Eendag, nie lank gelede nie, het 'n ou oom in die SêNet-bos geloop. Toe sien hy 'n kabouter wat besig is om op sy rekenaar te tik.
Oom: Kabouter, wat tik jy?
Kabouter: 'n Lang, onverteerde aanhaling.
Oom: Maar is dit relevant?
Kabouter: Ek skryf so baie en die aanhalings is so lank dat min mense hulle lees. Dié wat hulle lees, verloor belangstelling en kom nie agter as 'n aanhaling irrelevant is nie.
Oom: Hoekom skryf jy nie minder en beter nie?
Kabouter: Toe ek op skool was, kon meneer Comestor my skryfwerk nie verduur nie. Hy het gesê ek is anderste. Wanneer die ander kinders opstelle geskryf het, het meneer Comestor gesê ek moet liewer nie probeer nie, want hy gaan my dop. Wanneer ek niks geskryf het nie, het hy vir my 'n deurkompunt gegee. "Ek gee jou die voordeel van die twyfel," het meneer Comestor grootmoedig opgemerk. Hy het gedink ek moet liewer in 'n rekenaarrigting of so iets gaan.
Oom: Wat probeer jy met jou skrywery bewys? Wat dryf jou?
Kabouter: Ek hou daarvan om veral een ou dôner verkeerd te probeer bewys. Ek teken in op 'n e-tydskrif waarin daar boekresensies agter 'n subskripsiegordyn verskyn. As die ou dôner 'n boek bespreek, dan soek ek in die resensie iets om hom mee teë te spreek.
Oom: Die geleerdes sou sê jy is eerder reaktief as proaktief.
Kabouter: Dit is my modus operandi. Hierdie blink frase en feitlik alles wat ek lees en luister ontvang ek via my rekenaar. Die ou dôner het al gesê ek probeer om 'n wandelende Wikipedia te wees.
Oom: Maar lei so 'n modus operandi nie tot fragmentering nie? Jy kan 'n les by Matthew Arnold leer, wat geskryf het: "I am fragments, while you are a whole ... I shall do better some day I hope." Kom ons sê 'n olifant bestaan uit agt dele: 'n slurp, kop, lyf, stert en vier bene. Sonder hierdie dele is daar nie 'n olifant nie. Maar die olifant is nie net hierdie dele nie. Die olifant is hierdie dele saamgevoeg op 'n bepaalde manier. Meer as net dit, want die dele moet op so 'n manier saam funksioneer dat die voorwerp 'n lewende olifant is. As 'n mens se kennis op die naslaan van brokkies inligting op die internet gebaseer is, kan dit sommige besonderhede verhelder. As 'n mens insig in die geheel verlang, is die aangewese weg om substansiële, gesaghebbende werke oor die onderwerp te lees. Hierdie twee benaderings vul mekaar aan.
Kabouter: Dit klink na te veel moeite. Niemand kan bewys dat ek nie 'n boek gelees het nie, want ek verseg om my aan so 'n toets te onderwerp.
Oom: Om op so 'n manier reaktief te wees, lyk vir my na moeilikheid soek. Toe ek in die goeie ou dae op skool was, het ons skoorsoekers gou en goed reggesien. Om hardegat te wees, was nie 'n goeie opsie nie. Ek dink dit is dwaas om te dikwels op die dôner se skrywes te reageer.
Kabouter: Daardie ou dôner het al geskryf dat ek 'n beterweter is. Maar ek aanvaar nie dat mense wat groter en ouer as ek is, beter as ek weet nie. Ek het al genoem dat ek nie eens met my pa klaarkom nie.
Oom: Maar as jy voortgaan om ander mense te minag en jy hulle voortdurend lastig val sonder dat hulle jou lastig val, dus hulle aanhoudend treiter, gaan hulle jou met lelike goed vergelyk.
Kabouter: Daardie ou dôner het my al 'n gatvlieg genoem!
Oom: Ek kan werklikwaar nie aan 'n beter vergelyking dink nie.
Kabouter: Ek hou daarvan om te argumenteer dat SêNet 'n openbare forum is waarop ek kan maak soos ek maak, maar ek hou nie daarvan as die ou dôner hom só verweer nie.
