Evolusie vs Christengeloof

  • 7

Na aanleiding van die evolusioniste se uitsprake op Francois du Plessis se brief die volgende:

Wetenskap het evolusie bewys, dus feite het evolusie bewys, dus evolusie is waar? Dus omdat evolusie bewys is en Christene dit nie glo nie, glo Christene nie wetenskap nie is hulle irrasionele mense. REGTIG?

Evolusioniste beweer evolusie is waar omdat dinge verander.Lewe kom van nie-lewe en dan verander dit oor tyd in bv mense?

Dit is 'n onmoontlike bewering omdat dit gesien en bewys moet word met herhalings en ons dit met ons sintuie moet kan waarneem.Wetenskaplikes het bewys dat genetiese materiaal nie bygevoeg kan word nie, net verloor word.

Daar is geen sigbare proses waarby nuwe genetiese informasie bygevoeg kan word by 'n organisme se genetiese kode nie. Niks/geen.As geen nuwe informasie bygevoeg word nie hoe kan een organisme verander oor tyd in 'n hoër organisme? Hoe kan 'n amoeba verander na mens as geen inligting bygevoeg word nie?

Het julle opgelet dat die voorstellings in boeke kunstenaarsvoorstellings is, hulle teken die tussengangers in. Dit bestaan nêrens in die natuur nie, daar bestaan geen bewyse daarvoor nie, net in mense se denke. Oor miljoene jare het die aap na mens verander - net op kunstenaartekeninge. Wonderlike wetenskap dié. Feit is mense was nog altyd net mense en ape was ape.

Het jy al gehoor: "Miljoene jare gelede was daar 'n ontploffing in die ruimte en duisende jare gelede het dit of dat gebeur?" Vraag: was een van julle daar om dit te sien? Daar is 'n groot gat tussen wetenskap wat ek kan sien en bewys en historiese wetenskap wat op spekulasie gemaak is.

Die fossielekord spreek vir homself en bewys evolusie - Regtig? Die rekord praat nie self nie, maar word deur mense geïnterpreteer. Probleem is ons het dieselfde bewysstukke, maar ons verstaan dit deur die lens wat ons gebruik om daarna te kyk. Evolusioniste kyk deur die lens van miljoene jare en Christene deur die lens van die Bybel. So verstaan evolusioniste dat die fossiele oor miljoene jare vasgelê is en die Bybel se vloed bewys dat dit eensklaps gebeur het. My vraag: as iets sterf en volgens evolusie dan deur baie tyd bedek is met die volgende laag, hoe het dit behoue gebly totdat dit bedek was?

Radio-datering of isotoopdatering. Dit word gedoen deur bv 'n rots te neem en die isotope te tel. Uraan 238 (92) (Moeder) verander in lood 207 (82) (Dogter). Daar word aangeneem soos die rots afgekoel het, het die isotope "ontsnap" en dan stabiliseer dit, staan bekend as halfleeftyd. Dit kan bepaal word in ’n lab en so bepaal ons die ouderdom van die rots. Vraag: hoe weet ons hoeveel elemente was daar in moeder en dogter se elemente? Het die prosesse dieselfde gebly of was daar veranderings in die verlede? Hoe weet ons die vervaltempo was dieselfde in die verlede sedert rots gevorm was? Ons weet nie.

Kom ons vat 'n voorbeeld. Kom ons stap in ’n lab in en daar staan 'n uurglas op die tafel waarvan die sand uitloop met sand bo en onder. Ons kan nou meet en uitwerk hoe lank loop ons uurglas en wanneer is dit omgedraai deur observasie. Nee! Ons vergeet belangrike inligting. Was daar nie reeds sand onder in die glas toe dit omgedraai is nie? Was daar nie sand uitgehaal of bygevoeg nie? Het die sand altyd teen dieselfde tempo uitgeloop? Nee! Ons het nie gesien wat die oorspronklike toestand was nie, en ons het nie die sand die hele tyd dopgehou nie - ons maak afleidings.

Evolusioniste glo in evolusie (kan dit nie bewys).
Christene glo in die Bybel (kan dit bewys).

Hierdie debat gaan oor of jy die God van die Bybel glo of evolusie.

