Ek wonder oor die Chris Wait-tipe en die Red October-tipe

  • 3

Ek is maar een van daardie LitNet-gebruikers wat maar al die briewe lees, soms giggel ek, soms skud ek my kop, soms vind ek die gesprekke baie insiggewend en aan die einde van die dag maak ek my eie opinie op oor wie is reg en wie is verkeerd, sonder om dit op LitNet te skryf.   So het ek ook jou stukkie oor “Red October” gelees (wat toevallig meer gaan oor jou neerhalende opinie oor ’n tipe Afrikaner as wat dit gaan oor wat daar gebeur het, of waaroor dit eintlik gaan).  Toe, gisteraand sien ek dat ’n bejaarde boer en sy vrou is keelaf gesny, hulle 54-jarige seun herhaaldelik met ’n mes gesteek en vir dood agter gelaat.  Net na die nuusinsetsel, die storie oor twee swart kleuters wat vermoor is.   Dieselfde dag probeer hulle by my huis inbreek terwyl my matriekdogter sit en studeer (Ja Jonathan, dis wat Afrikaner matrieks doen, daarom dat hulle goed doen, maar dus net terloops). Die magtelose woede in my is ondenkbaar.  Dit het my laat terug dink aan Red October en jou opmerkings oor tipe (die gedagtes rondom dit het my verder laat rooi sien).  Daarom hierdie skrywe.  Jy gaan my ook seker etiketteer as een van” daai tipe” maar dit skeel my min.

Dit het my laat wonder hoe sien jy daai boer en sy vrou, ook as “daai tipe”, sou hulle verminkte seun volgende jaar aan Red October deelneem, is hy ook een van “daai tipe”.   Dink jy dat as daardie boer en sy vrou ook van die “daai tipe” Afrikaner is, dat hulle dit verdien het, kry jy lekker op ’n sekere manier?  Daar was hierdie jaar deel van die protes slagoffers van geweldsmisdade, watse tipe is jy om jou meerwaardigheid op hulle af te dwing, deur daai slagoffers neerhalend te etiketteer as “daai tipe”?
Die meerderheid van die “tipe” wat teen die protes is, argumenteer dat misdaad alle rasse affekteer, baie min mense indien enige stry daarteen.   Dit is bekend dat misdaad die swart en bruin gemeenskappe meer affekteer as die wit of Afrikaner gemeenskappe.   Daarom sê die protes teenstaan “tipe”, “daai tipe” behoort nie te protesteer teen geweld in ’n spesifieke gemeenskap (afrikaners of boere) nie,  maar vir almal.  “Daai tipe” word geëtiketteer as regse tipe, as militante tipe, as rassistiese tipe, dom astrante tipe, selfbejammerende tipe en hardegat tipe.

Dit het my laat terugdink aan moorde in spesifieke gemeenskappe, daar was die gay moorde in die kaap, daar was moorde in die Portugese gemeenskap, daar was moorde in die Chinese gemeenskap.  Hierdie gemeenskappe het almal al geprotesteer en met die regering vergaderings gehou.  Dit het spesifiek gegaan oor dit wat in hulle gemeenskap gebeur het.   Daar is tot ’n nasionale dag vir geweld teen vroue- en kindergemeenskappe.  Nou wonder ek watse tipe is hulle en as jy hulle  dan nou ook etiketteer as ’n spesifieke tipe, assosieer jy ook nie met hulle nie?   Wat is die tipe wat jy hulle mee etiketteer, regs of militant of rassisties of seksisties of ouderdomsisties (weet nie of daar so woord is nie), hardegatisies, dom astrantisties.  Want in wese gaan protes en bewusmaking van geweld teen gays, vroue, kinders, bejaardes, selfs diere oor daardie  spesifieke groep.  Indien jy voel dat die gemeenskappe het die reg en dat hulle nie ’n “tipe” is nie, wat is die verskil tussen hulle en ’n groep Afrikaners (regse tipe, gematigde tipe, slagoffer tipe, kunstenaar tipe) wat vir hulle gemeenskap protes aanteken?  Hoekom skryf jou tipe nie aan gays, vrouens, kinders, dier liefhebbers, Chinese, Portugese, dat hulle hul reg om vir hulle gemeenskap te protesteer verbeur omdat hulle nie geweld teen alle gemeenskappe protesteer nie.   Hoekom as die Afrikaner dit doen is hulle verkeerd, jy weet “daai tipe”. Is jy dalk die huigelaar tipe, die twee standaard tipe of waar staan jy en die ander Red October teenstaan tipe rondom dit?

Ek wil graag weet, moet “daai tipe” wag totdat jou tipe of enige ander tipe of gemeenskap eendag wakker skrik oor geweldsmisdaad teen alle mense in Suid-Afrika voordat al die verskillende tipes in ’n la-die-da samewerking gevoel die regering onder druk sit om hulle werk te doen.   Wanneer gaan dit gebeur?  Hoekom moet “daai tipe” daarvoor wag? Wat doen jou tipe om dit te organiseer?
 
