Beste Jan Rap,
’n Antwoord op jou brief van 23 Augustus.
Indien dit so was dat taal ’n vermoë was wat hy van ’n almagtige god gekry het, dan sou dit volmaak gewees het in alle opsigte. Ongelukkig vir die mens is daar nie so ’n god nie, en het sy taal maar evolusionêr ontstaan, gebrekkig gevorm deur natuurlike seleksie, en mutasie. Daarom sal tale mekaar beïnvloed, en vervorm, en sal daar gedurig maar taalpuriste wees wat dit anders wil hê.
Daarom maak jy ’n fout as jy meen dat ek enigiets verdedig. Ek verdedig niks; ek beskryf slegs wat ek in taal en in besonder in Afrikaans sien gebeur. Al wat ek kan doen is om dit wat ek gesien het, linguisties te probeer verklaar. Jy moet nie my poging om te probeer verduidelik waarom iets plaasgevind het, verwar met verdediging nie. Ek sal dit aan jou oorlaat om die borswering aan te trek, Rosinante te bestyg, en met jou lans die vyand aan te val.
Jy slaan die bal mis as jy beweer dat daar geen linguistiese beginsels is wat geradbraakte taal betref nie. Natuurlik is daar, en ek het dit al oor en oor aan jou verduidelik. Aangesien ek ’n geduldige ou is, laat ek dit vir die soveelste keer doen.
Geradbraakte taal ontstaan as ’n spreker slegs woorde van ’n vreemde taal ken, maar nog nie die taalsisteem nie. (Taalsisteem sluit in die grammatika, sowel as die uitspraak.) Geradbraakte taal kommunikeer sleg, slegs omdat die spreker nie die vreemde taal ken nie. In die meeste gevalle sal dit die taal van die hoorder wees. Die tuinier sê aan sy werkgewer wat Afrikaanssprekend is: “Ek lop by Jennesburgh.” (Ek wil Johannesburg toe gaan.) Dit is geradbraak, want dis ongrammatikaal, kommunikeer nie goed nie, en pas nie in by die Afrikaanse klanksisteem nie.
Jou sin: “Usually, as ek my goals geset het, achieve ek hulle,” is nie geradbraakte taal nie, want dit kommunikeer goed, dit is grammatikaal en pas goed in by die Afrikaanse klanksisteem. (Dis nog net die spelling wat pla, maar ons is hier besig met taal wat gepraat word.) As Gert nie verstaan nie, omdat hy sekere Engelse woorde nie ken nie, kommunikeer dit nie goed nie. Dit is egter nie die spreker se skuld nie. Die hoorder se onvermoë veroorsaak nie geradbraakte taal nie. Jy kan nie sê iemand wat in perfekte Japannees met jou praat se taal is geradbraak omdat jý nie Japannees ken nie. Jou argument dat Gert nie Engels ken nie, verval dus.
Natuurlik bestaan daar so iets soos geradbraakte Afrikaans. Ek hoor dit soms hier in Durban, veral as ek ’n winkel binnestap en Afrikaans praat en verwag dat ek in Afrikaans bedien word. Ek het dit gister weer ondervind toe ek ’n kajak en toerusting wou koop. Veral toe die kwotasie R27 550 was, tóé moes jy die geradbraakte Afrikaans van die Indi?rverkoopsman hoor.
Geradbraakte taal is nogal handig. Ek kom goed oor die weg in Italië met my geradbraakte Italiaans, en waar ek vashaak, slaan ek oor na gebaretaal, en natuurlik geradbraakte Engels, want wat help dit om Engels grammatikaal korrek te praat met ’n rou Italianer?
Onthou, Jan, ek verdedig fokkol; ek probeer maar net dit wat ek waarneem, verstaan en verklaar.
Groete,
Angus

