alles is Engels; kom jy in 'n restourant is alles Engels, gaan na 'n vakansieplek en alles is Engels, selfs Sanparke se oorde. Bel jy vir iets wat onklaar is praat hulle net Engels en met so'n aksent dat hulle goed drie-vier keer oor moet sê voor jy verstaan wat hulle bedoel.
Asof die Engels nie erg genoeg is nie is die Afrikaans, die wat jy wel hoor, nog swak ook. Op die radio praat hulle gedurig van die 'mees oortreffendste', gebruik sinsnedes soos 'vir dit', 'met dit' en 'in terme van', praat van kruie 'groei', praat van skepe en voertuie asof dié vroulik sou wees en selfs omroepers sê kort-kort 'ek weet nou nie wat die Afrikaans hiervoor is nie'. Daar is omroepers wat dikwels Engelssprekende gaste nooi en dan volg lang stukke Engels op 'n program. Daar is selfs omroepers wat Engelse eposse en boodskappe lees. Dis 'n afjak vir Afrikaans hierdie gatkruipery by Engels.
Almal is ook gatvol vir die gedurige verkeersknoop in Gauteng, vir e-tol, vir stukkende verkeersligte, vir toegespande dorpstrate, vir slaggate, vir opstande, klippe en brandende bande, sommer vir alles wat verval het.
Hulle is dus ook gatvol vir die bleedin' hearts en breingespoeldes wat vertel dat dit nog nooit so goed met SA gegaan het as nou nie. Veral as die sodaniges, wanneer hulle nie verder kan lieg nie, vra 'en wat doen jy daaraan?'
Wat 'n four king sirkus.
Jan Rap


Kommentaar
Jan, in watter mate Afrikaans aan die agterste speen suig, is vandag by my tuisgebring. Dinsdae is vullisverwyderingsdag hier by my. Ek sien toe op een van die vragmotors staan groot geskrywe: "Herwin".
Dit het gevoel asof dit Kersfees is.
Johannes Comestor
Beste Jan,
Beste Jan Rap
Dagsê Jan,
Jy vat ons daaglikse frustrasies baie raak. Die oplossing is nie soos ander hier voorstel om te emigreer nie of die frustrasies te ignoreer nie. Dis tog belaglik om so iets voor te stel. Dis soos die ANC minister wat in die parlement gesê het wit mense wat nie tevrede is met hoe die ANC dinge doen nie, moet "f-off". Dis teleurstellend en gevaarlik dat mense nie daarteen kapsie maak nie, maar dit eerder so aanvaar en anderpad kyk. Dit is die teken van 'n staat met totale beheer: "Resistance is futile". As ons laasgenoemde aanvaar, is ons verlore. Die e-toll situasie is een onlangse praktiese voorbeeld.
Perdebytjie,
Jy is presies reg Et1 ...
Beste Et1
Beste Perdebytjie,