Die swart en Moslem (PAGAD) gemeenskappe het ook al geprotesteer teen geweldsmisdaad in hulle gemeenskappe.  Hulle het selfs hulle eie “kangaroo courts”, gooi misdadigers met klippe dood en steek ander aan die brand.   Hoekom is jy die stilbly tipe as die tipe dit doen? Die tipe gooi klippe, die ander tipe steek mense aand die brand en die ander tipe laat rooi ballonne in die lug los.   Waar was jou skrywe toe? Hoekom is jy selektief in jou veroordeling en etikettering?  Snaaks dat jou tipe hulle tot die internet roep en in ’n koor skree teen die wat ballonne los en die met die klippe en vuurhoutjies word oor stil gebly.   Wat is jou tipe, die met die klippe of die met vuurhoutjies?  Dit is ’n vreemde benadering!!!!!
Toe die Skielik Skieter en die Waterkloof Vier hulle barbaarse dade gepleeg het was daar ’n “tipe” koor wat alle Afrikaners uitgesonder het as barbaars, en rasgeweldgedrewe.  “Daai tipe” moes toe maar stilbly en die beskuldigings, verwyte en etikettering op die ken vat ten spyte daarvan dat dit ’n klein groepie van die totale “tipes” van die afrikaner is wat dit gedoen het.   Maar as “daai tipe” ballonne los laat in protes, is hulle verkeerd en en word die sleutelborde nader getrek in ’n koor van verontwaardiging.  Jammer maar ek verstaan jou tipe nie?

Wat sou jou denke wees as die Red October-veldtog, wat internasionaal is, deur internasionale druk die regering dwing om iets aan geweldsmisdaad te doen en dit het ’n positiewe effek op alle gemeenskappe?

Op die ou einde het ’n spesifieke gemeenskap (duidelik nie jou tipe nie) hulle konstitusionele reg gebruik om te protesteer teen geweld in hulle gemeenskap soos ander gemeenskappe voor hulle.  As jy en wie ook al hulle dan wil etiketteer, dan is dit maar so, wetlik het hulle binne die reg op getree en jy kan niks daaraan doen nie, al skaam jy jou vir hulle ... soos wat van “daai tipe” hulle skaam vir die altyd polities korrekte tipe, die gatkruip tipe, die ek was altyd teen apartheid tipe, die slapgat volstruis kop in die grond tipe, die Afrikaner en dit wat hy is, is altyd verkeerd as hy vir homself opstaan tipe en ja die ek is skaam om myself afrikaner te noem tipe ...

Trots moderne, nuwe Suid-Afrikaanse aangepaste, doen my deel, is nie skaam vir wie ek was of is Afrikaner tipe.  

Gerhard Kruger

  • 3

Kommentaar

  • George Bekker

    Gerhard Kruger, dit wil voorkom of dit jou eerste brief is nadat jy vir 'n lang tyd net gelees het. Hartlik welkom tussen allerhande tipes.

    Wat my betref kan 'n Kruger die regte tipe wees en na die lees van jou brief kan 'n mens dit bevestig. Ek preek vir myself en vir jou en alle lesers as ek weer daarop wys dat dit in die eerste en laaste plek heelwat kommentaar op allerhande sake is wat van hierdie werf 'n sukses maak. Nog 'n paar punte:

    Jy het alle reg om die moer in te raak as jy belasting betaal en die regering jou geld mors en nie voluit probeer om jou en jou geliefdes te beveilig nie.

    Jy het rede om die moer in te raak as jou geld op allerlei wyses gemors word en daar weinig gedoen word om op verlede jaar se gebrek aan prestasies te verbeter.

    As mense wat hoegenaamd geen bydrae tot die land lewer nie protesteer oor swak munisipale dienste en in die proses dinge nog verder beduiwel deur hulle eie munisipale geboue en selfs biblioteke te vernietig het jy nog groter rede om die moer in te raak, veral as daar dan nog van jou verwag word om eerstens hierdie mense te ondersteun voor jy vir jou eie belange kan veg (almal se menseregte en (LW) pligte is belangrik).

    Die ergste tipe bly die skynheiliges. Uit die evangelies is dit duidelik hoe sterk selfs Jesus hierteen die sterkste beswaar aangeteken het.

    Die enigste rede waarom ons nog relatief goed leef is dat daar mense is wat geweldig hard werk om vir almal in die land van genoeg kos te voorsien teen bekostigbare pryse. Hulle word nie behoorlik hiervoor vergoed nie, hulle getalle raak minder en hulle is daagliks blootgestel aan dreigemente, vieslike stories, moord en doodslag. Vanselfsprekend sal Gert Kruger en elke ordentlike mens in hierdie land daaroor diep die moer in raak, veral as daar voortdurend stokke in hierdie mense se wiele gesteek word.

    So kan 'n mens ad infinitem aangaan, maar in die laaste plek moet 'n mens in beheer van jou emosies bly, sodat dinge nie heeltemal handuit ruk nie. Ons durf egter nie dat magtelose woede ons oorval nie. As 'n mens na die media kyk besef jy dat dit ook nie nodig is nie. Volgehoue proteste ontstel die regering en as dit aanhou, reageer hulle mettertyd (ek verwys na beskaafde protes). Red October en verskeie ander protesaksies van verantwoordelike mense is ontstellend vir die ANC en sy simpatiseerdes, want hulle weet dat die beskaafde publiek hiermee 'n wapen opneem waarmee hulle nog veel gaan bereik. Die doel met die magsverandering in 1994 was om ALLE diskriminasie af te skaf, nie om diskriminasie om te keer nie. Die enigste grondwette in die wêreld wat vir rassediskriminasie (teen blankes) voorsiening maak is die van Suid-Afrika en Namibië. Dit moet verander en die hele wêreld moet van hierdie onreg bewus word.

    Lekker kuier en deelneem op ons werf. George

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top