Ek en my buurman ken mekaar al jare. Daar is ‘n hoë muur om sy erf en ons is goeie vriende. Hy weier om Afrikaans te praat en ek praat nie sy taal nie, alhoewel ek kan.
Ons praat Engels met mekaar.
Maandag sê hy hy onthaal Woensdag. Wil net dat ek weet. En voeg hy by dat die tollie (jong bees) Woensdag op ‘n ander plek geslag, maar by sy huis gaargemaak sal word. Ek het nie ‘n probleem nie. Vanoggend, vroegoggend word daar al gewerskaf. Groot tent is gister opgerig. Ek ruik vuur. Loer oor die muur en sien drie moerse driepootpotte oor brandende stompe.
Tienuur se kant kom die gaste aan. Duur Duitse- en Japannese hoogryers parkeer die wêreld vol. Dan en wan een voor my hek wat weer gou-gou verwyder word. Dit begin reën en binne ‘n japtrap word gazebo’s bo-oor die potte gespan.
Vanoggend, oor RSG, gelê en luister na die debat oor Braaidag, vandag. Wat is my erfenis, wat is kultuur. Wat is die ander ou se kultuur, erfenis. Is braaidag van pas? Soveel deelnemers, soveel menings en uitgangspunte. Is Erfenisdag my dag? My erfenis waardeur daar vanaf 1994 tot 1652 ‘n streep deur getrek is. Ek moet met sy erfenis assimileer. Hoekom kan ek nie my eie erfenis en kultuur uitleef en beoefen nie. Nee-a, sê die Kaapse deelnemer, ‘n nuwe erfenis en kultuur moet gevestig word, gedateer vanaf 1994.
Of Erfenisdag Braaidag mag word, is een deelnemer met wie ek my vereenselwig se uitgangspunt dat die dag vir ons gegee is. Hy sê ons moenie ‘n gegewe perd in die bek kyk nie. Ons het die dag, ons is by die huis, wat maak ons met die dag. Vir my is dit dat die politici orals oor hùl erfenis praat, eintlik ‘struggle’. My buurman en sy gaste luister na hul musiekvoorkeur, heel beskaafd sag. Daar is geen radio of TV waarna hul na toesprake luister nie.
Of die tollie nie eers ‘n bietjie moes hang nie, verwonder ek my. Dat hy gekook moet word, verwonder ek my. Ek het tarentale by my skoonseun vanaf sy plaas gekry en is besig om ‘n potjie, op die ou manier, soos my voorgeslagte dit gemaak het, te maak. Ek kyk nie die perd in die bek nie.
Ek het van effens weer oor die muur geloer, die tafels is vol koeldrankbottels. Daar is geen dop nie. Niemand staan rond met ‘n glas wyn of ‘n bier nie. My kinders daag op en ek pak die rooiwyne uit.
Sonder om te skroom, sê my Engelse stadsjapie-aanstaande-skoondogter, “I love this Afrikaner thing”.
Erfenisdaggroete
Raed-na-Gael.


Kommentaar
Raed-na-Gael, jou brief bewys weer wat ek lankal beweer: dat daar geen reaksie/min reaksie is op briewe waarvan gerus kennis geneem kan word.