Die ui van lewe

  • 2

Wanneer 'n mens iets wil verduidelik, kom vergelykings soms handig te pas. Iets wat minder bekend is, kan vergelyk word met iets wat bekend is. Analogie kan ook nuttig wees om wat abstrak is konkreet voor te stel. 'n Ui word dikwels as voorbeeld gebruik wanneer daar sprake van lae is wat een na die ander afgeskil kan word totdat by die kern uitgekom word. Verskeie skrywers het elk 'n boek met die titel Peeling the onion geskryf, bv Wendy Orr (1999), Günter Grass (2007), Donna M (2010) en Aideen Walsh (2013).

Na analogie van 'n ui kan oor die verskynsel lewe besin word. Lewe omvat nie alles nie, want daar is ook nie-lewende dinge. Maar dit is in die konteks van lewe dat daar by mense en ander lewende dinge sintuiglike waarneming en dus ervaring is. Ervaring kan emosionele (of houdings-) gevolge soos vreugde of smart, deernis of afsydigheid, nostalgie of onverskilligheid, wek. Ook in hierdie opsig is 'n ui 'n toepaslike voorwerp omdat dit 'n maaltyd kan opkikker maar by die voorbereiding trane kan laat vloei.

By lewe kan minstens vier lae in die ui onderskei word.

* "Lewe" is kenmerkend van alles wat buite die sfeer van nie-lewe is. Daar is plante en diere en mense wat lewe. Insgelyks is daar plante en diere en mense wat nie meer lewe nie. Lewe is dus 'n verskynsel wat deur tydelikheid/kortstondigheid gekenmerk word. Te midde van al die nie-lewe is daar die wonder van lewe; dus lewende dinge waaraan ons ons kan verwonder. Lewe is 'n wonder in die sin dat geen wetenskaplike nog die evolusionêre oorgang van nie-lewe na lewe bevredigend kon verklaar nie. Lewis Wolpert, wat in Suid-Afrika gebore is, skryf: "The origin of life remains a mystery - a mystery that will eventually be solved" (How we live and why we die, London: Faber and Faber, 2009, p 215). Wetenskaplikes soek die verklaring in die sintuiglike werklikheid en nie in enige moontlike bonatuurlike sfeer nie. Dit lyk asof lewe nie net wonderlik is nie maar ook kosbaar en as sodanig gekoester behoort te word.

* "Die lewe" verwys na hoe ons as mense omstandighede en gebeure oor die algemeen vanweë sintuiglike waarneming, emosies, denke, ens, ervaar. Die lewe kan as mooi of lelik, lekker of sleg, maklik of moeilik, ens, voorgestel word. Metafories gesproke dui dit op ons wêreldburgerskap.

* "Ons lewe" het te make met hoe ek en diegene waarmee ek assosieer, bv familie en vriende, dink en handel. Die milieu waarin ek lewe het dus 'n kulturele (bv taal-) konteks. Vir my beteken dit bv die trotse uitlewing van my Afrikanerskap. Daar is diegene wat idealisties beweer dat die onderskeid tussen "ons" en "hulle" uitgewis moet word. In die praktyk is dit kwalik moontlik.

* "My lewe" is die kern van die ui. Ek is my venster op die werklikheid en die noodsaaklike sentrum vir my ervaring; nie weens egoïsme nie, maar uit noodsaak; daar is nie 'n alternatief nie. Sodra my lewe beëindig word, stort bogenoemde drie (ons lewe, die lewe en lewe as sodanig) vir my ineen. Dit is wanneer (in die woorde van NP van Wyk Louw) "hierdie helder aarde in ons verdonker word." Daardie "ruggelings stort" is so radikaal soos kan kom, want sowel lewe as die ervaring van nie-lewe word vir die indiwidu/subjek deur die dood uitgewis, soos tewens ook die subjek/self as sodanig. Alle dooies is absoluut gelyk/eenders in onvermoë, in nie-lewe, in nooit-weer-lewe. My lewe is nie 'n kleedrepetisie vir nog 'n lewe (bv na-doods) nie, maar is ononderhandelbaar/meedoënloos/noodwendig eenmalig.

Hierbo het ek geskryf: "Dit lyk asof lewe nie net wonderlik is nie maar ook kosbaar en as sodanig gekoester behoort te word." Dit was die uitgangspunt van Albert Schweitzer (1875-1965) se filosofie van eerbied vir lewe. Naïef en veralgemenend gestel, kom dit op die volgende neer: "Good is what promotes and preserves life. Evil is what destroys and injures life" (James Brabazon, Albert Schweitzer, a biography, New York: Syracuse University Press, 2nd ed, 2000, 576p; Amazon Kindle $13.67, location 4495). Lewe verkry daarmee 'n heiligheid of onaantasbaarheid wat etiese gevolge het. Op grond daarvan kan dus besluit word wat mense behoort te doen of nie moet doen nie. Kwessies soos aborsie en genadedood kan op grond hiervan beoordeel word. Dit kan meer as menselewens betrek omdat 'n sterk saak vir bv vegetarisme uitgemaak kan word.

