Die Karoo-spietkop

  • 4

Nou die dag toe ek en mevrou’tjie oor die onlangse klompie skryfgoeters van my gesels, toe merk sy so kwaadsoekerig op: “jy moet nog net iets oor Jorries skryf.” Inderdaad ’n vars gedagte wat ’n ou storie uit die vergetelheid gaan afstof het.

In die dae en maande net voor ek die hemelse voorreg gehad het om Mevrou te ontmoet, haar te omsingel met my verliefdheid en voor die kansel in te messel, het ek by ’n deeltydse skaapboer se dogter die vlerke laat sleep. ’n Nooi van die Fraserburg-omgewing.

As derdejaarstudent het ek my verlustig aan die genotvolle ervaring om hierdie eerstejaartjie aan my sy te verwelkom. As koshuisstudent, uiteraard, het sy ’n naweekkuierplek by die Fritz-gesin gevind en ek, wel ek het ‘n verpligting om die langpad van ontmoeting na haar mense toe te vat, as geskenk gekry.

So sou die langverwagte kuier dan die naweek na Paasnaweek in 1989 wees. Meisie (*), het vir my die pad van Bellville tot op die plaas mooi en in noukeurige bakenbesonderhede verduidelik. Voor sy saam met die geleentheid huis toe is, het ek dit nog neergeskryf ook. Net vir ingeval.

Die Donderdagoggend is my Nissan 1400-bakkie se tenk vol en skuins voor die son die Worcesterberge aan die brandsteek, stoot ek sy neus met die N1-langs binneland toe. My ouers was bietjie beswaard oor die geryery, want boetie was nog nooit so vêr alleen op die pad nie. Maar, die uitdaging was daar en die verliefdheidskole aan die gloei, dus was keer weereens min.

Die pad was eintlik nie te olik besig nie en Worcester, De Doorns en Touwsrivier het stil-stil verbygeglip. Tussen die Nissantjie se padgeraas en die draadloos of kassetspeler, was daar nie veel tyd om aan enige iets anders, behalwe die ingeprente padkaart in my kop te dink nie. Toe ek op Laingsburg my padkos en koeldrank by die Shell-garage uithaal, is daar ’n fyn windjie wat mens net laat weet dat die somer verby is en die herfslug aan die inkom is. Nou weet ek die volgende “dorp” gaan Leeu-Gamka wees; dis hier waar ek sal moet afdraai Fraserburg toe. Dis blykbaar 108km voor Beaufort-Wes.

Inderdaad. Toe ek amper Leeu-Gamka verbyry, sien ek die bordjie en draai af. Nou’s dit 112 km tot op die dorp. Voor ek egter voortvertel, is dit noemenswaardig vir die wat nie geweet het nie: die Nissan 1400 het nie ’n ritmeter nie. Die kilometerlesing gee die totaal, maar daar is nie ’n knoppie om te druk en dan te meet hoe vêr jy die volgende stuk pad ry nie. Nee, dis somme maak. Die kilometers moet nou geneem word en dan moet die afstand wat Meisie gegee het, bygetel word. Elke kort-kort moes ek net loer om te sien of ek al daar is. Want as rekeningkunde student, het ons geglo die waarheid lê in die syfers, nie net in die sien nie!

Ieder geval, die pad en pas tot bo-op die berg was ’n moeilike een; en sê nou net, die dorp is nie daar waar die 112 km merk sê dit moet wees nie? Sê nou haar afstande was nie reg nie? Sê nou ek verdwaal? Gelukkig het ek die Nissantjie op Laingsburg brandstof gegee. Die kommergedagtes was nog aan die kook in my kop, toe Fraserburg hier voor my in die pad kom lê. Ek stop voor ek die dorp inry. Haal weer Meisie se kaart uit en lees dit nog ’n slag – mens wil nie in Fraserburg verdwaal nie!

Stadig ry ek die dorp binne. Dis middagetetyd – maar ek besef dit nie, want deur my kop hardloop net twee gedagtes: die padkaart en ... waar’s die mense? By die stopstraat met die bank op die een hoek en die hotel op die ander en die Toyota-garage (ook toe) op die oorkantse hoek, draai ek regs. Verby die tuisbedryf-blommewinkel op pad dorp-uit. Vanaf die grensdraad buite die dorp is dit 63 km plaas toe.