Oom: Daar word gesê 'n mens het twee ore sodat 'n mens goed moet kan hoor; nie net wanneer jy die sluier oulik oplig sodat gewone mense agter die subskripsiegordyn kan loer nie, maar ook wanneer daardie dôner iets skryf. Andersyds het 'n mens een mond sodat jy nie uit twee moet praat nie. (1) 'n Mens moet nie 'n uitdaging aanvaar en dan jou selfopgelegde verantwoordelikheid ontduik nie. (2) 'n Mens moenie sê jy gaan nie weer oor 'n onderwerp skryf en dan hou jy daarna aan en aan om skrywes daaroor te lewer nie. (3) 'n Mens sê nie vir een ou jy het weens siekte lank van die werf weggebly en vir 'n ander ou dit was weens werkdrukte nie. Jou aand- en môrepraatjies moet ooreenstem. Vir my lyk dit asof jy 'n anderste kabouter is.
Kabouter: Ons stem darem oor iets saam. Ek is nie sommer maar net 'n gewone kabouter nie. Ek is Wouter, die kuberkabouter.


Kommentaar
Beste Johannes,
Die metafoor van die olifant met betrekking tot die verstaan van die geheel is uitstekend. Enkele of meervoudige sitate uit partydige koerante en skrifte is nutteloos in die soek na die waarheid.
Om byvoorbeeld in die Israeli/Palestynse debat alleen Joodse en Amerikaanse bronne te kwoteer doen geen doel nie. Die klomp is onder een mus en praat/propageer volgens hulle eie interesse. Wat hierdie posisie betref, is wit Suid-Afrika totaal in die Anglo-Amerikaanse sak, agv die pers wat die land het, en die affiniteit wat van die Afrikaners vir die Jood as uitverkore volk voel, weens sy geloof in die Ou Testament. Hulle sou nie eers geïnteresseerd wees om die regverdigheid van die Palestynse saak te probeer verstaan nie.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Pieter
Net 'n paar regstellings:Jy sê veral wit Afrikaners ondersteun Israel as gevolg van breinspoeling deur Amerikaanse en Joodse propaganda aan die een kant, en aan die ander kant impliseer jy swartes ondersteun die Palestyne en is nie vatbaar vir hulle propaganda nie.
Onder swartes is Inkatha, die ACD en 'n paar ander swart opposisiepartye uitgesproke vir Israel. Sover my kennis strek, het die DA (waar die meeste wittes, veral Afrikaners, te vinde is), geen kant gekies nie, en die ANC is uitgesproke vir die Palestyne.
My persoonlike waarneming van die Afrikaner is dat hy hom glad nie oor die Palestyne/Israeli kwessie skeer nie, behalwe vir 'n paar inteligensia onder hulle, waar ek skat daar 'n 50/50 onderlinge verdeling oor die saak is. Baie Afrikaners onthou hoe die Jode in hierdie land teenoor hulle gestaan het met hulle steun vir die terroriste-organisasies, waarvan soveel Joodse name aktiewe leiding daarin geneem het (Sacks, Kassirils, ens.), en na die oorgang tot demokrasie, die land grootskaals verlaat het.
Met betrekking tot die Palestyne, weens Afrikaners se oorwegende Calvinistiese agtergrond (hetsy intussen na ander kerke oorgegaan, of selfs ateïste geword het soos myself), het hulle 'n natuurlike weersin in die onverdraagsame Islamietiese godsdiens, lewensuitkyk, wredhede, kulturele gebruike en sharia-wetgewing waarvoor die Palestyne strewe.
Pieter. Jy kom uitgesproke anti-Amerikaans, en veral anti-Joods voor in die meeste van jou skrywes. Dit is jou voorreg, maar dan moet jy jou argument logies met feite-stawing, en nie propagandisties voorstel nie om ander tot jou oortuiging te probeer oorreed. Net soos jy, sonder enige stawing, skryf dat Afrikaners deur die Amerikaners en Jode gebreinspoel is, kan daar gesê word dat, weens jou verblyf in Finland, grensend aan Rusland, jy deur kommunisme en die Russe gebreinspoel word, en dit sal ek nie sonder bewyse wil sê nie.