Groete

Louis

  • 7

Kommentaar

  • Louis,

    Moet jou nie steur aan hierdie "mense" nie. Vader se Woord sê duidelik dat " hulle sal belaster wat hulle nie ken nie". Hulle sg siening is niks anders as die duidelike verwerping van Vader en Sy skepping. Die Vader het sesduisend jaar gelede die Aarde herskep. Daar was dus 'n voortydperk. Die Satan en sy mede gevalle engele het toe op die aarde geheers en sy koningkryk het bekend gestaan as die koningkryk van TIrus oftewel Atlantis soos ons dit vandag ken, Hierdie stad het Vader onder die see laat verdwyn Eseg 27 vers 34 en Eseg 28 vers 8.
    Satan het diere geskep,aaklig en misvormd,die sg pre-historiese diere. Hierdie diere is saam met satan en sy volgelinge LIGGAAMLIK  verwoes.
    ANTWOORD AAN ALLE MENSE WAT EVOLUSIE VOORSTAAN:
    1 JOHANNES 4 VERS 3:  En elke gees wat nie bely dat Yashua Messiah in die vlees gekom het nie,IS NIE UIT GOD NIE; EN DIT IS DIE GEES VAN DIE ANTI-CHRIS WAARVAN JULLE GEHOOR HET DAT HY KOM,EN HY IS NOU AL IN DIE WÊRELD.
  • Beste Louis Rudolph

     Bogaande skrywe ruik na ? tipies kreasionistiese rondtas in die duister. Die kreasionis wil dit wat in die Bybel staan as ware gebeurtenisse bewys, en sy groot kopseer is Darwin se evolusieleer. Dit moet ten alle koste in diskrediet gebring word.
     
    Om die evolusieteorie af te skiet, maak hy hoofsaaklik van strooipoppe gebruik. ? Strooipop is ? verkeerde aanname en dan val hy dit heftig aan.  Ek sal op so ? paar van hulle uitwys.
     
     Strooipop nr. 1: “Wetenskap het evolusie bewys, dus feite het evolusie bewys, dus evolusie is waar?”
     
     Diegene wat dit beweer, weet absoluut niks van die wetenskap of evolusie nie. Die evolusieteorie is ? model geskep deur Darwin oor hoe die lewe op aarde ontwikkel en verander het. Dit is die taak van ware wetenskaplikes om fout te vind met hierdie model met die doel om dit óf te verbeter, óf om dit te vervang met ? beter model. Tot dusver is Darwin se model net verbeter deur nuwe ontdekkings, en kon dit nog nie vervang word met ? ander model nie. 
     
     Strooipop nr. 2: “Evolusioniste beweer evolusie is waar omdat dinge verander.  Lewe kom van nie-lewe en dan verander dit oor tyd in bv mense?”
     
     Dis oorvereenvoudiging.  Evolusioniste beweer nie dat die teorie waar is net omdat “dinge” verander nie.  Hulle beweer dat dit waar is omdat navorsing regoor die hele wêreld nog nie kon bewys dat dit onwaar is nie.  Trouens, Biologie kan nie verstaan word sonder die evolusieleer nie. 
     
     Strooipop nr. 3: “Daar is geen sigbare proses waarby nuwe genetiese informasie bygevoeg kan word by 'n organisme se genetiese kode nie.  Niks/geen.  As geen nuwe informasie bygevoeg word nie hoe kan een organisme verander oor tyd in 'n hoër organisme?  Hoe kan 'n amoeba verander na mens as geen inligting bygevoeg word nie?”
     
     Dis ? storie wat sommer stink van kreasionisme, want dis louter twak.  Daar is talle maniere waarop genetiese materiaal kan vermeerder, om net  ? paar te noem: Replikasie, soos waargeneem kan word bv  in ? gistingsproses, bv die gis wat jy gebruik as jy brood bak.  Bakterieë kan DNS opneem uit die omgewing.  Virusse kan van hulle DNS oordra aan die gasheergenoom. Daar is ander ook , maar om alles volledig an jou te verduidelik, moet jy 'n kennis van die genetika hê. 
     
     Strooipop nr. 4: “Die fossielrekord spreek vir homself en bewys evolusie.” (Ek vat net so hier en daar, want jou hele skrywe is deurspek met strooipoppe.) 
     
     Darwin se evolusieteorie het gekom na sy waarneming van lewe op die Galápagos-eilande.  Fossiele het hy nie geken nie, maar eintlik voorspel dat hulle tot groot hulpmiddel sou wees.  Dit is eers latere ontdekkings van fossiele wat ? baie klein bydraetjie gelewer het om verdere bewyse vir die teorie te verkry.  Die genetika het ? groter bydrae gelewer.  
     
     Die ware wetenskaplike is ? nederige persoon en sal die eerste wees om te sê dat niks is onomstootlik waar nie.  Talle wetenskaplikes is gedurig besig om modelle soos die evolusieteorie, die swaartekragteorie, ens te ondersoek en te toets.  Dit mag dalk wees dat iemand in die verre toekoms met ? bewys kom wat die evolusieteorie omverwerp.
     
