In die brief van Dirk Rigter (Vr 18 Oktober) haal hy my eerste paragraaf (my brief van 15 Oktober) woordeliks aan waar ek duidelik sê dat deesdae, wanneer na 'apartheid' verwys word, word bedoel 'bose onderdrukking van die swartes deur die Afrikaner'. En tog, wanneer hy 'n entjie verder puntsgewys 'n opsomming gee van wat ek in daardie brief sou gesê het, sê hy dat Jan Rap sê 'apartheid het nie bestaan nie', sy punt 1.
Dis natuurlik nie waar nie, ek het dit nooit gesê nie. Ek het gesê apartheid, soos deesdae herdefinieer is, naamlik 'bose onderdrukking van swartes deur die Afrikaner' het nooit bestaan nie; die Afrikaner het, anders as byvoorbeeld die Engelse, nog nooit enigiemand onderdruk nie. Laat ek dit maar weer sê soos in so baie vorige briewe: Die beleid wat die Afrikaner toegepas het was Afsonderlike Ontwikkeling en dit is NIE die 'apartheid' wat in die sogenaamde liberaal-demokrate se koppe deesdae is nie.
Ek hoop Dirk ly aan ADD want die alternatief is dat hy kul en dis nie mooi nie.
Sy punt 2 sê hy ek sê "Die Afrikaner het nooit apartheid toegepas nie" en dan sê hy in hakies daaragter (nogal) " kyk maar, dit staan nét so hierbo." Plaas dat Dirk self maar weer gaan kyk het want dit staan nie nét so nie; daar staan duidelik " ... daardie soort apartheid." Ek hoop maar Dirk het half gelees anders is hy besig om weer te kul.
Sy punte nommers 3 en 4 is wel waar, ek hét gesê die Afrikaner het nog nooit iemand onderdruk nie (en dis waar) en dus het hy nie nodig om verskoning te vra of boete te doen nie. Dit is ook waar dat die segregasiepraktyk geërf is van die Britte en Jan Smuts-hulle (hier's 'n paar van die betrokke wette):
The South Africa Act 1909
Mines and Works Act, 1911
The Natives Land Act, 1913
Natives (Urban Areas) Act, 1923
The Native Administration Act, 1927
The Immorality Act, 1927
The Native Trust and Land Act, 1936
The Representation of Natives Act, 1936
Natives (Urban Areas) Consolidation Act, 1945
The Asiatic Land Tenure and Indian Representation Act, 1946
Soos jy kan sien, groepsgebiede en verbod op ontug kom al respektiewelik van 1913 en 1927 af (dalk nog voor dit). Dirk in sy lys gee die oneerlike indruk dat hierdie goed na '48 deur die Afrikaner ingestel is (en, ipso facto, uitgedink is).
Dirk se truuks, dit is nou as hy nie effens verstrooid en dinge maar mis lees nie (ADD is miskien bietjie sterk gestel, ek wil nou nie ad hominem raak nie), kom neer op ontkenning. Dis die wonderlike ding as jy vir 'n sucker gevang is; jy moet maar aanhou met die charade want jy's bang die mense dink jy's dom. Nou is daar al so 'n groot lot suckers hulle is een groot ondersteuningsgroep wat in een groot koor kef as hulle kassie effens geskud word. So 'n groot koor bring soort van gerusstelling; hulle, en die koerante, en die kerke, en die Engelse, en die televisie kan tog nie almal verkeerd wees nie of hoe?
Jan Rap