Die grondpad begin en ek het die somme op die kilometerlesing gemaak. Daarmee saam, moet ek en die Nissan 3 laewaterbruggies oor – ek was toe nog nie heeltemal seker wat vir ’n ding ’n laagwaterbruggie is nie! Maar, ’n ent anderkant ‘n blindedraai, toe is die eerste een daar. Rustig gaan ons dit deur en klim die grondpadbult wat aan die oorkant lê. So halfpad, of soos my somme dit gehad het, deur die 63 km, was die tweede bruggie oor ’n sandstroompie sonder water. Weer die bult op.

Toe die Nissan se neus die derde bruggie oorsteek, toe weet ek: nou’s ons amper daar. Die bult voor my is meer egalig en daar op die knop staan ’n ding wat teen die Weste-middagson amper soos ’n weermaglorrie lyk. Soos ek stadig naderkom, kan ek sien dat dit eintlik net ’n Ford F100-trokbakkie is. Met nog sowat 50 m tot by die Ford, klim daar skielik ’n man met ’n kakie oorjas en ’n hoed uit die bakkie – hy spring tot in die middel van die grondpad en ek skrik my padkos dik in my derm – ’n spietkop! ... in die Karoo?!

Domverstom stop ek die Nissan sommer net daar in die middel van die grondpad. Ek klim eers nie uit nie, tot die man hier na die bestuurdersdeur toe stap ... ”Middag Oom” ...

”Middag. Is jy Hennie?” ... my kop raas en nie een van die klomp gedagtes wil gaan stillê sodat ek kan weet wat ek dink nie. “Is jy Hennie?” vra die man weer.

“Ja, Oom. Ek is Hennie, hoekom vra Oom?”

“Aangename kennis en welkom jong, ek is Meisie se pa. Draai daar voor by die eerste hek in en volg die paadjie huis toe.”

My mond van verbasing het seker vir ure nog oopgehang. Ek kon dit nie kleinkry nie: hoe het die Oom geweet wanneer ek daar sal verbykom? Het hy die heeldag daar op die hoogte gesit en wag?

Later die aand na ’n baie aangename skaaptjops-uit-die-oond-ete, die enjin se afsit en terugstap huis toe oor die donkerste van ’n dooiemaanwerf, het ek uiteindelik vir Meisie gevra: “Hoe het jou pa geweet om my in te wag?”

“Maklik.”

“Ons het geweet jy kom vandag die een-of-andertyd. Toe kry Pa vir die tannie by die haarsalon om te lui wanneer die Kaapse bakkie deur die dorp kom. Miems in die kombuis moes dan haar man laat roep en hy moes dan veldtoe om vir Pa in die onderste kamp te gaan sê dat die tannie laat weet het en hoe laat die lui deurgekom het. So kon Pa jou dan gaan inwag – sodat jy nie die eerste hek verbyry nie!”

Gawe mense, die mense van die Noord-Kaap.

Hennie Fritz

Voetskrif: * Ek laat eers die meisie se naampie uit – netnou is daar ’n paar Karooseuns wat aanstoot wil neem.

  • 4

Kommentaar

  • Mense wat nie op die platteland grootgeword het, of met mense van die platteland al te doene gehad het nie, kan dit nie indink of verstaan nie. Die stories oor plaastelefone is ook legio. Ek dink daar is nog plekke in die land waar dit nog so werk. Mense dra mekaar se belange op die hart en het nog tyd vir mekaar. Ek kom van 'n plattelandse gemeenskap af waar die predikant eendag vir my ma geseg het op die dorp werk dit so. " Telephone, tell a woman, telegraph and tell a family". Die waarnemende skoolhoof wat ons vir een jaar gehad het, het toevallig ook uit die gemeenskap gekom. Hy was een van die merkwaardigste persone wie ek al in my lewe teegekom het. Hy kon jou familie uitrafel deur net na jou te kyk. Hy het gewoonlik vir jou vertel jy is sus en so se kind of kleinkind en hulle het daar geboer en sommer ook na die welstand van die ander familie gevra. Lekker tye.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top