     Die gelowiges is sekerder van hulle saak.  Dit wat in die Bybel staan, is waar en hoef nie verder ondersoek te word nie.  As daar in die Bybel staan dat God Adam eensklaps uit ? hopie grond gemaak het, en Eva uit sy ribbebeen, dan is dit waar.  Dit hoef nie verder ondersoek te word nie.  Waarom al daardie nagte urelank in laboratoriums rondploeter en sukkel met ondersoeke wat jou hoofbrekens besorg, as die Bybel sommer vir jou die antwoord kan gee?
     
     Die gelowige is seker van sy saak, want hy weet alles.  Waarom diepgaande studies maak van chemie om na twintig jaar se harde werk met isotoopdatering so naastenby te kan vasstel wat die ouderdom van ? stuk rots is, as die Bybel sommer vir jou kan sê dat die aarde 6000 jaar oud is? 
     
     Jy wat ? gelowige is, gee voor dat jy meer weet van evolusie as die wetenskaplike wat dertig jaar lank navorsing doen. Jy wat ? gelowige is, gee voor  dat jy meer weet van elemente se isotope as die chemikus wat sy lewe lank daarmee werk. 
     
     Ja, ek stem saam met jou.  Die gelowige kan homself op die skouer klop en sê: “Ou Boeta, hierdie bielie weet sommer alles.”  
     Groete,
     Angus
  • George Bekker

    Louis, vermoedelik is jy 'n vriend van Francois du Plessis en probeer jy nou om iets te red. Die meeste gelowiges verwerp die Sewendedag Adventiste se beskouings oor die Sabbat totaal. Ongelukkig is dit nie altyd waar nie, maar dit behoort ook vir julle skeppingsidees te geld.

    Jou brief kan vinnig opgesom word: “Ek (Louis) glo wat ek glo en niemand sal my van iets anders oortuig nie!” Dit het gevolglik nie regtig sin om met jou in 'n debat betrokke te raak nie. Vanaf jou tweede paragraaf stel jy strooipoppe op en skiet hulle weer af. Wat van hierdie een: ek het 'n radio by die huis. Dit speel die hele dag. Opeens besef ek dat ek nie kan sien hoe dit werk nie! Die ding hou toe op om te speel!

    Jou grootste strooipop is die een dat daar tussen evolusie en geloof gekies moet word. Dis nie waar nie! Talle wetenskaplikes kies die christelike geloof EN evolusie. Ek het voorheen breedvoerig hieroor geskryf: https://www.litnet.co.za/Article/evolusie-en-die-kerk.

    Aan die einde beweer jy:
    “Evolusioniste glo in evolusie (kan dit nie bewys).
    Christene glo in die Bybel (kan dit bewys).”

    Taalkundig sou ek verkies dat jy die dubbele ontkenning gebruik. Die feit is egter dat evolusie tot 'n groot mate bewysbaar is.

    En geloof? Met groot rustigheid kan ek vir jou sê dat dit nie bewys kan word nie. Gevolglik word dit geloof genoem (“om te glo in dit wat jy nie kan sien nie”). Die Christen glo dat sy geloof eenmaal oorgaan in aanskoue.

  • Louis

     
    Jou onkunde oor die wetenskap lei jou om te beweer dat ons aan evolusie "glo". Die "feite" waarop jy hierdie verrassende gevolgtrekking baseer is ongelukkig nie ware feite nie maar jou eie formulerings gegrond op jou gebrekkige kennis van die wetenskap en die wetenskaplike proses. 
     
    Hulle sê as jy niks kwytraak nie sal niemand ooit weet dat jy onkundig is nie, maar wanneer jy 'n briefie soos dié plaas verwyder jy alle twyfel. 

    Gaan doen behoorlik navorsing oor elke stelling wat jy hierbo maak en dan praat ons weer - vermy tog die kreasionistiese webwerwe want dis waarskynlik waar jy aan hierdie bog kom!

    Thomas
  • Louis, ek beveel aan dat jy jou inligting oor die wetenskap kry in ander bronne as kreasionistiese webwerwe. Ek is deesdae nie eers meer lus om die tipe twakkerasies wat jy hierbo kwytraak punt vir punt te weerlê nie; dit is alles vrylik op die web beskikbaar vir enigeen wat belangstel. 

  • Angus

    Ek as onkundige leek in ewolusie, vind jou bydraes daaroor beide insiggewend asook leersaam.  Dankie daarvoor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top