Emma Kotze het vermoedelik haar te veel verlaat op Engelse programnotas vir haar verslag oor vanjaar se Fleur du Cap-funksie.
Die kategorieë is nog al die jare ook in Afrikaans weergegee in die program en op ’n skerm. Van die benamings is al deur die jare verander om dit akkurater in Afrikaans te omskryf. Die kunsredaksie van Die Burger gebruik bv die Afrikaanse terminologie: beste ondersteunende aktrise; beste vertolking in ’n revue, kabaret of eenpersoonstuk; beste vertolking van ’n akteur in ’n musiekspel of musiekteater.
Sy is kennelik te jonk om te weet om die Afrikaanse benaming vir die Three Leafs Awards na te slaan: die Drie Blare-pryse/toekennings.
Ek weet nie so mooi van finesse as bekroondes in verkeerde volgorde opgeroep word nie, as net massavermaak ingesluit is tussen die oorhandigings, die samedromming by die loket en die ploerte in die gehoor met hulle “parlementêre” rumoer (hiermee kon die organiseerders seker nie help nie).
My grootste beswaar is die radikale miskenning van Afrikaans. Distell as borg verkondig by monde van groepbestuurder Richard Rushton hoe hulle die kultuurgroepe dien, maar dan word die Afrikaanssprekendes by so ’n geleentheid geminag. Juis by so ’n herdenkingsgeleentheid. Hoeveel is daar nie die afgelope vyftig jaar in die Afrikaanse teater presteer nie, en is die betrokkenes daarvoor bekroon nie; hoeveel belangrike Afrikaanse kultuurkenners was beoordelaars, voorsitters en administrateurs? Wat van die Afrikaanse persdekking? Hoe kon die beoordelaars nie ook steun op resensies in Afrikaans nie?
Let op: Dit was juis vanjaar by die belangriker pryse dat Afrikaans (uiteindelik) na vore gekom het. Dankie, Marthinus Basson en Melvyn Minnaar. Minnaar het tweetalig Basson geloof vir sy “Lewensbydrae in die teater” en Basson het net in Afrikaans geantwoord. (Hy’t ook daarop gewys hoe die mense met wie hy kop gestamp het, hom gehelp het.) Daar was enkele van die ander bekroondes wat in Afrikaans jubel, maar hulle dan tog geroepe voel om verder in Engels te praat.
Die “inwonende” seremoniemeester Alan Committie (hy raak darem al voorspelbaar) het nie, soos in die verlede, stukkies Afrikaans ingevoeg nie. Die programnotas, die uitvoerings, die aankondigings – alles in Engels.
In die Engelse beskrywings van die onlangse gestorwenes is tekortkominge. Om André P Brink se teaterbydraes nie te noem nie, is ’n opvallende oorsig by so ’n geleentheid. Charles Fryer was nie net ’n skrywer (hoofsaaklik digter) nie, maar ook uitgewer. Sy uitstekende en gewilde passiespel behoort ook by so ’n teatergeleentheid genoem te gewees het, en sy jare as paneellid. Oor nog inskrywings het ek net kop geskud.
Belange-verklaring: Was beoordelaar van 1987 tot 2008.
Danie Botha

