Vir Frank het ek min gesien. Net af en toe as Paunice die dag, wel, nie kapabel genoeg was om af te kom Brak toe nie. Dan moes hy maar die nodige koop vir die hele huis vol mense en kinders en telge. Lang man. Effense baard. Growwe stem. Nooit baie praat nodig gehad nie want sy arms was gemaak van suiwer staal. Jy weet mos dat staal nie dikte nodig het nie ... anders as gewone yster.
Ou Frank het, as hy die dag hier ingekom het vir Ra Mavenster beduie dat hy 'n glas wyn wil hê en dat hy gaan sit en ek onthou niemand het ooit vir Frank gepla nie. Hy het daar op die meelblik sy glas wyn in stilte gedrink en een of twee keer gevra vir 'n volmaak glas en met wegrytyd het hy bloot gevra of sy goed reg is en as dit nie was nie moes die glas volgemaak word. Want as jy nie weet wat 'n huis vol klogoed nodig het nie sal jy nooit self kan huis opsit nie:
Bone, erte, Samp, anchor, drie blikke vis, visolie ... Dawn vir Paunice se hanne, Sheen Strate, Go Black en vaseline (vir die hare wat styf op die kop gespan word), vyf pakkies van Watson’s se plaaswors, 'n emmer suiker en 'n emmer boermeel. Die gewone ...
Die dag wat ek glashelder onthou is die dag wat Paunice hier inkom en die order agterop 'n vergeelde stuk koerant aangee. Letters ver uitmekaar en uitdruklik weergegee. Spelling nie korrek nie maar korrek volgens uitspraak. Moeder gee vir haar haar gewone kardoes lekkers met appelkosies in vir die wag want sy het nie meer tanne nie so sy hou daarvan om te suig tot die suiker af is en die lekker lekker saf is. Paunice klap vir Attie teen die kop want dis haar lekkers. Stop hom 'n rand in die hand en beduie vir hom dat hy moet deel want daar is nie nog geld oor nie. Ek onthou hoe sy iemand gestuur het vir 'n driebottel kannetjie Oom Tas want Rooiby ry nie draaie nie. As dit klimtyd is is dit met almal en groselies inkluis en van kantien omry is daar nie sprake nie.
So sit ek en wag vir die manninne om Rooiby te bestyg en sit gedruk want die lywe is groot en jy vat mooi want die gear lever is laag en jy’s bang jy vat waar jy nie moet nie. Maar ons is laat want daar is nog van die manne wat hol met hul Otters en ook wil saamry Causeway toe.
Want Rooiby ry net een keer.
Ek onthou nog dat ou Paunice vir my dankie gesê het en ek gesien het Frank kom uit die tweevertrek huisie uitgestap. Spierwit kerkhemp aan. Niks anders nie. Ek het gehelp groselies aangee oor die oorklimhek en vir Frank beduie wat hy dan nou met 'n knuppel in sy hand maak want ons is mos nie vreemde mense hier nie. Dis toe Paunice my hier van agter stamp en beduie dat Frank maar altoos met 'n lang knuppel rondloop. Weliswaar nie in sy hand nie. En toe eers kyk ek mooi en toe verstaan ek waarom die twee soveel klogoete het.
Ek weet nie of dit so bestem moes wees nie maar nou die dag ry ek na Botlierskop toe en ek moes stop by die murasie wat eens ou Frank en Paunice se huis en haard was. Want alles wat nog gestaan het word mos deesdae afgebreek in die waan van vooruitgang. Attie staan gewyd eenkant en hy beduie dat sy pa 'n groot man was wat groot spore getrap het en ek stem heelhartig met hom saam. Ons gesels oor ou Paunice en hy sê dat sy 'n groot vrou was, en baie mense stem saam want net nou die dag het ryk Kerneels hier gestop en toe hy hoor Attie is Paunice se klong toe stop hy hom 'n R100 noot in die hand en beduie dat sy moeder 'n vrou van durf en daad was. Ek vra vir oom Ryk Kerneels oor Frank en hy kyk my aan en hy beduie vir my dat Frank 'n groot man was, al was hy so skraal.

