Doerie jare toe Vanmelewe nog Onlangs was en toe die Dooie See nog net siek was...
Was jou party SAP of NAT;
Jou kerk Gatjieponder of Dopper;
Jou oupa 'n landheer of 'n bywoner;
Jou huis in die bo-dorp of die onderdorp;
Jou motor Ford of Chevrolet;
Jou petrol BP of Shell;
Jou olie Castrol of Havoline;
Jou bike BSA of Harley;
Jou polis by Sanlam of Old Mutual;
Jou bankrekening by Volkskas of Barclays;
Jou huisverband by Saambou of United;
Jou vakansie in die bosveld of by die see;
Jou rugbyspan Noord-Transvaal of WP;
Jou radio Springbok of LM;
Jou supermark OK of Checkers;
Jou bier Castle of Lion;
Jou brandewyn KWV of Klipdrift;
Jou mix Coke of Pepsi;
Jou tjoklit Cadbury of Nestle;
Jou swiets drop of toffies;
Jou toebie Marmite of Bovril;
Jou tjips Simba of Willard;
Jou brêkfis Pro-Nutro of Weetbix;
Jou seep Surf of Omo;
Jou musiek jazz of pop;
Jou simpatie by die Republieke of die Kolonie;
Jou skool Grey College of Affies;
Jou ambag by die Spoorweg of Yskor;
Jou alma mater Tuks of Maties;
Jou medisyne Borstol of Kasterolie;
Jou siekte gout of rumatiek;
En helaas, ten einde was jy in die hande van Grobbelaars of Avbob...
Maar ironies is alle Afrikaners dit eens: Ons leuse bly “Eendracht maakt Macht”!


Kommentaar
Beste Sandvelder,
Dankie vir jou bydrae oor "Eendracht Maakt Macht". So 'n leuse vind ek besonder ironies vir 'n "nasie" wat so versplinter was van die heel begin van sy bestaan, toe Afrikaans-Hollands-sprekendes hulleself "Afrikaners" begin noem het. Soos jy sien bestaan daar nog elemente wat nog nooit vrede gemaak het met die Anglo-Boere Oorlog nie, en vandag, 114 jare daarna, nog terme gebruik wat aan daardie era behoort om hulle medeburgers te denigreer. Die basiese probleem lê daar dat hulle nie hulle mede-Afrikaners wie nie soos hulle voel en dink nie, wil of kan vergewe nie. Hulle sal hierdie mense wil kaap en kontroleer vir hulle eie politieke doeleindes, en wil deelmaak aan daardie klein bekrompe geestesspasie waarin hulleself lewe. Hulle gun hulle medeburgers nie die vryheid om vrede te maak met die verlede nie en om voorentoe te beweeg nie. Hulle lewe in 'n tydsraam wat pas by 'n vorige eeu en wat vir ewig verby is..Persoonlik kry ek hulle kinders en nasate jammer wat in die atmosfeer van so 'n huis moet groot word : dat hulle klone gaan word, draers van die bagasie en obsessies van hulle ouers, en produkte van 'n opvoeding wat hulle geen geluk of sukses gaan verseker in die veranderde omstandighede van Suid-Afrika, vandag nie.
Mens kan ook 'n lyn trek tussen die Kaap en die Transvaal, en vind dat die verkrampte elemente hulle meesal in laasgenoemde landsstreek bevind. Seker 'n erfstuk van die Groot Trek.
Vandag is "Eendract Maakt Macht" die leuse van die Belgiese Staat en ook dié van Bulgarye. Dit kom ook voor op die nasionale heraldiese wapen van Haiti. Hierdie motto is aangeteken in die "Gemeene Duytsche Spreekwoorden" van 1550 terwyl die Laaglande nog deel was van die Spaanse Ryk onder Karel V , en het later die leuse van die Hollandse Republiek geword.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Geld diselfde nie maar vir enige nasie waar daar meer as een party is en meer as een produk op die mark is nie?
Jan Rap
Sandvelder
Jou besonderse skryfstyl bly boeiend. 'n Tikkie geskiedenis, volkstradisie, maar deurgans humoristies.
Ek geniet al jou bydraes terdeë. Dankie daarvoor
Sandvelder