Ek, wynvolk

  • 2

Sonja Herholdt se jongmeisiestem gil skril die woorde ...”Bring vir die Harlekyn nog wyn, Rooiwyn, vir sy lag en traan en pyn, ...” en die omies en die tannies se voete kielie en die melodie steek dag lank in ’n neurie vas.

“Onder in my, onder in my, onder in my whiskeyglas ... sien ek jou weer ...” en die mistroostiges en kultureelverrykte alternatiewe musiekkenners, se tone krul van die lekkerkry, wyl mens jou inleef in die prentjie wat Koos Kombuis skets. Hier gryp ons die taal vas.

En, uit die as van ’n versmoorde Afrikaanse rock-musiek wêreld, staan daar ’n geniale skrywer en musikant op, met klanke wat nie net die “bubblegum”-musiek ’n skewe noot laat aftrap nie, maar die “rockers” onder ons mense kom wegvoer met ...”Sunnyside se poems dryf my sweet sherry toe ...” en die saamsing are van nuwe aanhangers laat bult met ...”rooiwyn en mary-jane, pass die bottel maak my weer sane; rooiwyn en mary-jane, wat gif is vir jou siel, is fine met my ...”

En, dis daar; meteens in die refrein van die onskuldige lirieke, dat die werklikheid van ons nuwe wêreld se hartseer vergrype, die hempsknope laat spat soos dit my aan die bors vasgryp!

Moeder kan tot die dag toe nie verstaan hoekom ’n mens meer as een drankie (alkohol) wil of moet drink nie. Sy het altyd gewaarsku dat die gewoonte om “iets te gebruik”, ’n lewenswyse sal word. Soos alle gewoontes maar doen. ’n Glasie wyn saam met die ete, word ’n Jin of ’n “whipskie” voor ete.

Die glasie wyn saam met ete, word twee of ’n rustige botteltjie. Die mense in Egoli en Sewende Laan en al die onhebbelike TV-vervoerings, doen dit dan ook. Dit is etiket. Dit is stylvol en dis sosiaal aanvaarbaar. Dit is net saam met ete.

Ons drink nie wyn vir ontbyt of bier vir middagete nie; ons dra nie ’n platbotteltjie in die binnesak of bêre een onder die bakkie se sitplek nie. Nee, ons is beskaafd en gedra ons nie soos verslaafdes nie ... ons drink nie om te vergeet of van ons mislukkings te ontsnap nie; ons drink nie tot ons bewegingloos bly lê nie. Nee, ons is beskaafd en gedra ons nie soos verslaafdes nie ...

Ons welversorgde gemeenskap in die dele van die dorp met die groter, groener tuine en die blou plasdam in die agterplaas, het drank reg in die middel van ons lewens staangemaak. Daar is ’n verwagting, wanneer die motorenjin se sleutel gedraai word en die pad huistoe staan, na ’n dag se werk, dat ’n yskoue bier hierdie somersdag se hitte binnekort gaan uitwis. Of ek wonder of die ysmasjien al aan is; moet gou die vrou bel – anders gaan die wyn weer te warm wees.

Of sal ek eers by die “watergat” of by vriend sis of so gou inhop vir ’n koue een ...”ag, skuus”, moet ek nou my gedagtes onderbreek ... dit is nie hoe ons dit doen nie, dit is die ander ouens. Dis nie ons wat ’n drankie by elke geleentheid neem nie; dis moontlik ook nie ons wat gereeld en ongereeld sulke geleenthede skep nie ...

Die growwe veralgemening mag steurend wees, maar in retrospek en in selfondersoek en veral, sonder om die waarheid mis te tas, moet ek erken dat ek ‘n probleem het. Ek is afhanklik.

Hierdie lewenswyse van ons skep ’n fisiese en emosionele afhanklikheid. Fisieke afhanklikheid van die chemiese middel in die “wyntjie-saam-met-ete”, wat letterlik en soos ons weet, ? fisieke verandering in die brein veroorsaak. ? Intense drang of behoefte na die middel is reeds geskep. Die slimmense sê, dat indien iemand wat fisiek afhanklik is van middels bloot ophou om dit te gebruik, sal hulle onttrekkingsimptome ontwikkel. Mmmm, wonder hoeveel van ons manne kan braai sonder om “iets te neem”?

Emosionele afhanklikheid verwys weer na sekere gewoontes wat mense beoefen en wat hulle gebruik om natuurlike begeertes te vervul. Begeertes word die belangrikste motivering vir ons mense se gedrag; en hoe meer hulle die begeerte bevredig, hoe groter word dit. Gewoontes, soos byvoorbeeld om spesifieke aande te kuier; of om die roerbraai, rooiwyn en “Romanz” aan te sit en te “chill”. Kortom, om ontslae te raak van negatiewe emosies deur te fokus op die bevrediging van ander begeertes. Om sodoende vinnig beter te voel.

Wie kan tog stry – vir hierdie opdraande stryd wat sommige “die lewe” noem, moet ons onsself met enige iets wat vinnig verligting bied, soms tog beloon ... dit is tog geregverdig.

Die wysheid uit die binnekant van sy narre wynbottel ... ”Hy wys ons, die nuwe wind wat waai, Van die Vaal tot, onder in Saldanhabaai ...” verstrooi my gedagtes wanneer ek die woorde lees en Koos se deurleefde geheue is selfs minder vars, as die res van die strofe ”... onthou ek hoe ons was, maar nou's my hart so seer.”

Ek wonder hoe gaan dit met George,
of dan eerder Jan Blohm ...
Ek wonder of hy “fine” is.
Ek wonder oor die gif in my siel ...

Ek wonder wat sal ons vanaand saam met die vis drink?

Hennie Fritz

  • 2

Kommentaar

  • Ek kan onthou dat ek ook gewaarsku is teen die euwels van die wêreld. Dit is hoekom ek toe op die ouderdom van wettig vat  gedink het ek moet alles probeer opdrink voorlat die kinners dit kry. Almal waarsku mos, huidige vrou het geen simpatie, teen die euwels en gevolge. Ek kan met enige skeet by haar kom kla, maar die griep van Bacchus is sy tot en taal gewetenloos. Baie mense kla deesdae oor alles en nog wat. Ek het die eenvoudigste leuse en probeer dit so nu en dan uileef. As iemand by my kom tjank en kerm oor enige iets  verwys ek hom/ haar summier om Spreuke 31 vers 6 en 7 te lees en baie dankbaar te kan wees vir die vriende van Bacchus. Skoll.

  • Sjoe Hennie

    Alhoewel ek glad nie drink of kan saampraat, het ek nogtans met hierdie artikel jou skryfstyl kielie-lekker geniet! Dankie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top