Enigeen wat al ooit Donaldshoogte op of af is sal jou beduie dat jy stadig daar op gaan en baie stadiger beweeg met die afkomslag. Want hier is al meer voertuie die loodregte skuinste af as meeste bekende bergpasse.
As ek 'n gelowige mens was sou ek werklik gedink het Iemand waak oor mensekinders. Donaldshoogte is vir jare reeds berug. Vir die ongelukke en die spoke wat daar ronddwaal. Of ry. My eie moeder is een aand byna daar af weens die spookligte wat van voor af gekom het. 'n Voertuig wat in die niet verdwyn het ... Maar ons glo lankal nie meer in die bestaan van spoke of ander onsigbare gedaantes nie.
So saag ons blokke en pale en met die afkom by Donaldshoogte sien ons onder in die kloof 'n ryding en jy weet mos maar hoe dit is op 'n bekende pad: eers wonder jy wat werskaf die lot doer onder en dan besef jy daai bakkie se mense kannie daar werk nie want jy kan net daar onder kom as jy vlerke het.
Draai om want jy weet daar moet mense in wees en as hulle daar onder beland het gaan hulle nie baie lewend wees nie. Niks lus vir bloederigheid nie (want ek onthou soos gister hoe ons moes af om die geskende liggame uit te grawe uit wat 'n voertuig was) suiker ons maar af en hier klim Charles uit wat netnou nog 'n voertuig was. Sonder 'n merk op sy liggaam. Baie bewerig en hy beduie ons moet kyk of Klong OK is want hy onthou net Klong se krete toe die Isuzu vlerke gekry het.
Klong strompel uit en hy het nie eens nodig om hom af te skud nie. Nie 'n merkie nie. Nie eens kop gestamp nie. Ons help hulle die hoogte uit en Charles vra of ek 'n bier of iets sterker het en ek beduie hom dat ek altyd proviand in bottelbroodvorm byderhand het en ek knak 'n warm Carling lang bottel wat hy halfhartig afsluk.
Ek skud my kop en wys hom waar ons staan en waar die Isuzu lê en hy lig sy hanne asof in gebed. Ek beduie vir hom dat hy wel iemand moet hê wat na hom kyk. Iemand wat nie aards is nie.
"It seems I've got more than a few angels on my side."
Ons kyk na die bome wat neergevel is, na die gruispad sonder enige merke en ons stem saam dat 'n Isuzu 'n nie te kak ryding moet wees nie, veral as mens sien hoe ver hy kan vlieg en land sonder enige gebreke aan sy insittendes.
oester

