In ons diverse samelewing is almal, ek inkluis se velle selektief flippen dun. Ek aanvaar daar is baie wat met my sal verskil, maar as iemand van 'n demokrasie in die land praat, leef hy/sy in 'n droom. Op papier, ons word gereeld daaraan herinner, het ons die beste konstitusie in die wêreld. Waaraan word dit gemeet? Ek het al voorheen in briewe geskryf, jy kan enige ou in die land tot onder sy ma se rok invloek, maar wanneer jy hom 'n rassis noem, het jy moeilikheid. Wat my verbaas is dat daar manne in hul glaskantore sit en realiteit met die werklikheid verloor het. Dit is maklik om uitsprake te maak en te kritiseer as die man/vrou op voetsoolvlak enige uitspraak maak. Ek vra dan myself, myself waar kom vryheid van spraak in die konstitusie vandaan. Wie gee die sogenaamde glaskassers die reg om iemand te kritiseer en te verdoem?
Daar is mense wat gevaarlike uitlatings op publieke verhoë maak, maar geen haan sal daaroor kraai nie. Daar word ook maklik en vinnig gesê, jy kan jou op die howe beroep as jy voel jy is te na gekom deur een of ander wetgewing. Moenie my laat lag nie. Probeer 'n saak van onregverige arbeidspraktyke of rassisme teen jou aanhangig maak. Ek is die eerste wat sal om verskoning vra indien daar iemand in persoonlik hoedanigheid dit reg gekry het.
Die ergste van alles, daar is geleerde manne wat die publiek wil voorskryf en skuldig laat voel. Ek wonder of die manne dink almal is onnosel.
Kyk kêrels, hou julle besig met skool-skool speel daar waar julle is, ons kan vir onsself dink. Soos die Ingelse seg, "dream on".
Reusedwerg