Schweitzer het sy filosofie deur voorbeeldstelling uitgeleef pleks van dit bloot te propageer. Hy wou hê dat sy lewenswyse sy filosofie moet regverdig. Sy etiek (of gedragsleer) was die fondament van sy beskawings- of kultuurfilosofie (dus sy lewens- en wêreldbeskouing). Naby Lambarene in Gaboen het hy as geneesheer in sy hospitaal dekades lank siekes gesond gemaak. Hy het ook verplig gevoel om 'n vegetariër te word. Sy eerbied vir lewe het nie net mense en diere ingesluit nie. "For Schweitzer even the cutting of a flower or the lopping of a tree were matters for responsible consideration" (Kindle 4517). Toe Schweitzer in 1954 in Oslo was om die Nobel-vredesprys te ontvang, is hy met blomruikers oorlaai, maar hy het geen behae daarin gehad nie. "Bouquets of flowers were banished from his room, because he hated to see flowers wither" (7106).

By Lambarene het Schweitzer spoedig agtergekom dat hy bv malaria-muskiete, spinnekoppe, kakkerlakke, muise, rotte en slange moet bestry as hy leefbare omstandighede wou skep. Die Griekse wysgeer Protagoras (490-420 vC) het eeue gelede reeds tot die insig gekom dat die mens die maatstaf van alles is. Lewe behoort dus net eerbiedig te word in soverre dit in die belang van mense is. "Where life is harmful to other life a choice must be made" (4531). Daar is 'n prioriteitsorde waarvolgens "human life came before animal life" (4561).

In die Wikipedia is daar 'n inskrywing oor "Reverence for life" wat veral na Schweitzer se outobiografiese boek, Out of my life and thought (1933), verwys. asook na James Brabazon (1923-2007) se bogenoemde gesaghebbende biografie. Volgens daardie artikel het Schweitzer die wêreld in sy geheel, dus die nie-lewende en die lewende, aanvaar. Sy filosofie was gegrondves op "an ethical affirmation of the world and of life." "Affirmation of life is the spiritual act by which man ceases to live thoughtlessly and begins to devote himself to his life with reverence in order to give it true value." Dit gee uitdrukking aan sy kultuurfilosofie: "The essential element in civilization is the ethical perfecting of the individual as well as society."

Hoewel Schweitzer veralgemenend geskryf het oor sy "unshakeable conviction that we have no right to inflict suffering and death on another living creature," het hy ook besef dat die praktyk beperkings hierop plaas. "A person is constantly forced to preserve his own life and life in general only at the cost of other life. If he has been touched by the ethic of reverence for life, he injures and destroys life only under a necessity he cannot avoid, and never from thoughtlessness."

Die sambreelterm "liberalis" dui volgens Jonathan Bowen (1962-2012) eintlik maar op "a soft form of communism" (Western civilization bites back, San Francisco: Counter-Currents Publishing, 2014, 238p; Amazon Kindle $7.99, location 1536). Vandaar die DA se alternatiewe benaming: ANC Lite. Schweitzer was in sy politieke denke te konserwatief om 'n liberalis genoem te word. Die sambreelterm "humanis" is eerder op hom van toepassing. Hoe moeilik dit ook al vir 'n humanis is om te erken, is daar nie net plante en diere wat liewer nie moet lewe nie, maar ook mense omdat hulle menselewens bedreig. In my jeug was ek, soos Albert Camus (1913-1960), geneig om teen die doodstraf gekant te wees. Terreurdade in Algerië het Camus aan sy dogmatiese oortuiging laat twyfel. Terreurdade plaaslik en die voortgesette misdaadvlaag het my oortuig dat daar mense is wat liewer nie moet lewe nie; dat die land 'n beter plek kon wees as daar strenger opgetree is.

Dit lyk vir my asof ons net gesonde, bv nie-oordrewe, eerbied vir lewe moet hê. Maar ook vir nie-lewe, want daardie klip wat skynbaar funksieloos daar buite lê, gaan my oorleef in die sin dat hy heel moontlik daar gaan wees lank nadat herinneringe aan my in die vergetelheid verdwyn het.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • C J Langenhoven het ook oor die ui geskryf: Die geheim van goeie gesondheid is om elke dag 'n rou ui te eet. Maar hoe sal 'n mens dit geheim hou?

  • Beste Johannes Comestor,

     
    Vir my bied 'n ui maar net smaaklike toevoeging tot 'n dis sonder om die kalorie-inhoud drasties te vermeerder. Vanweë die groot selle, is 'n ui ook nuttig om die gebruik van 'n mikroskoop vir iemand te leer.
     
    Groete,
    Angus
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top