Dirk, ek verwys na jou kommentaar onderaan my brief van 15 deser, waar jy ewe selftevrede vir Dan Roodt aanhaal waar hy sou sê hy kry die gevoel dat hy geweeg en te lig bevind is. Dit is natuurlik ‘n fout; hy’s onnodiglik streng teenoor homself want die KIESERS het hom te lig bevind en die kiesers is in ‘n dwaal. Móét wees want die swart kiesers, wat elke dag, lees mooi elke dag , bande, geboue en voertuie brand en klippe gooi oor hulle ontevrede met die regering is, stem weer vir daardie einste regering. Die wit kiesers (meeste) stem vir die einstes wat instrumenteel was om hierdie teenswoordige sirkus teweeg te bring. Dan hoef dus glad nie sleg te voel oor hierdie kiesers se oordeel nie want, soos blyk uit die resultaat van hulle gewegery, is daar bitter min sin aan hulle oordeel.
En, soos dinge vererger (42 plaasmoorde sover hierdie jaar, Transnetpensionarisse wat krepeer, die Aurora-fiasko, polisiemanne wat uniforms aan booswigte verskaf, afgradering deur finansiële instansies, die grondhervormingsfiasko, die agteruitgang van lewensgehalte van almal in die land, Eskom, hospitaalwese en die onderwys se ineenstorting ens ens) word die sogenaamde boosheid van ‘Apartheid’ weer gebanier soos in jou repliek aan Trienie (3 deser) as regverdiging vir julle onsinnige gewegery destyds. Selfs al het ‘Apartheid’ bestaan soos julle dit nou uitmaak (wat natuurlik vals is), kan dit nie naastenby opweeg teen die boosheid wat nou aan die gang is nie.
Ek sê weer, julle verskoningvraery en boetedoening vir die (gewaande) onregverdighede van die verlede is die oorsaak van die wraaksug by die grootste deel van die bevolking en hierdie wraaksug neem toe by die dag. Dis ‘n bose kringloop; hoe erger dit gaan, hoe meer word ‘Apartheid’ voorgehou as die oorsaak en hoe meer neem die wraaksug en veragting jeens blankes toe wat tot gevolg het dat verval nóg erger word en so gaan dit aan.
Jan Rap


Kommentaar
Weet jy Jan, ek kan ook nie verstaan dat daar mense is wat die verval van die land se infrastruktuur miskyk nie. Daar is ook mense wat glo aan die "demokrasie" wat in die land heers. Ek gee gelyk daar is baie goed wat verbeter het. Ons is almal bevry, goed en wel, maar ten koste van wat? Westerse demokrasie werk net nie in Afrika nie. Ons sal 'n goue middeweg moet vind in die land wat uniek is aan ons (Afrikane) se tradisies en kulture. Etnisiteit gaan hulle vernietig.
Beste Jan Rap,
Klaarblyklik hou jy van politieke selfkastyding. Laat ek dus vir jou nog iets gee om jouself mee te kasty. Met die afgelope verkiesing het Dan Roodt se Front Nasionaal 1 728 of 0.04% van die stemme in Gauteng gekry, terwyl die DA 1 309 862 of te wel 28.5% van die stemme in die provinsie gekry het. Kyk weer, Jan: 1 728 stemme! In Dan Roodt se hartland, sy bastion. G'n wonder hy bekla sy lot met die versugting dat die Afrikaners hom geweeg het en te lig bevind het nie.
Maak asb nou vrede daarmee. Die Afrikaner, jou volksgenote het áánbeweeg uit die laer uit. Daar is met hul oordeel niks verkeerd nie. Dis 2014 man, nie 1961 nie.
Vir oulaas. Het jy énige idee hoe hierdie land vandag sou gelyk het as daar nie in 1994 'n politieke skikking plaasgevind het nie? En moenie vir ons kom vertel van die destydse SAW en SAP wat sogenaamde reg en orde én apartheid vandag nog sou verdedig het nie. Genls Constand Viljoen, Jannie Geldenhuys, Magnus Malan en die res van die militêre leierskap het daai tyd al geweet dat die stryd ekonomies en militêr onvolhoubaar was. Dis hoekom hulle onderhandel het. Enigiemand met ander oortuigings lewe in 'n droomwêreld.
Nog 'n nagedagte: Dink jy regtig die wit Afrikaans- en Engelssprekendes sou hulle vandag nog dmv diensplig laat opneem het in die weermag om 'n moreel-bankrot politieke sisteem te verdedig? Dink weer.
Reusedwerg, dit is 'n raaisel, die nou dat mense die verval ignoreer. Een rede daarvoor is natuurlik die media; hulle swyg oor die verval en basuin in groot letters die gewaande boosheid van die verlede uit. Op 'n punt van orde, groot aanduiders van vryheid is vryheid van spraak, die feit dat jou belasting vir jou eie heil aangewend word en dat jou taal die amptelike taal is, dat jy hom oral kan praat. Dit geld nie in ons geval nie; ons is nie vry nie.