“Welcome to Hollywood! What's your dream? Everybody comes here; this is Hollywood, land of dreams. Some dreams come true, some don't; but keep on dreamin' - this is Hollywood. Always time to dream, so keep on dreamin'.”
Hierdie is ’n treffende greep uit een van my gunsteling-rolprente, Pretty Woman. Dis net jammer dat die snertwaarde wat daarin skuil, so baie van ons mensies hartseer verlore laat.
Vroeër hierdie week, net ná ek gesorg het dat ’n twaalfstuks mense van al ons plaaslike kleure - en almal van dieselfde geure- en hul hond, voor ’n gebou van ons verjaag word, het ek een van die mees bevrydende gesprekke met ’n Wetstoepassingsbeampte van Stad Kaapstad gehad.
Terwyl ek met politiek korrekte Afrikaner omsigtigheid my empatie met die sosio-ekonomies benadeelde mense probeer regverdig het, het Beampte Poloke my net staan en kyk en luister. En toe my retoriek uiteindelik stilraak, trek die man weg met die ontbloting van ’n waarheid of twee. Ongelukkig ook met ’n algemene mistasting daarna.
Hy vertel dat die jongmense en kinders wat hulle met die beamptewaens by straathoeke en op stoepe van sake-ondernemings optel, in werklikheid nie huisloos is nie. Net verlede week het hy ’n elfjarige seun agter in die wa gelaai en na dié se huis gaan soek. Die enkelma was wel daar. Die huisie was netjies versorg en die aandete op die stoof aan die kook.
Volgens hom is die probleem, soos baie van die ander huisloses wat nie na ’n nagskuiling toe wil gaan nie, hul eie keuses. Hy beweer dat hulle nie aan die orde en voorwaardes van die huis en/of nagskuiling wil voldoen nie. Hulle wil nie gesag gehoorsaam nie. Hulle wil hul eie “ding” doen. Self besluit waar, wanneer en saam wie hulle slaap, waar en wanneer hulle dwelms en drank gebruik; self besluit om hul matrasse en trollies onder ’n ander se dak, boom of bos in te trek.
Hy vertel verder dat die kruisings van buitepaaie wat sy dorp Khayelitsha binnekom, een van die teelaardes van skool- en huislose kinders is. Die jong kinders wat hier geld bedel of vinnig karre se vensters skoonmaak “verdien” maklik ’n vyftig rand plus op ’n dag. Môre vra hy dan homself, “myself, watvoor sal ek my tyd in die skool met huiswerk en vaste ure en daai gemors ophou, as ek hier vry is en geld kan verdien?”
“Te hel met more!”
“Die probleem is die drome,” sê Beampte Poloke.
“Die mense weet nie van droom nie. Hulle moet geleer word om te droom van die kar en die huis. Jy moet hom vat en in die koshuis sit. Hy moet nie by sy ma en pa wees nie – “maybe” net vir die “holidays”, want hulle kan nie vir hom kyk nie. Nee, sit hom by die “hostel” en laat hy leer, klaarmaak by die skool en sy droom gaan kry.”
“Maar waar begin ’n mens? Die goewerment is te skelm; dit sal nooit gebeur nie!”
"Eienaardig," dink ek so in my stilligheid nou-die-aand. Ek droom lankal nie meer nie. In alle geval, nie hierdie klas drome nie. Ek droom nie van ’n nuwe kar of huis of ’n speelding of ’n vakansieplek of iets wat my beter oor my omstandighede, en moontlik as persoon, sal laat voel nie. Daar’s niks daarvan nie.
Ek het ingedagte na die muurverf gelê en staar, terwyl die denke daaraan homself as besef in my binneste kom bekendstel het. Dit het my nogal effens gepla. Êrens moet daar dus fout wees?
En so, met die kopkrap in die gemoed skuif daar ongesiens ’n stukkie sinvolheid na vore. “Jy hoef nie te droom nie. Saam met My, lewe jy dit reeds.”
Beampte Poloke is reg. Ons kinders, almal van hulle, het beslis beheer en orde nodig.
Hy’s reg. Ons kinders en jongmense moet leer droom. Maar die begin daarvan en die pad van herstel, is met die regte “antwoord”, eerder as die gewonder oor die vraag.
Die regering, ongeag van wie aan bewind is, gaan nie die keuses van huislose straatmense en wegloopkinders verander of selfs beïnvloed nie. Net God se genade sal.
Net die handbriek-doodstop van ’n gejaag na valse winsmakery-drome, sal ’n gemeenskap kan vry maak. Sal ’n generasie jongmense kan skep wat selftrots deur geloof ontwikkel; nie deur die gene of erfdeel van sy ouers, of die werk wat hy doen, die plek waar hy woon of die kar wat hy ry nie. Nee, om eenvoudig net dankbaar tevrede te wees om vas te kan slaap; genoeg te kan eet en elke dag se werk, ten volle te kan geniet.
Êrens daartussen dit alles, groei die lewe soos ’n droom.
Hennie Fritz


Kommentaar
"n Aspek van die post-modernisme is juis....... "ons is vry, alles is reg, niks is vekeerd nie."
Raed-na-Gael
"Die regering, ongeag van wie aan bewind is, gaan nie die keuses van huislose straatmense en wegloopkinders verander of selfs beïnvloed nie. Net God se genade sal".
Jou geloof en vertroue in "God se genade" oortref alle realistiese verwagtinge as die geskiedenis enige konkrete leidraad gee vir sodanige genade, of liewer die gebrek daaraan. Maar droom gerus voort in die opium dampe van die massas.
Dankie vir die kommentare.