Nou die oggend op RSG het Izak weer sy gewone, noem dit maar kwelvraag, waarop mense dan per SMS reageer. Hierdie keer was die vraag of die landswette in al elf amptelike tale beskikbaar moet wees.
Natuurlik moet dit; daar is dan elf amptelike tale! Al elf tale moet, alfabeties, op alle blikkies, bottels, boksies, kardoesies, dose, houers, vouers, biljette, brosjures, inligtingstukke, plakkate en verwelkomingsmatjies verskyn; dit is soos ‘amptelike taal’ werk. Wat gaan die Engelssprekende Kanadese byvoorbeeld sê as alles net in Frans verskyn, of wat gaan die Franssprekende Belge maak as alles net in Vlaams verskyn? Moeilikheid, dis wat hulle gaan maak en heeltemal tereg ook, want hulle gaan sê daar word teen hulle taal diskrimineer.
Baie mense het gesê dit sal te duur wees (dis nou om al die wette in al die tale te hê). Hoe kan dit te duur wees of, anders gestel, waar gaan die geld heen wat gespaar word as al die wette net in een taal is? Porsches vir hooggeplaastes se kinders? Luukse motors, oorsese reise en wonings vir hooggeplaastes? Te duur is ‘n non-argument; as daar elf tale is moet daar teen geeneen van hulle diskrimineer word nie.
Ander het ge-SMS en gesê dit sal onprakties wees. Hoe kan dit nou onprakties wees as die bedingers dit destyds so beding het? Hulle het dan weke lank geredekawel, arm gedruk, gestry en onderhandel tot laat in die nag in, hoe sal hulle nou met ‘n onpraktiese oplossing kom; dis mos onmoontlik of hoe?
Tensy, gruwel der gruwels, dit (die instel van elf amptelike tale nou) júís die praktiese oplossing is. Hulle het so gereken: “Kyk, die doel is om Engels die amptelike taal te maak (soos Sam Nujoma-hulle in Duits-Wes gemaak het) maar hoe gaan ons dit doen sonder om die Afrikaners die moer in te maak? Die swartes is nie ‘n kwessie nie; hulle WIL in elk geval Engels as amptelike taal hê (soos Sam Nujoma-hulle). So, kom ons maak ‘n car case vol amptelike tale; omtrent al die tale wat in SA voorkom. Die klomp Afrikaners, synde die pragmatiese en tegemoetkomende mense wat hulle is, sal SELF dan sê dis onprakties en die voorstel maak dat Engels die amptelike taal moet wees.”
En jou wrintiewaar, daar werk dit toe soos ‘n bom! Met Izak se kwelvraagstorie het talle gesê maak Engels maar die amptelike taal, dis prakties en dis goedkoper. Ek kan hulle al sien, selfvoldaan sit hy daar langs sy foon na hy ge-SMS het; hy’t nou vir die hele land gewys hoe objektief en pragmaties en onselfsugtig hy is – dit moet sommer ‘n klomp Brownie-punte ook werd wees op die koop toe.
Sou die Engelssprekende ook so pragmaties (lees: naïef) en tegemoetkomend gewees het? Natuurlik nie, anders sou sy taal nooit die sogenaamde wêreldtaal geword het nie. Ja-nee, vir ons Boere kan jy maklik met ‘n slap riem vang. Gelukkig Is Ons Nie Almal So Nie; goddank daar is nog ouens soos Dan Roodt.
Jan Rap


Kommentaar
En wat het Rooi Daantjie aan die saak kwyt geraak? Min Afrikaners steur hulle in elk geval oor wat hy te sê het. Die laaste verkiesing het dit onomwonde bewys.