Jy sluit jou brief hierbo af met: "Hulle (Afrikaners oa) sou nie eers geïnteresseerd wees om die regverdigheid van die Palestynse saak te probeer verstaan nie".
Onder 'n aparte briefhoof, sal ek graag wil sien hoe jy die Palestynse saak sal wil regverdig. Jy is welkom om Palestynse bronne te kwoteer om jou saak te stel.
Wouter het verkies om nie onderaan my bostaande kabouterbrief te reageer nie, maar eerder onderaan my skrywe oor "'n Kompetisie oor 'n sin of onsin" (SêNet 29 Julie) en wel op 1 deser. Hy antwoord nie op my verweer (op die 31ste, onderaan my skrywe van 29 Julie) dat ek in my skrywe oor "Die ui van lewe" (SêNet 24 Julie) nêrens beweer dat Albert Schweitzer die doodstraf voorgestaan het nie. Pleks daarvan verskuif Wouter die doodstrafkwessie na Albert Camus.
Feitlik enigeen wat werke deur en oor Camus gelees het, is seker bewus van sy essay oor die guillotine (1957), waarin hy sterk teen die doodstraf standpunt inneem. Hierdie elementêre feit het ek nie ontken nie. Ek noem in my skrywe van 24 Julie pertinent dat Camus "teen die doodstraf gekant" was. Daarna vervolg ek: "Terreurdade in Algerië het Camus aan sy dogmatiese oortuiging laat twyfel." Dit het gebeur veral na die publikasie van sy 1957-essay, wat aan die begin van die oorlog geskryf is. Die Algerynse oorlog (1954-1962) het met verloop van tyd al hoe wreder geword. Kyk bv Alistair Horne se A Savage War of Peace (1977, 608p). Dit het veroorsaak dat sommige van die gebore Algeryn Camus se vroeëre studeerkameroortuigings tot die uiterste beproef is. Maar ek het nie beweer dat Camus heeltemal omgeswaai en later die doodstraf bepleit het nie.
Camus wou hom graag as 'n verligte intellektueel voordoen, maar die situasie van wittes (insluitende sy familielede) in Algerië het Camus telkens verplig om konserwatiewer standpunte in te neem as dié wat toe in die liberale Franse politiek in die mode was. Maar om dit te begryp, moet 'n kitsleser van inligtingsbrokkies, soos Wouter, die moeite doen en die tyd afsonder om 'n omvattende werk soos Herbert Lottman se Camus-biografie (1997, 848p) van voor tot agter met aandag te lees. Ek het dit gedoen en soortgelyk in die geval van Albert Schweitzer gehandel deur James Brabazon se Schweitzer-biografie (2000, 576p) eweneens van voor tot agter met aandag te lees. Eers as Wouter die dissipline ontwikkel het om omvattende, gesaghebbende werke deeglik te lees voordat hy met bewerings kom, sou dit sinvol wees om in gesprek met hom te tree.
Sedert 7 April het ek nie 'n enkele boekbespreking op SêNet gepubliseer nie. Die hoofrede hiervoor is Wouter se periodieke aantygings, wat terugdateer tot 2010, dat ek doelbewus SêNetters mislei. Hy herhaal hierdie aantyging in sy bogenoemde reaksie van 1 deser. Ek ervaar sy beskuldiging as 'n aantasting van my karakter. Ek maak nie op volmaaktheid aanspraak nie. Ek het sekerlik my oortuigings, wat vooroordele kan insluit. Maar ek het, in soverre dit in my vermoë is, probeer om elke keer 'n boekbespreking te lewer wat die uitkoms van deeglike lees- en skryfwerk is. Die meeste van my skrywes het meer as 'n dag se skryfarbeid van my geverg en dit het gevolg na leeswerk wat gewoonlik oor talle dae gestrek het. Soms dink ek dat ek fouteer het om my deur Wouter te laat intimideer. Alle SêNetters is immers nie wouteristies nie.