‘n Groot onding in hierdie land is die idee van menseregte.
Mense het g’n regte nie. Als is voorregte. Sodra jy begin aanspraak maak op “menseregte” eien jy jouself die moontlike en die onmoontlike toe. Alle dankbaarheid en nederigheid verdwyn. Jy raak arrogant en eiegeregtig. ‘n Aanstoot en ‘n pyn.
Almal van ons beskou kragvoorsiening as ‘n reg, selfs dié, ironies genoeg, wat nie daarvoor betaal nie. En ons is almal de moer in vir Eskom, maar dit help ons niks. Ons kan liewer ons gesindheid verander, op die positiewe fokus en maniere bedink om krag te bespaar. Beginnende by die geyser, die grootste sondebok in die huis.
Ek stort in die oggend en skakel die geyser aan net voordat ek gaan stort. Dit neem ongeveer 20 minute vir die water om warm genoeg te wees sodat dit nie nodig is om die koue kraan te gebruik nie. Die geyser se temperatuur is dienooreenkomstig ingestel. Dan skakel ek die geyser af voordat ek stort en dit bly af tot die volgende stort.
Vir die skottelgoed kook ek water in die ketel. Twee ketels is meer as voldoende, afhangende van die hoeveelheid skottelgoed. Dis goedkoper as warm water uit die geyser, veral as ‘n mens in ag neem hoe lank die kraan loop voordat die water in die wasbak uiteindelik warm genoeg is. Dan spaar jy sommer water ook. ‘n Mens het nie nodig om jou hande in warm water te was nie. Die wasmasjien was met koue water net so skoon as met warm water en dis totaal onsinnig om tande te borsel terwyl die kraan loop.
Leer kinders om nie ligte onnodig aan te los nie, dat tien minute onder ‘n stort jou net so skoon kry as ‘n halfuur lank, dat dit onnodig is om tien minute lank voor ‘n oop yskasdeur te staan terwyl jy besluit vir watter koeldrank jy lus is, as jy klaar is met die rekenaar en die TV skakel die muurprop af en as jy net een koppie tee wil maak, is dit nie nodig om die ketel vol te gooi nie.
Dit klink na onbeduidende goeters, maar tel dit bymekaar en jy’s verstom oor die kragverbruik.
Nog dringender is dit om water te bespaar. Sodra ‘n mens bewustelik omgaan met die gebruik van water, kom jy agter dat die moontlikhede om te bespaar legio is.
‘n Gesonde besparingsgesindheid van kleins af by ons kinders kan só deursuur na die geheel van hulle latere lewensbeskouing. En betrek jou huishulp daarby sodat sy dit kan oordra aan haar huismense.
Met goeie beplanning, glo ek, kan elkeen van ons sy deeltjie bydra om sin te maak in die groter geheel.
Vrede.
Helmine le Roux


Kommentaar
Helmine, jou bydrae is anders as die gewone en daarom welkom. Verstaan hoe jy voel maar as jy môre regtig kwaad word vir Eskom en vir hulle sleg sê in die media hoef jy nie te vrees vir 'n klop aan jou deur nie. Ek het vir Jacob al dikwels stink gesê sonder vrees vir vervolging.
Die probleem is dat nuwe kiesers nie opgevoed is met die idee dat menseregte en verpligtinge van landsburgers saamgaan nie. Intussen moet die polisie bontstaan en ons kan net hoop vir 'n tyd waar Zuma nie meer president is nie en basiese sake weer beklemtoon word.
Beste wense en min beurtkrag word jou toegewens.